30 Junie 2014

Waar is God in my nood



Face it do not fear it
‘n Vrou is besig om verkrag te word en sy skree heeltyd: “Jesus, Jesus, Jesus”...‘n Man word vermoor terwyl hy roep: “Vader help my”, en as sy familie voor die oop graf staan, verstaan hulle nie hoekom God nie ingetree het nie, hoekom het Hy toegelaat dat marteling en grusame moord op sy kind gebeur het. Dis ons vrese vandag , dis hoe ons lewe is, geen rustigheid, geen kalmte, geen ontspanning meer om ‘n braaivleis vuur nie, want alles het in vrees en angs verander. Nie net dit nie, hoe geniet jy ‘n vakansie by die see as daar soveel gerugte van Tsunami’s is, hoe stap jy deur kalm waters as die kans dat ‘n haai of krokkedil  jou gaan intrek in jou agterkop ingebrand is, hoe waag mens dit buite in die maanlig as jy weet satan se kinders loer om elke hoek en draai.

Vrees, vrees, vrees, hoekom is ons so bang vir alles? Hoekom vrees ons die onbekende?... Ons is bang vir spinnekoppe, donkerte, weerlig, hoogte, pyn, kieme, alleenheid, siekte, om dood te gaan ens. Ons vrese het totaal en al ons vreugde weg kom neem.

Ongelowiges vra; is God bevoeg om hierdie dinge te kan stop? As die antwoord ja is, hoekom doen Hy dit dan nie, as die antwoord nee is dan is Hy glad nie ‘n magtige God nie en dit maak Hom inteendeel onwerklik. En indien God wel bevoeg is maar maar dit nie wil doen nie, maak dit Hom ‘n “jerk”.

Ons menslike vrese in dit wat ons liggaamlik seer kan maak is oorweldigend en indien ons enige trauma beleef dan gooi ons dit voor die deur van God want slegte goed mag en moet nooit met ons gebeur nie veral nie as ons ‘n kind van die Koning is nie en dis die rede hoekom mense God as ‘n monster eerder as ‘n Saligmaker sien.

Hoekom voel dit of God ons verlaat het in tye van nood, hoekom hoor Hy nie ons noodkreet nie, hoekom los Hy my alleen toe ek Hom die nodigste gehad het, waar was die engel beskerming  wat Hy beloof in Ps 91?

Moenie toelaat dat trauma, liggaamlike pyn of vrees jou siel kom doodmaak nie, die dop waarin ons leef is net ‘n tydelike woonplek, as jy sterf in Hom gaan jy Hemel toe en as jou moordenaar of verkragter sterf gaan God hom oordeel. En God sal sorg dat die nodige tugtiging na sy kant toe kom. Hy gee om vir die bose mens ook want Jesus het vir hulle ook gekom, God wil niemand in die hel sien nie, sy bose dade wat hy saai sal hy oes en sy straf sal op hom en sy kinders kom net soos wat dit op enige sondaar kom.
Kyk wat het God alles vir ons kom gee om in ons lewe vreugde te bring. Geniet dit, raak vry, raak weer soos 'n kind en geniet die klein dingetjies in die lewe. Jy weet mos Hy is hier om alle vrese van jou weg te neem. ontspan en GENIET jou lewe. Jy kan nogsteeds bewend en vresend jou omstandighede trompop loop met die wete dat God aan jou sy is. 

HOOR HIER!!!     Jesus self was vreesbevange, Hy het smekend vir Vader gevra om Sy planne te verander sodat Hy nie meer die pad van pyniging hoef te stap nie, Hy het geweet dat erge martelling en vernedering op Hom wag maar nogsteeds het Hy gesê doen U wil en nie wat Ek wil nie!    Dis nie ons menslike natuur (die vrees) wat sonde is nie maar ons optrede en denke rondom dit wat verkeerd is. Jesus as mens was bang, hoekom het Vader toegelaat dat Hy hierdeur moet gaan? Sodat JY nooit weer bang hoef te wees nie, sodat JY niks hoef te vrees nie, soos wat Hy alle sonde op Hom geneem het, het Hy alle vrese ook op  Hom geneem.  Ons hoef niks meer te vrees nie, gee jou oor aan God in tyd van nood, in tyd van grillerige benoudhede gee jou gedagtes totaal oor aan Hom, wat gebeur sal gebeur met Sy toelaatbare wil !! Hy ken vrees, Hy is daardeur en daarom weet Hy hoe om jou heel anderkant uit te kry. Jesus kon Sy vrese aanspreek omdat Hy vrede gehad het, "You cant speak peace if you do not have peace" - Joyce Meyer

Nou is die vraag, as alles God se wil is waarvoor moet ek bid as onheil of vrees op my toesak? Vrees is menslik Hand 27:29 wat self sterk gelowige mense benoud kan maak Luk 9:34, 1 Kon 19:3, Mat8:26 - 14:30, Joh 20:19  Maar God kom bemoedig ons Gen21:17, Hand 18:9, Mat 14:27 (Moenie bang wees nie) en deur engele Luk 1:13,30, Hand 27:24.

As ek bang word sal ek:    
  • Net vertrou Psm 56:4, Psm 27:3 (Bly kalm dan sal Satan van jou wyk)
  • Ek glo in Jesus daarom maak ek staat op Hom Mar 5:36

  • Ek sal dapper wees Deut 31:8

  • Ek sal my vrees onderdruk Psm 23:44

  • Ek sal vashou aan Sy beloftes Jes 43:5

  • Ek sal weet dat Hy teenwoordig is  Joh 6:20, Hand 18:9

  • Hy sal my red Psm 27:1
  • Hy sal tussen beide tree Deut 2:22 – 20:2-3, 2Kron 20:15-17
  • Ek sal gehoorsaam wees sodat ek onder God se guns kan wees 1 Sam 12:20-21

Hoekom word ons so gebombardeer met stories van mense wat om hulp geroep het maar nie gehelp is nie, hoekom hoor ons so min van die kere wat God wel ingegryp het, van die kere wat wonders voor mense se oë gebeur het toe hulle om hulp gesmeek het? Waar is hierdie verhale in die koerante, tydskrifte en webblaaie van hoe God self ingetree het? 
Sal mense nie eerder gevoed word met geloof as hulle oor en oor kan hoor hoe God mense help nie. Sal dit nie beter wees as jou reaksie op die bose is: “As God goeddink om trauma op my lewe te bring en dat Hy toelaat dat die slegte met my gebeur, dan’s dit reg met my. Dat ek nie kwaad sal wees vir Hom nie, maar inteendeel dat dit my eerder nader aan Hom sal bring, soos wat dit vir Job gebring het.” Eric Liddell skryf: “I do not need explanations from God. I simply believe Him and accept whatever comes my way.”

Ps 22 vra Dawid: My God, my God waarom het U my verlaat…. Laat ons eerder die lofgesange hoor van God wat kom help het in vers 22: U het my gebed verhoor! Laat God toe om jou gevegte te veg.

Gaan lees gerus hier waar God kom intree het en mense gehelp het, soek eerder die blye boodskap en deel met ander hoe God Sy hand uitsteek sodat almal die goeie nuus kan hoor.

26 Junie 2014

Jou vrese sal altyd teenwoordig wees in die hel

Vir 'n paar sekondes het ek die hel beleef.
Ek staan langs Jesus en Hy gee 'n tree vorentoe maar daar's niks onder ons nie, ons val in 'n diepte af en met die hoogtevrees waaraan ek ly was die besef dat daar niks onder my voete is nie oorweldigend. Ek begin Jesus smekend aankyk met daardie gevoel wat 'n mens beleef as jy 'n Roller Coaster aan vat, eers gedink aag dis nie so erg nie maar later begin bid dat dit moet stop en toe begin gil nie omdat dit lekker is nie maar omdat ek bang is.... Dit was presies dieselfde vrees wat my hier beetgepak het, Ek het die gevoel gekry ek is besig  om na my dood te val. En toe begin ek bid, Jesus asseblief hierdie vreesgevoel raak te veel, asseblief Jesus hier wil ek nie wees, ek beleef hierdie hoogtevrees gevoel konstant, daar's niks wat dit beter maak nie, daar's niks wat dit stop nie, die vrees bly en bly net teenwoordig.
Wat ek besef hierdeur is, as jy bang is vir spinnekoppe, donkerte, hoogte, klein spasies, wat ookal, jy gaan dit permanent elke oomblik voel en beleef in hierdie plek.

As ons genadiglik weer terug is op moeder aarde sê Hy: "Dit is hoe die mense voel wat in die hel beland, daar sal altyd vrees wees, die hele tyd tot in ewigheid sal vrees hulle beetpak."  

En dan is 'n Wolk voor ons wat 'n vorm van trappe aanneem, ek begin sonder om te dink of te vra die trappe klim, soos wat ek op beweeg staan engele langs die pad, op 'n stadium is ons hoog bo alles en ek kyk af maar geen vrees is in my teenwoordig nie, geen hoogtevrees nie en geen benoudheid nie, Jesus loop reg agter my, Hy klim saam op. As ons bo kom sien ek die hemel, alles is lig, skoon, helder en hemels, wat 'n mooi en gelukkige plek om te wees.


23 Junie 2014

Hoekom ons water vrot

Ek dreig al lank om hierdie met julle te deel, dit kom uit vorige profetiese woord wat ek hier saamvat om te verstaan hoekom ons water in die land in so toestand is. 

  • Niemand sal standhou as hy nie in geloof staan nie.     ...Hoekom het ons geloof vandag so min geword, waar is ons vasstaan in God heen.
  • Sonder leiding en die regte raadgewers kom ‘n volk tot ‘n val.     ....Hoekom laat God toe dat hierdie dinge gebeur?
  • Waarom het die land te gronde gegaan? Omdat die land God se wette verlaat het en agter ander gode aangegaan het.  ....Draai terug SA.... Om net 'n bietjie agtergrond te gee oor waar hierdie vandaan kom: Die wet wat op die land vandag betrekking het, is JESUS CHRISTUS, omdat dit die eerbiediging van die beginsels van goddelike liefde vereis. Ongelukkig is daar Christene wat nie hierdie oorgang na die nuwe bedeling wil maak nie en wat terugval  om die OT wette te onderhou - Hou op om afgod van wette te maak en verstaan dat jy nie meer onder die wet is nie, maar onder God se genade, en dat “Christus die einde is van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo” (Rom. 6:14; 10:4) Die oningeligte Christene wil terug beweeg na die OT wette, omdat dit volgens hulle die samevatting van God se opdragte is. Hulle gaan selfs verder en eerbiedig ook seremoniële wette soos die OT sabbat en Joodse feeste, ten spyte daarvan dat hierdie feeste almal in Christus vervul is en dus in die huidige bedeling uitgedien geraak het (Kol. 2:16-17; Gal. 4:9-11) Alle verwysings na die gebooie van God in die Nuwe Testament vloei slegs uit een basiese gebod voort, en dit is om mekaar lief te hê  - 1 Tim. 1:5-11. Moenie ander gode en ander wette volg nie, volg alleenlik Jesus ons verlosser.
  • Dit is hoekom ons nou wilde als kou en bitter water drink en ons kinders verstrooi word oor die wereld.   
  • Een teregwysing bereik meer by ‘n verstandige mens as 100 houe oor die rug van ‘n dwaas.    ....Mense sien hierdie dinge gebeur maar nogstees glo hul nie.
  • Dwase dink net aan GEWELD. Hulle praat net daaroor, en hoe om moeilikheid te maak. Dit is hoekom ons riviere en kanale se water sleg ruik en opdroog, dit is hoekom ons riete en biesies verlep.   ... Mense sal eerder oplossings vind deur geweld en ophitsing as om dit uit te sorteer met gesprekvoering.

21 Junie 2014

Israel se rol in eindtye

God het Homself met ‘n eed aan Israel verbind 

Esg 20: 5-6 Jy moet vir hulle sê: So sê die Here my God: Die dag toe Ek Israel, die nageslag van Jakob, gekies het en My met ‘n eed aan hulle verbind het, het Ek My aan hulle bekend gemaak in Egipte.  Ek het My met ‘n eed aan hulle verbind en gesê: “Ek, die Here, is julle God”, Ek het My daardie dag met ‘n eed verbind om hulle uit Egipte uit te bring na ‘n land toe wat Ek vir hulle verken het, ‘n land wat oorloop van melk en heuning, ‘n sieraad onder al die lande.  
Gen 17: 7-8 Ek bring ‘n verbond tot stand tussen My en jou en jou nageslag en al hulle geslagte.  Dit is ‘n blywende verbond: Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag.  Ek gee aan jou en jou nageslag die land waar jy as vreemdeling woon, die hele Kanaän, as ‘n blywende besitting, en Ek sal hulle God wees.  
Gen 15:18 Op daardie dag het die Here ‘n verbond gesluit met Abram en vir hom gesê: “Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van Egiptespruit af tot by die Eufraat, die groot rivier;

Die stad Jerusalem is ons Koning se stad

Psm 48:3 mooi, hoog geleë, en ‘n vreugde vir die hele aarde, Sionsberg teen die noorde, die stad van die Groot Koning. 
Mat 5:34-35 Maar Ek sê vir julle: Moet glad nie ‘n eed aflê nie, nie by die hemel nie, want dit is die troon van God; nie by die aarde nie, want dit is die rusplek vir sy voete; nie by Jerusalem nie, want dit is die stad van die Groot Koning.

Die Here sal Jerusalem red en beskerm


Sag 12:9 Daardie dag begin Ek al die nasies uitroei wat vir Jerusalem kom aanval.
Psm 12: 6-8 Maar die Here sê: “Die swakkes word mishandel en die armes kla.  Daarom gryp Ek nou in en gee uitkoms aan die wat daarna smag.”  Daar is niks vals in wat die Here sê nie. Sy woorde is soos silwer wat oor en oor in die oond gesuiwer is.  U, Here, hou oor ons wag.  U sal ons vir altyd teen sulke mense beskerm.  
Joë 3: 1-2 In daardie tyd sal Ek al die nasies bymekaarmaak; dit is die tyd wanneer Ek die lot van Juda en Jerusalem sal verander.  Dan sal Ek die nasies in die Josafatlaagte afbring en daar sal Ek hulle straf omdat hulle my volk, Israel wat aan My behoort, onder die nasies verstrooi het en my land vir hulle gevat het.

Die Here sal Israel beskerm 


Jer 31: 35-36, 25-26 So sê die Here, Hy wat die son bedags laat skyn, die maan en stere beveel om snags te skitter, Hy wat die see onstuimig laat word, wat sy golwe laat druis, wie se Naam Here die Almgtige is: Eers as hierdie dinge uit my teenwoordigheid verdwyn, sê die Here, sal die nageslag van Isrel ophou om vir altyd in my teenwoordigheid ‘n nasie te wees.
Rom 11: 1-2 “Het God dan nie tog sy volk verstoot nie?” sou iemand kon vra.  Beslis nie!  Ek is immers self ook ‘n Israeliet, ‘n afstammeling van Abraham, uit die stam Benjamin.  God het sy volk, wat Hy lank tevore verkies het, nie verstoot nie. Of weet julle nie wat die Skrif sê van Elia nie, hoe hy by God oor Isreal gekla het . 25-26:  Ons staan hier voor ‘n geheimenis, broers, en ek wil hê julle moet weet wat dit is, sodat julle nie te selfversekerd sal wees nie.  Die verharding het oor ‘n deel van Isreal gekom en duur totdat die volle getal uit die heidennasies in die koninkryk ingegaan het, en op hierdie manier sal die hele Israel gered word.  So staan daar geskrywe: “Uit Sion sal die Redder kom, en Hy sal die goddeloosheid van sy volk Jakob verwyder. 

Die verwoeste land sal weer  soos ‘n tuin van Eden word
Groente uit Israel woestyn


Esg 36: 34-35 Die kaalgestroopte land sal bewerk word in plaas daarvan dat dit kaal lê voor die oë van almal wat daar verbygaan.  Hulle sal sê: “Die land was verlate en nou is hy soos die tuin van Eden; die stede het in puin gelê, hulle was verlate en verwoes, en nou is hulle vestingstede met inwoners. 

Jode sal terugkeer en weer net Jesus aanneem

Jer 31:8, 10 Ek laat kom hulle uit die land in die noorde, Ek vergader hulle van die uithoeke van die aarde af: onder hulle is blindes en kreupeles, swanger vrouens en vrouens in kraam. ‘n Groot gemeente sal hiernatoe terugkom.  Hoor die woord van die Here, nasies, vertel dit aan die verste eilande! Julle moet sê: Hy wat vir Isreal verstrooi het, sal hom bymekaarmaak.  Die Here sal hom oppas soos ‘n wagter sy trop skape oppas.
Esg 39: 27-28 Wanneer hulle weer veilig in hulle land woon en vir niemand bang hoef te wees nie, wanneer Ek hulle terugbring onder die nasies uit en hulle bymekaarmaak uit die lande van hulle vyande, sal hulle die vernedering vergeet wat hulle moes ondergaan oor hulle ontrou aan My.  Ek sal My voor die oë van al die nasies deur Israel laat erken as die heilige God.  Hulle sal besef dat Ek die Here hulle God is.  Nadat Ek hulle in ballingskap laat wergvoer het na ander nasies toe, sal Ek hulle weer in hulle land bymekaarbring; niemand sal in ballingskap agterbly nie.
Jer 32: 41 Ek sal dit geniet om goed te doen aan hulle in My trou; met alles wat Ek is, sal Ek hulle weer in die land vestig. 
Sag 12;10 Maar oor die koningshuis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem bring  Ek ‘n gees van welwillendheid en van berou: hulle sal na hom kyk vir wie hulle doodgesteek het en hulle sal oor hom treur soos ‘n mens treur oor ‘n enigste kind, hulle sal oor hom huil soos ‘n mens oor ‘n oudste seun huil.

19200 Jode keer terug na Israel in 2013. Daar word na raming geskat dat 1½ miljoen Jode binne die volgende 10 jaar sal verhuis na Israel. Tans is die Jode oor die wêreld in die moeilikheid as gevolg van vervolging, hulle vlug wel na lande soos Amerika en Australië maar die groter meerderheid vlug terug na Israel, Israel is die enigste land wat mense terugneem met gebreke, wat arm of afhanklik is, dit maak  tans nie vir hulle saak of die mense nie ‘n aanwins vir die land kan wees nie, dit gaan vir hulle uitsluitlik net daaroor om hulle mense terug te neem.  14 Miljoen Jode woon nog buite Israel en as elkeen van hulle terugkeer sal ons, ons Koning op die Olyfberg  sien verskyn.
Sag 14 bevestig dat Jesus sal kom wanneer die Jode terugkeer na Israel en hulle hoofstad Jerusalem onder aanvalle verkeer, maar net voordat die stad val sal God terugkeer na die Berg van Olywe. Hierdie het in alle glorie begin, God se magte engele het in gereedheid gekom vir hierdie slag wat gaan begin. Lees gerus die openbaring ontvang oor Jerusalem , heel onder aan.

Met eindtyd sal Israel in konflik wees soos nog nooit tevore nie (Armagedon)


Jer 30 (God sê aan Jeremia dat hy nie moet verkondig wat God nou aan hom bekend gaan maak nie maar dat hy alles moet neerskyf in ‘n boek, m.a.w. hierdie is vantoepassing op die verre toekoms – op die eindtyd). :7-8 Daar wag ellende! Dit is ‘n vreeslike dag, sonder gelyke. Dit is ‘n tyd van swaarkry vir Jakob, maar hy sal daaruit gered word.  Daardie dag, sê die Here die almagtige, sal Ek die juk van die vyand afgooi van julle nekke af en julle vry maak.  Julle sal nie meer uitlanders dien nie.

As jy Israel seën sal God jou seën 


Num 6: 23-27 Sê vir Aäron en sy seuns: So moet julle sê wanneer julle die Israeliete seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee!  So moet die priester my Naam oor die Israeliete uitroep, en Ek sal hulle seën.

VISIOEN: JERUSALEM, JERUSALEM DIE BEGIN VAN DIE EINDE

Voor ek die visioen met julle deel wil ek net duidelik maak dat ek nog nooit in Jerusalem was nie, ek weet glad nie hoe lyk die omliggende dele of hoe die plekke daar inmekaar pas nie.  Ek het geen kennis van die mensgemaakte strukture of landelike omgewing nie. Dit wat God vir my gebring het, het ek na die tyd gaan opsoek en het verstom gestaan oor hoe die plekke ooreenkom met dit wat ek gesien het in visioen.

ONTVANG OOR TYDPERK VAN 23/03/2014 – 26/04/2014

Ek het vir ‘n baie lang ruk net my rooi mantel met spesiale geleenthede gedra maar vanaand het ek om een of ander rede weer my wit mantel oor my skouers.  Jesus vat my na ‘n fontein toe en ons staan en gesels daar tot ‘n enorme groot Krag engel by ons aansluit.  Jesus is in ‘n baie goeie luim vanaand, kry so die gevoel iets wonderliks wag op ons. 

Ek het al gehoor dat sommige mense vir Jesus as ‘n baie groot God gesien het en op hierdie oomblik kan ek skaars my oë glo toe ek sien waar Hy ewe skielik staan. Hy troon hoog bo-kant my uit, Hy is so groot soos die Krag engel en hier waar ek staan kyk ek teen Sy enkel vas.  Hulle twee staan en gesels vir ‘n hele ruk met mekaar en dan buig Jesus af en tel my op dat ek op Sy voorarm sit wat teen Sy bors gedruk is. 

Ons drie beweeg oor die Aarde tot ons by ‘n plek kom wat baie koppies het, die koppies - of miskien is dit bergreekse wat van hier bo af klein vertoon - is aanmekaar.  So ver as ek kan sien strek hierdie bruin knobbels die verte in, dit lyk droog en klipperig.  Ons gaan staan stil en kyk in ‘n Noordelike rigting.  Ek wonder waar ek is, ek ken glad nie die plek nie maar instinktief weet ek dat Jesus hierdie plek baie goed ken. ( Met latere ondersoek het ek gesien dat ons in Judea was) 
Judea woestyn

Judea berge

Judea Wes van Jerusalem

Ver, ver Noord-oos van ons sak ‘n tweede Krag (Kosmos) engel neer met nog een wat hom volg Noord-wes van ons.  Die laaste een staan met ‘n boek in sy hand en as hy die boek oopmaak bring die engel wat in die Ooste staan ‘n beuel te voorskyn.  Hy sit die beuel teen sy lippe en blaas ‘n klank daaruit wat rillings deur my wese stoot.  Die klank weergalm deur die ruimte en ek wil bars van trots, dis klanke wat mens bly maak dat jy deel van God se Koninkryk is.

Jesus lig Sy hand en wys ek moet Noord kyk.  ‘n Stofwolk raak sigbaar en hoe nader hulle kom, hoe meer duideliker word die prentjie voor my.  Dis strydwaens wat deur engele bestuur word en in een van die voorste waens staan my bewaarengel.  Jesus stap vorentoe as hulle tot stilstand gekom het, en tel my in die wa waar my engel staan. Die perde trippel rond, hulle is gereed vir die stryd, hulle spiere blink en hulle krag wil hulle vanself vorentoe beur maar die engele hou hulle intoom.  Alhoewel daar geen tome of stange aan die perde is nie word hulle beheer deur die engele.

Die perde kry dan van iewers die bevel om vorentoe te beweeg en met krag wat soos ‘n koeël uit ‘n wapen gevuur word spring hulle weg en begin in ‘n Oostelike rigting hardloop.  Die perde se spoed en krag is verstommend as hulle beweeg soos een massa almal op dieselfde missie. Ek staan styf langs my bewaarengel met die wind wat sterk teen my druk, my hare waai  reguit agtertoe en as ek terug kyk sien ek die stofstreep wat ons agter ons los.  Bokant elke wa is nog ‘n engel wat in die lug beweeg wat my laat wonder of dit nie hulle is wat die perde beheer nie? Ek weet nie.

Ek staan in een van die voorste waens maar kom agter dat ons begin spoed verminder sodat daar van die ander waens by ons verby kom, almal begin dan stadiger beweeg tot ons op ‘n drafstap is.  Die middelste wa begin voor ons uit beweeg en as hy so ± 30 meter voor ons is, lig hy sy regter hand met ‘n swaard wat ‘n teken vir almal is om te stop.  As die stof gaan lê kan ek sien dat daar iets op die horison is, dis bitter ver van ons af maar ek kan sien dat iets die lyne van die horison breek.

‘n Krag engel kom staan dan by die voorste wa en tree dan alleen vorentoe en kyk uit vir iets. Ek weet nog steeds nie regtig waar ons is nie, ek ken nie die area nie, dis nie vir my bekend nie maar die hele tyd maal die woord Jerusalem in my gedagtes. 

Die Krag engel kom terug en kniel op sy een been en gesels met die leier engel.  As hulle vir ‘n ruk woorde gewissel het vlieg die Krag engel weg.  Die leier engel klim van sy wa af en kom na ons toe aangestap en as hy begin praat, rammel sy stem soos donderweer, dit weergalm oor die linie en almal luister aandagtig na elke woord wat hy sê, wens so ek kon verstaan wat hy praat.  Hy klim weer op sy wa en almal begin hom volg na die plek op die horison.

As ons nader kom wys die leier engel met sy swaard na die plek toe.  Dis ‘n stad wat voor ons lê, ‘n groot hoë muur is voor ons opgerig met ‘n gebou wat aan die agterkant uitkom wat ‘n ronde goue koepel het.  Jerusalem, Jerusalem spoel die woorde deur my gedagtes.  (Ek was nog nooit bewus van hierdie koepel gebou in Jerusalem nie en sit verbaas om hierdie einste gebou op foto’s te sien).
Koepel op die rots
Stadig begin ons al langs ‘n muur afbeweeg.   Dit voel vir my asof ons in ‘n Noordelike rigting teen die muur beweeg.  Ver voor ons tussen berge trek bondels rook die lug in.  Ons is oppad soontoe na die donker grys wolke en as ons tot stilstand kom ‘n ent  daarvan af sien ek dis vuur wat die rook wolke veroorsaak. 

Die leier engel haal sy wa van die perd af en beweeg alleen met die perd na die vuur toe.  Hy klim af en staan eers rond, klap sy perd op die boud dat hy terug draai na ons toe waar ‘n ander engel weer die perd ophak by die wa. 

Die leier engel staan nou voor die vuur, ek kyk stip na hom om alles in te neem, na ‘n hele lang ruk tree hy binne die vuur in. Ek kan sy rugkant sien wat na ons toe wys maar met wie hy gesels weet ek nie en wat hy daar doen is ook nie vir my duidelik nie.  Hy kom uitgestap met sy swaard nogsteeds in sy hand maar met die verskil dat die swaard nou ‘n brandende vlam is.

Hierdie leier engel moet ‘n Gerub, Seraf of Troon engel wees want instink sê dat hy met God die Vader gesels het en dit is hierdie groep engele wat in die onmiddellike teenwoordigheid van God kan staan.

Hy kom na ons toe aangestap, klim op sy wa en as ons almal hom volg sien ek hoe sy kleredrag verander na die blou gevegsdrag wat die Magte engele dra.  Ons beweeg al om die stad.  ‘n Hoë muur is reg rondom hierdie stad gebou. (Weereens was ek nie bewus van ‘n muur om Jerusalem nie, ek het geweet dat daar ‘n muur is waarteen mense bid maar nooit geweet dat ‘n muur om die ou deel van Jerusalem gebou is nie). So ry ons om die stad tot ons weer by die punt uitgekom het waar ons begin het. 
Muur om ou Jerusalem

Die leier engel klim hier van sy wa af en stap na ‘n middelpunt so ± 50 meter van ons af en ander engele uit die groep sluit by hom aan, hulle hou hul swaarde uit na hom toe en as die swaarde raak spoel die vuur oor na elkeen se swaard.  Hulle kom terug gestap met die brandende wapens in hul hande,ek tel vyf en soos hulle aan kom verander hulle klere ook na die blou gevegsdrag.  Hulle neem weer hul plek in bokant die lug maar net oor die voorste waens.


Groot swaar houtdeure maak regs van ons oop wat lei na die stad. Die leier engel ry eerste in met die heel linkerkantste engel met sy groep wat volg, so volg elke oorhoofse engel met sy gelid tot ons almal  die stad in beweeg het. Ek maak deel uit van die heel laaste groep, drie waens langs mekaar. Die stad is oud,die klippe waarmee die geboue mee gebou is, is vaal bruin van kleur, maar tog so mooi, selfs die strate is van klip gemaak.  So ry ons tot ons by 'n nuwe deel van Jerusalem kom, ek sien geen lewe nêrens nie, geen mense, geen diere, niks wat kan spreek dat daar lewe is nie. Die deel waarin ons nou beweeg het, het teerpaaie, 'n breë dubbel teerpad met straatligte, selfs huisligte brand maar nogsteeds geen teken van lewe nie.


As ons groep om 'n draai kom staan die voorste linie stil, wat voor ons lê voel vir my nie goed nie, ek slaan hoendervleis uit met 'n vrees wat my benoud maak. Die deel waarin ons staan is verlig maar voor  die deel van die leier engel, is dit pik donker, ek voel tasbaar die onheil aan wat broei.


Die leier engel klim van sy wa af en stap vorentoe, met sy swaard in die lug praat hy na die donkerte voor hom. Die verligte deel waarin ons staan is baie groter as die donker deel voor ons, dis een groot enorme verligte Jerusalem, maar die donkerkant spreek van boosheid. Ek kyk stip na die donker en sien dan hoe fakkels binne dit aangesteek word, maar ten spyte daarvan bly daai deel nogsteeds donker. Die fakkelvlamme word meer en meer, dis in groepe wat dit brand.


Ons waens kom in beweging en vorm 'n lang verdedigingslyn voor die donkerte. My bewaarengel laat my gaan sit in die wa maar my nuuskierigheid kry die oorhand oor my vrees. Ek kom op my knieë en kyk oor die rand van die wa.


'n Krag demoon maak sy verskyning op die rand van die donkerte, hy is baie groot met die engel wat omtrent net tot sy knieë kom. Die demoon is uitdagend en vol van homself. Hy sak af en hurk op sy een been, gooi sy kop agter toe en lag uit sy keel uit. Die demoon kan een veeg met sy hand maak en ons almal sal verpletterd wees, maar hy doen dit nie, hoekom val hulle nie aan nie, wonder ek.


Die demoon draai om en stap weer die donkerte in. Dan staan grote Jesus weer langs my met die Krag engel by Hom, Hy tel my op met twee vingers en laat my op Sy hand sit.


Ek wag angstig elke nag om terug te gaan, ek wil die geveg sien, ek wil sien wat verder gaan gebeur, ek wil my vermoedens bevestig, maar dit gebeur nie. Vir nou is dit al wat ek toegelaat word om te sien.


  •  Gaan deursoek die Bybel vir antwoorde, die Heilige Gees sal jou uitbring na dit wat jy oor vrae het, sê God……. Ek vind die antwoord in Sagaria 14. (Die plek waar die finale geveg sal plaasvind)

  • 1-3: Die dag van die Here kom. Wat in jou buitgemaak is, Jerusalem, sal binne in jou verdeel word.  Ek sal al die nasies bymekaarmaak vir ‘n oorlog teen Jerusalem.  Die stad sal ingeneem word, die huise sal geplunder word en die vrouens verkrag word.  Die een helfte van die stad se inwoners sal in ballingskap gaan, maar die ander helfte sal nie uit die stad verwyder word nie.   Daarna sal die Here teen daardie nasies gaan oorlog maak net soos op die dag toe Hy destyds die oorlog gevoer het.   (HIERDIE VEROWERING OOR JERUSALEM WAT OOR TYDPERKE STREK EN JERUSALEM WIL VERNIETIG, DIE HERE SAL HULLE VERNIETIG).

  • 4-5: Daardie dag sal Sy voete op die Olyfberg staan, oos van Jerusalem.  Die Olyfberg sal middeldeur skeur en daar sal ‘n groot kloof van oos na wes ontstaan.  Een helfte van die berg sal na die noorde toe padgee en die ander helfte suide toe.  Julle sal deur die kloof in My berg vlug, want die kloof sal strek tot by Asal.  Julle sal vlug soos julle vir die aardbewing gevlug het in die tyd van koning Ussia van Juda.  Dan sal die Here my God kom, en al die hemelwesens sal by jou wees.  (MAAK JULLE GEREED AS ONS GROTE GOD MET SY VOETE OP DIE OLYFBERG GAAN KOM  STAAN,  SLEGS DIE GELOWIGES SAL DIE OORDEEL ONTVLUG).

  • 6-11: Daardie dag sal daar nie lig wees of koue of ryp nie.  ….. daardie dag sal daar ‘n vars stroom water uit Jerusalem vloei.  Die Here sal Koning wees….. Jerusalem sal ‘n veilige woonplek wees….  Jerusalem sal gelig word daar waar hy nou is, hy sal hoog lê,  (WANNEER EINDTYD NABY IS SAL ALLES ANDERS WORD IN JERUSALEM. NIKS SAL MEER WEES SOOS WAT DIT WAS NIE. GOD SE OORWINNING OOR SY VYANDE IS DIE VOORSPEL TOT DIE GROOT VERANDERINGE WAT GAAN KOM.  NAG EN WINTER SAL VERDWYN, DAAR SAL WATER WEES IN ‘N LAND WAT GEKEN WORD VIR SY DROOGTE. GEEN AFGODSAANBIDDERS, JERUSALEM SAL  GEëER WORD AS DIE STAD VAN GOD EN DIE FOKUSPUNT WORD VAN DIE HELE WêRELD VIR AANBIDDING... LEES OOK OPEN 21)

  • 12-15: Die Here gaan al die volke wat teen Jerusalem oorlog maak, met ‘n groot ramp tref…..     daardie dag sal die Here die mense paniekbevange laat raak ….. Selfs Juda sal teen Jerusalem veg…. Dieselfde ramp wat die mense tref, sal ook die perde tref, die muile, die kamele, die donkies, al die diere wat in die kampe van die vyande is. (TEENOOR DIE SEëNINGE WAT JERUSALEM SE DEEL WORD, STAAN DIE OORDEEL WAT GOD SE VYANDE GAAN TREF.  GOD IS LIEFDE EN HY VERGEWE DIE MENS SE SONDE, MAAR HY IS OOK REGVERDIG EN STRAF DIE SONDE VAN DIE WAT HULLE NIE TOT HOM BEKEER NIE.)

  • 16-19: Al die mense wat oor is uit die volke wat teen Jerusalem opgetrek het, sal jaar na jaar kom om die Koning, die Here die Almagtige, te aanbid en om die huttefees te vier.  Geen volk op aarde wat nie na Jerusalem toe kom om die Koning, die Here die Almagtige, te aanbid nie, sal reën kry nie.  En as die Egiptenaars nie kom nie, sal die Here hulle met dieselfde ramp tref as die ander nasies wat nie kom nie…..Dit sal die straf wees…..( GOD GEE DIE WêRELD KANS OM TOT   BEKERING TE KOM EN HULLE SAL NA JERUSALEM STROOM OM HOM TE AANBID.  ‘N PELGRIMSTOG NA JERUSALEM ALMAL SAL DEEL DAARAAN KAN Hê NIE NET DIE JODE NIE. DIE VOLKE WAT NIE WIL KOM NIE SAL ONDER DIE OORDEEL VAL.)

  •  20-21: ….Elke pot in Jerusalm en Judad sal aan die Here die Almagte gewy wees.  Daardie dag sal daar in die huis van die Here die Almagtige geen handelaar meer wees nie. (IN JERUSALEM SAL ALLES AAN DIE HERE GEWYS WEES EN SAL DIE HELE LEWE EINTLIK ‘N EREDIENS WEES. NUWE HEMEL EN NUWE AARDE) 

Hoekom Jerusalem: Want verskillende gebeure vind plaas in Jerusalem wat die eindtye aandui.  Ons hoop moet op God, wat in beheer is van die wêreld en die geskiedenis, wees. Hierdie plek is so besonders vir God dat wanneer die oordeel gefel is, ons almal saam in die nuwe Jerusalem sal leef.  Op 3:12 en Op 21:

20 Junie 2014

Laat ons vashou aan hoop

Jy en Jesus stap saam in suiwer skoon lug, ‘n duif kom sit op Sy een hand en ‘n arend op die ander hand. Die duif is vir jou die teken van die Heilige Gees se nabyheid met jou hoopvolle verwagtinge wat Hy volbring en die arend simboliseer jou bereidwillig om God se opdragte uit te voer, om die werk gedoen te kry wat God van jou verwag. Laat hierdie voëls saam werk in jou lewe, laat hulle saam vlieg om God se werk op aarde in eenheid met jou deur te voer.

'n Beroemde Noorweegse ontdekker Roald Amundsen, die eerste persoon om die Noord en Suid Pool te ontdek het op een van sy reise ’n posduif saam met hom geneem. Toe hy die Noordpool bereik, het hy die duif uit sy hok vrygelaat. Verbeel jou die vreugde wat Amundsen se vrou in Noorweë beleef het toe die duif bo haar huis sirkel en land. Sy het geweet haar man lewe!  Sy is getroos deur die teenwoordigheid van die duif!  Net so was dit toe Jesus opgevaar het na die hemel. Hy was weg, maar die dissipels het vasgehou aan Sy belofte om vir hulle die Heilige Gees te stuur. Ons hou vas vandag aan HOOP dat dinge beter sal word in ons land.

LUISTER na die reën wat God op jou lewe bring, moenie dat dit jou bedruk maak nie maar word eerder bewus van die vrolikheid, die vreugde, die vriendelikheid en die passie wat God wil hê jy moet uitleef om jou lewe ten volle te kan geniet, dis wat Hy vir jou ingedagte het en dis hoe Hy oor jou voel.
PROE die soetheid van God se vrug, 'n geskenk aan jou, Hy wil dat jy die vrug van liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing moet toepas, sodat jy Sy oorvloedige seëninge kan beleef.
RUIK dit wat God vir jou in gedagte het, julle stap saam deur die tuin van God en geniet saam die geur van Sy Koningskap, Heerskappy en Skepping tot in einde van dae. Dis wat Hy vir jou beplan want jy behoort aan Hom.
SIEN die mooi dinge in die lewe raak, moenie altyd net die slegte raak sien nie maar sien dit raak wat God bedoel het ons moet geniet op Aarde, laat die Heilige Gees toe om die bereidwilligheid soos 'n Arend in jou los te maak.

16 Junie 2014

Oorstromings 4/11/11

Ek en Jesus stap in donkerte (wat onsekere, moeilike tye voorspel) deur vlak water en dan begin die water opstoot. Ons is later heeltemal ver onder die water, Jesus trek my nader en hou my vas as die strome sterker oor ons beweeg. Meubelstukke, karwrakke en dooie diere swiep by ons verby. Hierdie oorstromings is veral in Pretoria area baie erg.

God kom waarsku ons altyd voordat sulke goed gebeur sodat ons, ons geestelik hierop kan voorberei en nou al kan begin bid vir Sy beskerming MAAR julle sien die bemoedigings wat Hy vir ons elke week kom gee. Hy beloof dat dinge vir ons gaan kom verander en so beloof Hy ook hier dat Hy alles weer vir ons nuut sal kom maak. Staan sterk in hierdie beproewing/tugtiging, moenie ophou bid vir beskerming en genade nie en Hy sal ons hierdeur ook kom help.

13 Junie 2014

Mynstakings •Rustenburg •Lonmin



Wanneer die mens se gewone sekuriteite onder hom begin wegkalwe word hulle vatbaar vir die boodskap van die Here. Die tonnel van moedeloosheid word dan die poort tot nuwe lewe.

Vandat ons al hierdie dinge oor julle gehoor het, bid ons aanmekaar vir julle.  Ons vra dat God vir julle al die kennis sal gee wat julle nodig het om reg te leef.  Mag die Heilige Gees julle duidelik wys hoe julle moet leef.  Dan behoort julle mos nie te twyfel oor wat presies God van julle wil hê nie.  En as julle weet wat om te doen en dit doen, sal die Here trots wees op julle en tevrede voel oor hoe julle leef.  Mag alles wat julle doen vir julle goeie vrugte dra en julle meer van God se plan vir julle lewe laat verstaan.  God is die Een wat oor Goddelike mag beskik.  Mag Sy krag julle krag word sodat julle glad nie ongeduldig word en begin moed verloor nie.  Nee, staan vas en hou moed!  Kol 1:9-11

15 Dae se vasting het God die volgende gegee om met julle te deel. Hy het die sonde, die beproewing, die bemoediging en herstel vir die toekoms gebring. 


  • Dag 1: Jer 13:11 Soos 'n gordel stewig vas is om die lyf van 'n man, so het Ek al die mense van Israel en Juda aan My vasgemaak, se die Here. Hulle MOES my volk wees, hulle MOES lewe tot my roem en eer en 'n sieraad vir My wees, maar hulle het nie geluister nie. ...... SONDE



  • Dag 2: Hab 1:8 Hulle perde is vinniger as luiperds, vuriger as honger wolwe. Hulle ruiters kom aan op 'n galop, hulle kom van ver af, hulle vlieg soos arende wat op hulle prooi neerskiet. ... SONDE (Hierdie mense wat die moeilikheid veroorsaak het steur hulle net aan hulle eie verowering. Niemand sal kan staande bly teen hulle nie, julle klagtes sal nie die probleem oplos nie maar net vererger. Hierdie dwase mense verafgod hulleself, hulle ken My nie.) God het hierdie toegelaat om te gebeur.



  • Dag 3: Gal 3:10 Maar almal wat staat maak op die onderhouding van die wet, val onder die vloek, want daar staan geskrywe: "Daar rus 'n vloek op elkeen wat nie stiptelik alles doen wat in die boek van die wet geskrywe staan nie." .... SONDE (Hierdeur wil God vir ons sê dat mense glo dat hulle hul getrouheid bring deur aan wette te kleef en nie deur aan die Here se maatstaf nie. As jou gesteldheid voor God dus moet afhang van hoe goed jy wette onderhou, is jy tot die ewige dood gedoem. Net Christus kan jou loskoop van die vloek van die wet en jou geloof is vir jou 'n bewys dat Hy dit gedoen het.)... God se hand druk swaar op ons land omdat daar 'n skrikwekkende, skokkende toename mense terug beweeg na die ou wettiese gebruike en Jesus heeltemal uit hul evangelie haal.



  • Dag 4: Hoekom raak julle nie stil voor My nie, hoekom leer julle nie My Woord ken nie, hoekom lees en bestudeer julle nie die Bybel nie. In Mat 4:4 kan ons sien dat Jesus die Bybel ken en dat Hy dit gebruik om Satan van Hom af weg te stuur. As dit vir Jesus nodig was om die Woord te ken hoeveel te meer is dit nie nodig vir julle nie. Kom word stil voor My en gesels met My, laat ons vriendskap en liefde vir mekaar so groei, kom leer My ken uit die Woord uit! ..... SONDE.



  • Dag 5: Hos 2:11 Ek gaan haar wingerde en haar vyebome verwoes, die dinge waarvan sy sê: "Dit is my beloning wat my minnaars my gee vir my dienste." Ek gaan dit 'n boskasie maak en die wilde diere sal dit opvreet. .... SONDE (Rampe en ellendes moet gesien word as middele waardeur God met ons werk. Daardeur wil Hy ons tot besinning bring, wil Hy hê dat ons ons lewens opnuut in oënskou neem. Solank dit goed gaan met die mens is hy geneig om God te "vergeet", sy dinge te doen soos hy wil sonder om te dink oor God se betrokkenheid daarin. Dis wanneer die mense se gewone sekuriteite onder hom begin wegkalwe dat hulle vatbaar word vir die boodskap van die Here. Die tonnel van moedeloosheid word dan die poort tot nuwe lewe.



  • Dag 6: Hab 3:11 Toe U vlieënde pyle blits en U blink spies flikker, het die son en die maan gaan stilstaan op hulle plek. .....OPBOUING (God tree aktief toe tot die stryd, met sy wapens gereed vir die oorlog. God tree toe tot die chaos wat dreig om ons land te oorweldig. God self sal teen dit optree, dit sal nie stand hou nie) - Dankie Vader maar mag U toetrede spoedig geskied.



  • Dag 7: Gal 4:7 Jy is dus nie meer 'n slaaf nie; jy is nou 'n kind van God. en omdat jy Sy kind is, het God jou ook Sy erfgenaam gemaak. ....OPBOUING (Ons as mense is nie in staat om wette te kan onderhou nie want ons oortree en as ons leef om in God se goeie boekies te kom net deur moets en moenies faal ons gruwelik. Ons is nie slawe wat godsdienstige reëls moet volg om vryspraak te kry nie. Christus is die enigste een wat die wet vervolmaak het, Hy kom gee hierdie vryheid aan ons. Jy behoort aan God, Jy is Sy erfgenaam, moet dat niemand jou beroof van dit nie)



  • Dag 8: Ps 78:6 Sodat die volgende geslag dit kan weet en die kinders wat nog gebore sal word, dit weer aan hulle kinders kan vertel .....OPBOUING (Wanneer God herstel vir elkeen van Sy kinders gaan kom bring moet die mense dit aan hulle kinders vertel, geslag na geslag sodat elke geslag in staat gestel kan word om aan God gehoorsaam te wees en op Hom te hoop. Moenie dat ons kinders dieselfde foute as ons en ons voorgeslagte maak nie.)



  • Dag 9: Jes 19:7 Die waterplante langs die Nyl by die Nylmond. Alles wat langs die Nyl gesaai is, sal verdroog, dit sal wegwaai en verdwyn. OPBOUING (Die mense wat die ellende veroorsaak het sal tevergeefs planne maak, hulle sit nou en slinkse planne uitdink maar God is in beheer en sal sorg dat hulle bose planne sal opdroog en dit wat hulle wil saai SAL  wegwaai en verdwyn)



  • Dag 10: Job 21:4 My klag is nie teen mense nie. Waarom mag ek dan nie ongeduldig word nie? .... OPBOUING (God verstaan dat beproewings moeilik is, Hy verstaan dat ons kla oor ons lot, Hy verstaan ons ongeduld. Slegte dinge gebeur ook met goeie mense maar God kyk na ons harte. Al is jou ellende net so erg soos Job sin moet jy altyd onthou dat jou reaksie daarop duidelik aantoon wat jou gesindheid teenoor God is. Moenie kwaad word nie want God bly in beheer en hou aan om op Hom te vertrou hoe swaar jou omstandighede ook al mag wees.)



  • Dag 11: Hab 2:6 Dieselfde volke sal spotliedjies oor hom sing en met minagting na hom verwys. Hulle sal sê: Ellende wag vir hom wat hom verryk met goed wat nie syne is nie, wat vir hom al meer goed inpalm wat verpand is. Hoe lank sal dit nog voortduur? ..... (Die mense wat hierdie ellende gebring het is vermetel, hulle wil hulself verhef, hulle optredes is onaanvaarbaar, hulle is magshonger en dit sal hulle einde beteken. Van dit wat in Rustenburg aangaan is die vraag aan watter kant skaar jy jou? Is jy deel van die sondige mensdom wat hulle teen God en Sy heerskappy verhef? Dan stuur jy af op ondergang! OF is jy God se kind wat onwrikbaar op Hom vertrou as alle sekuriteit rondom jou intuimel? Dan sal jy leef!!!



  • Dag 12: Mal 2:10 Ons het tog almal een Vader, ons is tog deur een God geskep! Waarom is die een dan ontrou aan die ander en ontwy hulle die verbond van God met ons voorvaders? SONDE .... (Gebroke verhoudings met God en met ander. Wees getrou aan mekaar. Dis belangrik om 'n verhouding met God te hê vir gesonde verhouding met jou geliefdes en medemens.)



  • Dag 13: Lev 13:5 Op die sewende dag moet die priester die persoon weer ondersoek. As daar na die priester se mening geen verandering ingetree het nie en die ontsteking het nie versprei in die vel nie, moet hy die persoon nog 'n week afsonder. HERSTEL ..... (Laat ons Hoë Priester Jesus jou ondersoek, hoe gaan Hy jou vind? Sal daar verandering wees in jou na jou ellende, gaan daar verbetering intree en gaan Hy jou kans gee om volkome te herstel. Het jy afsondering nodig om te besin? Het jy tyd nodig om te besef waaroor al hierdie dinge met jou gebeur?. Laat God toe om jou te kom ondersoek en gesond te maak. Liggaam, siel en Gees.)



  • Dag 14: Job 17:10 Al kom julle almal elke keer weer terug, kry ek nie een onder julle wat verstandig is nie. OPBOUING .... (Ken jy regtig jou vriende, waar is hulle in jou swaarkry. Is jou vriende wys en vol Goddelike insig. Wyse vriende sal weet dat wysheid van God af kom en hulle sal nie van Hom afdwaal nie. Hulle sal jou versterk, help en optel in jou ellende, kies vriende verstandig.)



  • Dag 15: Gal 1:19 Van die ander apostels het ek niemand ontmoet nie behalwe Jakobus die broer van die Here. OPBOUING .... (Paulus het nie een van Jesus se dissipels geken nie behalwe Jakobus wat hy ontmoet het, maw Paulus het niks geleer by mense of dissipels van Jesus nie dit wat hy geleer en verkondig het, het alles suiwer van God gekom. Die Heilig Gees was Paulus se leermeester. Wie leer jou die dinge van die Gees, wie bring vir jou wysheid, kennis en insig. Hoe gaan jy staande bly in hierdie ellende met dit wat God jou geleer het. Of gaan jy in hierdie tyd van swaarkry kyk na wat ander se siening is. Moenie jou hoop vestig op geleerdes, predikers of ander gelowiges nie maar vestig dit suiwer op wat God JOU GELEER HET EN WAT GOD VAN JOU VERWAG, so sal jy die toekoms kan ingaan met hoop, blydskap en goeie verwagtinge!!!)


Wat ‘n ramp of ellende is kan omgeskep word in hoop en goeie verwagtinge vir die toekoms as mense net hulle hande hou in Jesus Christus sin. Voor elke mens lê daar nou ‘n nuwe pad om te stap, voor elkeen staan ‘n deur wat wag om oop gemaak te word, nuwe beginne, nuwe verwagtinge en nuwe vooruitsigte, hoe opgewonde is dit om te weet dat as ons vertroue in die Lewende God gestel is het ons niks het om te vrees nie. Die vraag is gaan jy toelaat dat God jou herstel en optel of gaan jy bly lê en toelaat dat die doel wat Satan beplan het jou lewe vir ewig verwoes?