Openbarings oor Engele

God se woonplek
EK SIEN GOD SE WOONPLEK
Ek bevind myself in die Hemel, met my bewaarengel aan my sy. Ons stap in ‘n tuinpaadjie af en gaan sit by ‘n marmer spuitfontein. Ek maak my oë toe en vou my hande voor my gesig in. Vir ‘n hele ruk sit ek so en laat myself toe om die dag se gebeure te sorteer. Nogsteeds kop onderste bo gaan my oë oop en ek sien Jesus se voete voor my en soos iets wat jy geen beheer oor het nie, vul Sy liefde my wese. Ek kyk op, Hy staan hier voor my in Sy wit kleed met die blou skouerband oor Sy bors. As Hy hierdie aan het weet ek iets spesiaal wag op ons. Hy steek Sy hand na my toe uit en saam stap ons die paadjie af soos wat ek en my engel ingekom het. Twee ander engele stap voor ons uit en ons volg hulle vir ‘n hele ruk langs groen tuine op dik sagte gras. Die paadjie word breër en soos ons aan stap na ‘n heuwel toe sien ek ‘n skare engele voor my, almal in wit geklee met hul rûens na ons toe. Reuse engele en klein engele, vlerkengele en vlerklose engele, almal bymekaar. Ek kan nie glo wat ek sien nie, nog nooit in my menswees het ek so baie wesens bymekaar gesien nie.
Dan het ek ewe skielik geen beheer oor my liggaam nie, ek word soos ‘n magneet getrek. Die blou mantel wat oor my skouers hang se kappie verberg baie van my sig maar ek voel dat ons tot stilstand gekom het iewers tussen die engele, al wat ek sien is my voete.  Ek sien hoe engele voor ons uittree. Ek sien Jesus se agterkant ek raak dan bewus hoe ons sweef oor die gras totdat Jesus langs my kniel, ek volg Sy voorbeeld. Ek besef dat dit waarna almal kyk nie vir my oë bedoel is nie en dat ons Vader Sy verskyning gemaak het, dat ek nie waardig is om Hom van aangesig tot aangesig te mag sien nie.  So sit ek totdat Jesus Sy hand voor my oë inskuif en as ons opstaan word ek omgedraai met my kappie nou afgehaal sodat ek weer alles kan sien. Die skares engele is besig om uitmekaar te beweeg, massas, massas, massas engele, sover as my oog kan sien is daar net engele. Wat vir my opvallend is, is dat hulle gedrag baie soos die van mense is. Hulle staan gemaklik met mekaar in groepies en gesels. Geen spesiale aandag word aan my gegee of afgestaan nie dis asof ek maar net iemand is wat vir ‘n oomblik in hul midde ingebring is. Ek is glad nie vreemd vir hulle nie maar ervaar ook dat hulle heeltemal bewus is dat ek in hulle teenwoordigheid is.
Engele het persoonlikheid
 ENGELE HET PERSOONLIKHEID

‘n Hele paar dae het verby gegaan voordat Jesus my weer teruggebring het na hierdie spesifiek plek.  Ons staan voor die spuitfontein en kyk oor die horison uit.  Ek sien dat daar woellinge aan die gebeur is maar kan nie eien wat presies dit is nie. Ons begin stap in daardie rigting, maar soos ons nader kom is my kappie weer oor my kop getrek, ek kan nie my kop hoog genoeg opgetel kry om te kan sien wat aan die gebeur is nie, al wat ek sien is die gras en my voete. Jesus vat my aan die skouer en draai my na Hom toe, Hy druk my teen Sy bors: “Jy moet nog nie kan sien wat hier aan die gebeur is nie”, sê Hy met ‘n glimlag.

Die volgende aand is ons op presies dieselfde plek en my hart smeek om meer te kan sien, ek word nie teleurgestel as ek weer hierdie skare engele voor ons sien nie. Ons is weer geklee in ons blou, ek met my mantel en Jesus met Sy skouerband, maar hierdie keer het Jesus ‘n kroon ook op, nie ‘n spoggerige sierlike kroon nie, is net ‘n plein, klein goue kroon. As ons so deur die engele stap wat voor ons ‘n paadjie oop maak, noem ek in ‘n ligte luim vir Hom: “Jesus, ek voel soos ‘n prinses”.  Hy laat nie op Hom wag nie en begin waai soos wat ‘n aardse koning sal maak as hy deur sy onderdane beweeg. Ek bars uit van die lag en speel saam, ewe vermakerig gooi ek my hand in die lug en gooi ‘n koningin wuif. Engele wat om ons staan is gou deel van die pret en buig en waai spelerig terug. My beskermengel gryp my mantel agter en loop bors uitgestoot met dit in die lug asof ek nou ‘n vreeslik belangrike persoon is. Soos ek giggel vir die hele petalje besef ek wat God hierdeur vir my wil kom sê. 

Engele is geskape met persoonlikheid, hulle het net so goeie sin vir humor as wat ons op aarde het. Die beeld wat ons in die Bybel van hulle kry is dat hulle streng, koud en afsydig of ook vreesaanjaend kan wees maar hier het ek ‘n kant van hulle gesien waar hulle uitgebeeld word heeltemal anders as wat mens hulle sal voorstel, ‘n bewys dat hulle geskape is met ‘n wil, met emosie, met liefde, met gevoelens en beslis ook met humor. Hoe wonderlik is dit om te weet dat ons eendag in die Hiernamaals ons lewe saam met hulle gaan sluit.

Kosmos of krag engele



KOSMOS OF KRAG ENGELE
Ons staan nou in die woelinge wat ek vroeër van ‘n afstand gesien het.  Ek vergaap my aan die groot, kilometer lange engele, hierdie wesens is so groot dat dit vir my moeilik is om hulle hoogte te kan bepaal.  Jesus roep ‘n engel met vlerke nader, hy kom aangedraf, buig eerbiedig voor Jesus en luister na Hom, dan kom hy na my toe aangestap, sonder ‘n woord tel hy my op en groet my met die mooiste glimlag, iets wat my, my lewe lank sal bybly. Hy vlieg met my die lug in tot omtrent boomtop hoogte.  Dis hier hoog bow at ek bewus raak van die enorme hoeveelheid engele wat hier teenwoordig is, ek snak behoorlik na my asem, nou besef ek wat word bedoel met ontelbaar. Ek vra vir die engel by my: “Is hierdie miljoene, biljoene of triljoene”. Hy wys drie vingers wat my laat aflei dat hy antwoord triljoene en almal is in wit geklee.

So tussen deur my verbasing en bewondering raak my hand agter aan die engel se vlerk, dis presies soos voëlvlerke, sag en buigbaar. As hy my neersit stap Jesus met my na een van die groot engele toe, hulle lengtes verskil. As ek opkyk is hierdie een se gesig vir my verbloem, Jesus trap met Sy voet vyf keer langs hierdie spesifieke engel sin om vir my net ‘n idee te gee hoe groot van hulle is, en Jesus het nie klein voete nie. Maar tog is daar van hulle wat nog groter vertoon al wat ek sien, as ek na hulle kyk is hierdie groot wesens wat so hoog staan dat ek nie die einde van hulle kan bepaal nie.  Die groot engel buk af en sit gehurk om Jesus beter te bedien. Hy hou sy hand uit en ek en Jesus klim daarop.  Ons kyk oor al die massas wat voor ons staan en dan vlieg hy met ons die heelal in. Ons beweeg tussen planete en sterre. Die uitspansel lê voor ons uitgestrek, dis mooi om die kleure en vorms van hier te sien, hierdie engel se speelveld is die uitspansel.  Hy beweeg hier rond asof dit is waarvoor hy gemaak is, asof dit sy werk is om elke dag hier wag te hou, hier te werk, hier ere aan God te gee en toesig te hou oor die kosmos.  Dan bring hy ons terug tot in my huis in en dis hier waar ek besef dat hierdie engel een van die engele is wat in Openbaring 10 beskryf word.
Migael, Jesus se regterhand
 EK ONTMOET VIR MIGAEL
Ons staan weer tussen die die engele. Jesus laat my toe om op Sy voet te klim sodat ons vinniger beweeg deur die engele tot omtrent in die middel. Ek gaan staan eenkant en sien dat al die engele se oë op Jesus gevestig is.  Langs Hom staan ‘n engel met vlerke. Die oomblik toe ek die engel sien voel ek die respek aan wat hy afdwing, is asof dit vanself kom, sy hele wese dwing gesag af. Grootheid, eerbied en waardigheid straal uit hom uit, ‘n krag wat onbeskryflik sterk is. As jy na hom kyk besef jy onmiddellik dat jy te doen het met ‘n waardige Goddelike wese.  Hy begin te praat in ‘n taal wat ek nie verstaan nie maar elke engel staan vasgenael na hom en luister. Dis verseker Jesus se regterhand hierdie dink ek by myself.  Doodste stilte heers, nie ‘n geluid kom van enige engel af nie.  Ek buk oor en fluister in my beskermsengel se oor: “Daardie engel beweeg darem sy vlerke baie”. My bewaarengel kyk vinnig in my rigting en sit sy vinger op sy mond om vir my te wys dat ek nie moet praat nie. As ek in die oë van die hoofengel kyk val my glimlag soos die spoed van lig van my mond af.  Hy kyk na my asof hy met een beweging die lug uit my longe vir ewig sal kan wegvee. My bene raak letterlik lam, ewe skielik is die snaaks nou verby. Ek beleef ‘n Daniël oomblik en dit voel of ek van vrees net wil neerval. Ek besef dat geen wese op Aarde met hierdie engel swaarde wil kruis nie, niemand sal ooit aan sy verkeerde kant wil staan nie.
In stilte staan ek en wag dat die verrigtinge moet oorgaan en as hy klaar gepraat het skree die hele gros engele almal een woord, wat vir my klink soos “Jaom”, dit weergalm soos donderweer deur die Hemel. Drie maal herhaal hulle hierdie woord.
Jesus praat nou met die hoofengel, ek loop na Hom toe maar versteek myself agter Sy rug, hou my maar eerder nederig. Dan trek Jesus my om, na vore, en sê: “Ek wil jou voorstel aan Migael”. Met die noem van sy naam rys my hare en besef ek met wie ek te doen gekry het, hy steek sy hand na my toe uit en groet beleefd. Sy hare vertoon kartelsag en swart tot op sy skouers, ‘n sterk kakebeen met ‘n mooi en fors geboude liggaam onder sy wit kleed.  Hy bly streng maar tog het hy ‘n vriendelikheid wat ‘n mens aangenaam vul. Wat ‘n voorreg om hom te kon ontmoet.
Agter hom staan twee engele, my selfvertroue is in alle glorie terug as ek hulle sien, Migael vlieg weg en ek staan voor die twee engele. “Vir julle ken ek, dit was julle wat jare gelede saam met Jesus in ‘n droom aan my verskyn het. Julle geaardheid is nog net soos toe, stil, eerbiedig maar tog streng. En…. julle twee lyk presies dieselfde.” Hulle antwoord nie, maar groet my met ‘n buiging in vriendelike opregtheid. Hulle praat nie, draai om en val in ‘n ry waar ander engele in ‘n blokformasie staan, ‘n hele paar honderd duisend engele sal ek skat.  Almal lyk presies dieselfde, almal met swart hare wat agter toe “gekam” is. In een stem skree hulle weer “Jaom”
Sommige engele het rooi oe

ENGELE MET ROOI Oë
Regs van my is ‘n sirkelvormige, wit marmer blok, omtrent ‘n rugbyveld grootte, ± 1 meter hoog. In die middel hiervan staan God se troon en in ‘n halfmaan om hierdie troon op die rand van die struktuur staan engele.  Hulle het elkeen ‘n goue borsharnas aan met ‘n swaard in hulle hande waarvan die punt van die swaard op die marmer vloer voor hulle rus.  Ek staan stip en kyk na die een naaste aan my, as ek in sy oë kyk sien ek dat dit rooi gloei.  Vir ‘n oomblik beleef ek myself deur sy oë, alles is rooi waarna hulle kyk, soos laserstrale, kry amper die gevoel is soos wat diere met nagsig kan sien, vir my wys dit net dat daar geen plek is wat hulle nie kan deurkyk nie, geen vorm, beeld of materie is vir hulle ondeursigtig nie en hierdie unieke oë is ook gemaak sodat hulle God se onvoorsienigheid (vir die mens) sowel as voorsienigheid van God (dit wat in die toekoms lê) kan bepaal.
Daniël het ook een van hierdie engele gesien in Dan 10:6

Engele met swaarde of stawwe
 HOEKOM DRA ENGELE SWAARDE OF STAWWE
Nogsteeds vasgenael voor die engel en soekend, alles wat ek sien wil ek inneem, my ore tel nie geluide op nie maar tog verstaan ek elke ding wat vir my verduidelik word. My vel tel sensitiwiteit op en kan gevoelens bepaal, my mond praat baie alhoewel ons nie dieselfde taal praat nie maar tog verstaan ek hulle.  As ek so kyk na die engele met swaarde sien ek ander met stawwe, elkeen se staf verskil, is dit soos hul persoonlike smaak verskil of is dit afhangende van die taak wat hulle moet verrig, wonder ek? Party stawwe is uitgekerf, ander is eenvoudig soos wat jy sal kry in die ou sprokies veewagter verhale.

Ek raak bewus van Jesus wat hier langs my staan, Hy sien die vrae wat ek het en antwoord my deur die Heilige Gees wat my gedagtes terugvoer na die keer toe my bewaarengel sy staf ontvang het.  Jesus het die staf aan my oorhandig en Hy het dit terug geneem en dit vir die engel gegee waarvan hy toe die houer geword het daarvan. Van die dag wat hy hierdie staf in ontvangs geneem het, het ek hom nog nooit weer daarsonder gesien nie. Dit is soos ‘n tipe van driemanskap tussen ons - God, die engel en ek. Die swaarde is vir beskerming en die staf wonder ek, wat is die rede vir dit? “Ps 23:4” antwoord Jesus. Aag natuurlik, Dawid maak dit duidelik, U stok en U staf vertroos my. Of soos die nuwe vertaling dit gee, beskerm en ondersteun my.

Die vraag wat ek aan God stel is hoe gebruik ‘n engel ‘n staf of swaard tot hul voordeel, is hul nie sterk genoeg om sonder hierdie toebehore klaar te kom nie?
•    Num 22:31 Die Here het Bileam se oë oopgemaak en hy het die Engel van die Here in die pad sien staan met ‘n ontblote swaard in die hand. Toe buig Bileam voor die Engel.
•    Gen 3:24  Die Here God het die mens uitgedryf, en om die toegang tot die boom van die lewe te bewaak, het Hy oos van die tuin van Eden gerubs gesit, en ook ‘n vlammende swaard wat heen en weer beweeg.
Hier is dit eintlik vir ons duidelik dat engele swaarde gebruik het lank voordat die mens nog daaraan gedink het om oorlog te maak. Met ander woorde engele het van die begin af al oorlog gevoer teen Satan en sy demone, voordat ons mense op Aarde geplaas is.

Engele is deur God gemaak om te beskerm en te verdedig aan die een kant en aan die ander kant vir bemoediging en ondersteuning. So die met swaarde is God se “soldate” en die met stawwe is God se “ondersteuners”.  God het vir my ‘n fraksie meer laat sien oor hoekom hulle swaarde nodig het in die stuk wat bespreek word onder: Magte (veg) engele en Tweede openbaring oor Magte engele.
Kinder engele
BESTAAN KINDER GROOTTE ENGELE

As ek omdraai staan daar ‘n baba sonder enige klere aan met vlerke.  Ek sien ‘n kind met wit geklee en met vlerke.  Ek sien ‘n man in verslete wit klere.  Ek sien ‘n vrou half naak, geklee amper soos ‘n karakter in ‘n Hollywood verhaal.  Ek sien ‘n vrou wat lyk soos ‘n engel, in wit geklee maar met groot borste. 
En dan kom die vrae in my kop op.  Daar is so baie dinge wat vertel word oor mense wat engele gesien het, wat moet ‘n mens glo as die waarheid, hoe weet ‘n mens wanneer dit ‘n engel van God is of wanneer dit demone is?  As ek so na hierdie wesens kyk wat voor my staan wonder ek is hulle engele of demone?  Een van die eerste dinge wat ‘n mens hoor as jy gesels oor engele is dat geleerdes uitdruklik vir ons vertel dat engele nie babas is nie en dat hulle verseker nie vroulik is nie, nou wie en wat staan hier voor my?. 

Ons begin die pad met hierdie groepie aanstap na die plek waar die fontein is.  By die fontein is ‘n denkbeeldige lyn wat ek nog nooit toegelaat is om oor te stap nie, ek kon nog net loop tot by die lyn maar moes dan daar wag en dit is hier wat drie engele vir ons wag.  Jesus draai na my en vra: “Wat dink jy, is hierdie vyf demone of is hulle engele”.  Ek begin met Hom redeneer: “As God massiewe groot engele kan maak dan glo ek ook dat daar klein engele kan wees. Ek glo wat ek geleer is en dit is dat daar nie vroulike engele bestaan nie alhoewel ‘n mens van enorm baie mense hoor wat vroulike engele al gesien het.  Wat die een betref met die gewone klere, dit kan ek glo want ‘n mense lees baie, selfs in die Bybel dat engele soos gewone mense geklee is”. 

Ek vat die baba en die man engel en laat hulle eenkant staan en antwoord Jesus:
“Ek dink, hulle twee is ware engele, die ander is demone.
Jesus vra my: “Wat lees jy in die Bybel hoe is engele geklee?”
Ek antwoord: “In wit? maar altyd met klere aan”
Hy stap na die baba engel toe en sê: “Hierdie “gerub” engeltjies word altyd naak voorgestel en voor God sal hulle nooit so verskyn nie en ook is hulle nie in wit geklee nie, want in God se teenwoordigheid simboliseer wit reinheid”.  Een van die engele wat vir ons gewag het, vat die baba engel en vlieg met hom weg.
Dieselfde gebeur met die halfnaak sprokies vroue karakter en die vrou met die groot borste. Die twee wat oorbly is die klein kindergrootte engel en die mansengel wat in verslete klere is.  Ek staan verbaas, nooit, nooit sou ek kon dink dat daar sulke klein engele ook is nie. Waarlik hierdie klein wesens bestaan werklik hulle is omtrent so meter hoog met krullerige hare, intellegent, wys, maar tog ook met ‘n speelse karakter.  En Engele wat aan ons verskyn kan gewone verslonsde klere ook aan hê, soos die Bybel tereg noem: Hulle kan tussen ons beweeg en ons weet dit nie eers nie.
Stormwind Engele
STORMWIND ENGELE
Die tweede engel van die groep sluit by ons aan.  Ons stap by die waterfontein verby en so terloops druk hy sy hand in die water in, dieselfde gebeur met die water as die vorige dag.  Ver stap ons in ‘n westelike rigting. As ons stilstaan gaan die engel ‘n paar tree voor ons uit.  Die engel laat wind begin waai, hy doen niks besonders nie maar ek kan sien dat dit hy is wat die wind veroorsaak.  Dit word al hoe sterker en sterker, my mantel waai reguit na agter toe en Jesus se klere waai styf vas teen Sy lyf.  Soos die wind sterker word begin ek omwaai, voel nou soos die suidwester in die Kaap.  Dan gryp ek vir Jesus vas, Hy staan stewig alhoewel die wind sterk teen Hom is.  Die engel staan in hierdie wind asof dit nie bestaan nie, sy mond is nou in ‘n tuit gevorm en ek kan sien dat dit hy is wat die wind blaas. Die wind word later ‘n stormwind…. en dan is alles verby.
Ja, nee nou besef ek dat God aan sommige engele die mag gegee het om die natuur te beheer, die stromwind engele. Heb 1:7 Van die engele sê Hy: “Hy maak Sy engele stormwinde en Sy dienaars vuurvlamme.”

Doopengele
 EK NOEM HULLE DOOPENGELE
Die volgende dag wag ek opgewonde vir God om my meer te kom wys. Hy stel my nie teleur nie. Ons kom weer aangestap na die denkbeeldige lyn waar vyf engele hierdie keer vir ons wag.  Jesus stap oor die lyn en groet elkeen met die hand.  As Jesus weer by my aansluit draai ons om en stap in die rigting van die fontein maar een van die vyf engele is saam met ons.  By die fontein druk die engel sy hand in die water in wat deur die fontein opgespuit word.  Die water se kleur verhelder, is asof dit blinkertjies inkry, dit word soos kristal, sprankelende water, skitterblink soos diamant.  Jesus druk Sy hand in en dieselfde gebeur, die Heilige Gees wat ook teenwoordig is druk ook Sy hand in en dieselfde gebeur weer. O, okay dink ek, ek wil ook hierdie doen, maar aag ja teleurgesteld kyk ek na die water, niks het gebeur nie.

Jesus gaan sit op die rand van die fontein met die engel kniellend voor Hom, water drup van Jesus se hande af in die engel se hande in.  My brein werk oortyd om te probeer verstaan wat Hy vir my wil sê. Ek maal alles deur my kop, God is die fontein van lewe, water bring lewe, Jesus is die bron van lewe… so dink ek maar sukkel om die betekenis te ontsyfer.  As ek my oë so op die water hou wat drup in die hande van die engel snap ek ewe skielik wat Hy probeer sê: “Dit gaan oor die doop, skree ek hier in my binneste uit”. Jesus se gesig helder op en Hy gee my ‘n “Hi five” toe ek dit eintlik gesnap het.  Die engel glimlag ook breed, hierdie engel behoort aan ‘n “orde” wat met elke doop betrokke is.  Met elke doop oorhandig hulle namens God die water van die lewe, die bron van voeding, die fontein van die waarheid, die weg na waters waar rus is.  Met ander woorde elke mens se begin is met hierdie vooruitsigte wanneer jy gedoop word.  Dit hang van ons af hoe ons dit ontwikkel en hoe ons geestelik daarmee groei. Is dit dalk hier waar ons, ons beskermengele ontvang?

Maar dit laat dan ‘n nuwe vraag by my, is dit net mense wat gedoop word wat beskermengele ontvang….. Ek sal eerder hou by Ps 34:8 Want die engel van die Here hou wag oor almal wat Hom dien, en Hy red hulle.

EK NOEM HULLE KOSMOS ENGELE
Kosmos Engele

Wat 'n uitmuntende voorbeeld van 'n engel wat in wolke staan

Hierdie foto is in Suid-Afrika geneem

Let op hoe groot hierdie wesens is
 By die denkbeeldige lyn sluit die derde engel by ons aan, hierdie een het een paar vlerke.  As hy by die fontein verby loop druk hy sy vlerk in die water in en natuurlik verander die water ook soos met al die voriges. Hy loer speels na my en glimlag so asof hy wil sê: “Wou maar net wys ek kan dit ook doen”. Ek glimlag terug en ervaar ‘n goeie vriendelike, humoristiese gees wat uit hierdie engel straal.  Ons is oppad na die plek waar die massa engele bymekaar gekom het.
So in die stap kom ‘n ander engel met vlerke van voor, as hy verby ons loop groet die twee engele mekaar deur hulle vlerke te laat raak.  Hy groet my beskermengel deur hulle hande te laat raak en hy groet vir Jesus deur eerbiedig te buig voor Hom.  As ons op die plek kom waar hulle wil wees loop Jesus en die engel vorentoe, ek kry die gevoel ons moet eers nog ‘n bietjie wag.

Ek skrik my amper van my voete af as een van die enorme groot “kosmos” engele skielik hier voor ons neersak. Net sy knieë ondertoe is vir my sigbaar.  Hy buk af en tel die engel met vlerke op sy hand, hulle twee gesels oor iets, hy sit die engel weer neer en vlieg weg in ‘n westelike rigting die horison in.  Ek hou hom dop as hy so van ons af wegvlieg tussen die wolke in.  Hy maak sy staan tussen die wolke en word dan een met die wolke. Ek kan nie glo wat ek sien nie, ek sien die engel maar dis nie meer ‘n engel nie maar ‘n wolk maar tog is dit nie ‘n wolk nie dis ‘n vorm van ‘n engel.

Dan tref dit my, die foto’s wat mense so neem van engele in die wolke, is hierdie enorm groot kosmos engele, dis hulle wat die tekens van die bo-natuurlike van God in die wolke vir ons bring. Dis hulle wat mense hier op aarde so gaande het oor die beelde wat ons sien in die wolke. Nou glo ek ook want ek het dit met my eie oë sien gebeur.

\
Kindergrootte Engele
 TWEEDE OPENBARING OOR KINDERGROOTTE ENGELE
As ek nog so in verwondering staan vou die engel met vlerke my en Jesus daarin toe, hy staan voor ons en sy vlerke omhul ons totaal en al. Ek het geen uitsig nie behalwe die bors van die engel waarteen ek gedruk word.  Dan tree hy weg en sprei sy vlerk uit sodat my beeld nogsteeds versper is maar al wat ek nou kan sien is dat daar ‘n doenigheid agter sy rug aan die gang is.  Ek’s nuuskierig en probeer die vlerk van die engel wegdruk en in ‘n speelse manier gryp hy my en ons verloor vir ‘n oomblik onsself in ‘n prettige gestoeiery, hy begin my kielie en stoei dat ek my uit my skoene wil giggel.  Oegh nee, kannie meer nie, probeer so tussen die gestoei om die engel ook hier en daar by te kom maar heelaas hy’s glad nie kielierig nie.  As ons opkom het hy my kop in ‘n armklem beet en borsel hy my hare met sy vuis.  Dan word ek bewus van Jesus wat glimlaggend ons dophou: “As julle klaar is kan ons aangaan” sê Hy.  Ek druk my hare reg, trek my mantel reguit en gaan staan langs Jesus. Nou is my aandag gefokus op dit wat God vir my wil kom wys.
Agter die engel staan so ± twintig kindergrootte engele.   As ek afsak kom een nader en Jesus laat toe dat een by Hom ook kom staan, die ander staan nader.  Almal het krullerige hare, almal is manlik, almal is in wit geklee en almal het een paar vlerke.  Hulle is soos kinders maar tog ook volwasse.

Ek vra vir Jesus wat doen hierdie engele?  Een steek sy arms na my toe uit, ek tel hom op en ons drie kom dan te staan in ‘n kinderkamer.  Die engel klim op die kind se bed, trek die kombers op en vertroos die kindjie wat hartseer is.  Dan is ons op ‘n plek waar ‘n piekie voor ons met sy rug na ons toe op ‘n stoel sit.  Die engel loop na hom toe waar hy besig is om uit die Bybel te lees en sit sy arm om die piekie se skouers om hom te bemoedig.  Dan is ons in ‘n bos, ‘n vrou loop rond maar sy is baie naïef en kinderlik, sy leef in ‘n wêreld van kinderlike eenvoud, haar verstand is nie volwasse nie.  Hierdie engele is daar vir sulke mense, kinders, klein mensies en mense wat vir ewig in hulle kindwees vasgevang is. Maar tog bederf God ons ander ook om hierdie engele te kan sien of om so bevoorreg te kan wees om deur hulle beskerm te word.  Daar het al so baie getuienisse opgekom van gelowiges wat hierdie kindergrootte engele al beleef het. Was vir my voorwaar ‘n belewenis en ‘n voorreg dat God hulle aan my openbaar het.

Veg engele
VEG (MAGTE OF LEëRMAGTE) ENGELE
Die vierde engel van die groep ontmoet ons en ons stap na die plek waar die massa engele vergader het. Jesus wys my om na die horison te kyk.  Ek sien vier engele op perde nader gery kom: wit, swart, bruin en grys perde.  Hierdie is die eerste groep engele wat ek sien wat nie in wit geklee is nie.  Hulle is geklee in ‘n koningsblou kleed met kort moue, bruin leer stewels, bruin leer armbeskermers en helmets op soos die wat jy gekry het in die ou Romeinse tydperk maar nie heeltemal dieselfde nie, die beeld rondom hulle gesigte was vaag.  Borsharnasse, ‘n skild en ‘n swaard. Hierdie engele het nie vlerke nie.  Een engel kom na my toe gery en wys dat ek moet opklim.  Die engel steur hom nie aan my menslike vrese of wonder praatjies nie en die volgende oomblik is ek saam met hom op ‘n gallop terug vanwaar hulle gekom het.  Hierdie perde is baie groter as die wat ons op Aarde het.  Ons is op ‘n stewige gallop deur groen gras na ‘n dam in die verte tot op ‘n bult waar my bewaarengel en die vierde engel vir ons wag.  Die ruiters ry afwaarts na die dam toe en verdwyn in die suide.  Dan roep Jesus my nader om by Hom te kom staan.  As ek weer opkyk sien ek hoe hierdie vier ruiters met volle vaart terug gery kom verby ons in ‘n noordelike rigting.  Ek sien hoe hulle aansluit by ander engelruiters wat ook soos hulle geklee is en ‘n pad vir hulle oopmaak sodat hulle kan deurry tot voor.  Ek staar met afwagting na die toneel voor my, die engele is besig om in ‘n lang verdedigingslyn hulleself gereed te kry, instinktief weet ek dat hier ‘n aanval op hulle gedoen gaan word.

En dan sien ek ook waarvoor hulle gereed maak, in die verte op die noordelike horison kom ‘n angswekkende skaduwee aangesluip, dis demone, ook op perde.  Almal in swart geklee met kappies oor hul koppe getrek en met oë wat bloedrooi gloei.  As die demone hulle fakkels aansteek ry die leier van die engele vorentoe en ontmoet die leier van die demone.  As hulle klaar gepraat het draai elkeen om en ry terug na hulle groepe toe.  Die engel gesels met een van die vier wat my hierheen gebring het, wat op sy beurt na ons toe aangery kom.  Hy doen verslag aan die engel wat by ons staan, waarop hy hulle beveel wat om te doen. Kry so die gevoel dat hierdie al amper roetine by hulle is, hulle ken al, al die taktiek van die demone, weet presies wat die demone se volgende skuif gaan wees, is net elke keer verdediging wat hulle toepas op onsuksesvolle aanvalle.  As ek met my menslike verstand na die prentjie voor my kyk wonder ek hoe hierdie engele die aanval sal kan afweer, hulle is ‘n handjie van so vyftig teen ‘n menigte van ± tweehonderd demone.  Die demone kom met gevaarlike wapens wat groot skade kan aanrig.  Maar dan dink ek by myself, hierdie engele sowel as die demone is onsterflik, wat sal die rede wees dat daar nog aanvalle op die Hemel geloods word? Ek verstaan nou hoekom daar engele is wat met swaarde rondebeweeg en wat op strategiese plekke en op die grense van die Hemel geplaas word.
Die engele val glad nie aan nie, hulle verdedig net hul grens en grondgebied.  En dan kom die demone aan, die engele beweeg vorentoe en as hulle ontmoet breek ‘n hewige geveg uit.  Elke engel staan sy man, die vuur waarmee die demone aanval is hulle kragbron maar die engele trek nie terug nie.  Die hoofaanvoerder van die engele word van sy perd afgestamp met ‘n vuurfakkel maar soos hy grond toe gaan kry hy ‘n houvas op die demoon en met sy sterk hande slinger hy hom van sy perd af, hy pen hom teen die grond vas en kry die oorhand maar onder die gestoei kry die demoon homself losgewikkel en vat die hasepad.  Elke engel veg omtrent teen drie na vier demone.  Die engelmag is te sterk en die demone besef dat hulle aan die verloor is en besluit om terug te val.  As alles oor is stap die leier van die engele terug na sy perd toe, wat ‘n hele ent verder staan, ek kan sien dat sy liggaam gebrand is. Ek wonder by myself of hulle enige pyn kan voel soos wat ons dit voel? Jesus antwoord my gedagtes met: “Moenie bekommerd wees nie, hulle ervaar geen pyn of lyding nie”.

Ek kyk Jesus aan met ‘n diep frons op my gesig, ek het soveel vrae, daar is soveel wat ek nie verstaan nie. My eerste vraag aan Hom kom asof Hy dit verwag het.
Ek verstaan nie hoekom die demone eers probeer om die Hemel aan te val nie, hulle is dan vir soveel eeue al uitgeskop maar nogsteeds probeer hulle terugkom, hoekom?
Jesus antwoord: “Die dag toe die demone uitgewerp is uit die hemel het hulle meer as net die hemel prysgegee.  Goddelike wysheid, kennis en insig ontbreek nou by hulle.  Die wysheid wat hulle nou weergee is beperk tot wêreldse wysheid van hoogmoed en edelheid en dit sal nooit by hulle insink dat hulle ‘n verlore stryd voer nie. Haat en wraak het die plek kom inneem van Goddelike wysheid.  Hulle is soos donkies wat gelei word, vir hulle gaan dit net oor mag, gesag en hulleself.   Die Hemel is ‘n plek waar hulle in vrede en gemak geleef het. Dis ‘n plek van skoonheid, prag, lieflike glans en glorie.  Daar waar hulle nou is, die hel en Aarde, is nie waar hulle wil wees nie, dis nie wat hulle soek nie.  Hulle wil met alle geweld terug hê wat hulle verloor het en hulle sal nooit ophou om te probeer nie. Tot met die oordeelsdag sal hulle aanhou om te probeer om God se Koningheerskappy oor te vat, nie net op Aarde nie maar ook hier in die Hemel”. 

Die oorwinning is nog nie volkome oor die demone behaal nie, Christus het die bose oorwin maar ons is nog nie heeltemal verlos van hulle nie. Hulle is nog nie finaal vernietig nie, tot daardie laaste oomblik sal hulle nooit bres gee nie.  Hulle doelwit is nog steeds om die outoriteit en posisie van God oor te neem omdat hulle aanbid wil word, Satan wil op die troon van God sit, dis hoekom hy in die eerste plek teen God in opstand gekom het en hy en sy travante sal tot op die einde toe veg om beheer hieroor te kry.

Tweede openbaring oor aanval op engele
TWEEDE AANVAL OP ENGELE
Ek sit saam met Jesus by die waterfontein en wag, ek weet nooit wat op ons wag of wat die volgende openbaring gaan wees nie, stap vir stap, aand na aand bring God openbarings wat soos ‘n legkaart inmekaar inpas.  En dan staan die engel hier voor ons, ek sien net sy wit kleed wat met ‘n goue gordel vasgetrek is, hierdie een se gesig, van sy skouers boontoe is verbloem, wonder partymaal hoekom daar sommige engele se gesigte nie vir my sigbaar is nie.  Hy stap met ons na die plek by die dam, op dieselfde plek waar die geveg teen demone plaasgevind het.  Hierdie moet ‘n grensdeel van die Hemel wees, dink ek.   Die engel en Jesus stap alleen vorentoe sodat hulle ‘n beter uitsig oor die gebied kan kry, die engel lig sy vlerke dat ek nie sy kop of gesig van agter af kan sien nie.  Dan roep Jesus my nader en vir ‘n baie lang ruk staar ons net oor die vlaktes en wag. Jesus begin stap na die dam toe met my en my bewaarengel kort op Sy hakke.  Die ander engel het agter gebly en kyk ons agterna.  As ons by die dam verby loop voel ek sommer lus om net in te duik en te swem, die water is helder skoon, elke klippie kan op die bodem gesien word dit lyk soos skitterblink swembadwater met die mooiste visse wat rondswem.  As ek opkyk om te sien waarheen ons stap sien ek ‘n engel op ‘n perd vir ons wag.  Jesus stap alleen hom tegemoet, as Jesus by hom aansluit klim hy van sy perd af en buig eerbiedig voor Hom neer.  Hulle staan vir ‘n lang ruk en gesels voordat ons begin terugstap na die eerste engel toe. Lank staan ons net en wag en kyk oor die vlaktes.  Dan kom die ruiter engel weer aangery maar hierdie keer volg ‘n skare engele hom, ek skat hulle omtrent so tweehonderd, almal op perde.  Hulle maak hulle staan voor die dam en kyk na ‘n noordelike rigting.  Die hoofengel tree uit die groep uit gevolg deur nog drie ander engele, wat ek vermoed elkeen oorhoofs oor vyftig engele is.  Dan sien ek weer die swart massa demone uit die noorde nader kom maar hierdie keer is hulle duisende, maklik tweeduisend van hulle. As hulle tot stilstand gekom het tree daar omtrent so twaalf na sestien leierdemone na vore.

Die hoofengel klim van sy perd af, klap sy perd op die boud dat hy weg gallop en die ander engele volg sy voorbeeld. So staan hulle, elkeen met ‘n swaard in die hand en wag vir die demone om aan te val. Krag engele sak een, een agter die Magte engele neer, ses van hulle.  Ek wag angstig vir die aanval om te begin maar is skrikkerig want ek sien dat Satan en van sy travante intussen by die demone aangesluit het, ver Noord-wes staan hulle op ‘n koppie, Satan is nou ook so groot soos een van die Krag engel, hy troon bo die ander uit en ‘n trotsheid omhul sy wese, elkeen van hierdie demone staan met uitdagende houdings, geen vrees of twyfel nie.  Dan storm die demone op perde, ek druk my gesig teen Jesus se skouer, ek voel vreesbevange is bang om te sien wat hier gaan afspeel maar weet ook instinktief dat ek moet kyk anders sal ek nooit weet wat God vir my hierdeur wil kom wys nie. As ek my kop optel trek ek myself net stywer teen Jesus en weet hier is ek veilig en weereens breek ‘n harde geveg uit tussen die twee groepe.  Die engele gebruik elmboë, knieë en self vuiste om die oorhand oor die demone te kry. Sommige demone sping van hul perde af terwyl ander hul perde gebruik om ‘n beter aanslag op die engele te kan kry.  Vreesloos baklei elke engel teen ‘n magdom van demone. Hierdie keer laat die Heilige Gees my die betekenis sien van die swaarde in die engele se hande. Hulle steek glad nie die demone raak nie, dis asof hulle die swaarde gebruik as ‘n kragbron en nie as ‘n aanvalswapen nie.  As die engel die swaard voor sy liggaam inbring en die demoon daarmee afweer is dit soos krag van die engel wat een word met die swaard.  Die twee is onafskeidbaar van mekaar, dis soos ‘n verlengingsbron van krag wat aan die engele gegee is. En dieselfde gebeur met die vuurfakkels waarmee die demone baklei, dis hulle bron van krag, hulle krag is een met die vuur, dis vuur teen staal.

Satan staan nader en die Krag engele gaan maak hul staan aan die voorkant van die geveg, met ander woorde hulle staan tussen die geveg en Satan. Satan loop op en af en skree soos ‘n brullende leeu maar hy kom glad nie nader nie, hy weet dat hy nie teen hierdie engele sy staan sal kan maak nie en dit maak hom woedend.  Die demone is besig om terug te val en hardloop verby die Krag engele se bene asof hulle nie eens bestaan nie, hulle kan hierdie groot engele niks aandoen nie, soos klein miere teen ‘n boom vertoon die demone teenoor hierdie magtige wesens. Selfs die demone se perde volg hulle terug vanwaar hulle gekom het.
God het hierdeur vir my kom wys dat hierdie gevegte wat uitbreek tussen hulle nie gaan oor om mekaar te vernietig nie maar dit gaan uitsluitlik vir die demone om krag en mag te wys.  Soos vroeër genoem sal hulle altyd probeer om terug te eis wat hulle eens gehad het.

Vroue Engele
 TWEEDE OPENBARING OOR VROULIKE ENGELE
Die laaste engel van die groep wat agter die denkbeeldige lyn gestaan het stap Jesus tegemoet.  As Hy my aan die engel bekendstel is ek verbaas hoe baie die engel na ‘n vrou lyk.  Ek kan my oë nie van haar afhou nie want ek het nog altyd geglo dat daar net manlike engele is.  Een ding tel ek dadelik op en dit is dat sy nie borste soos ons vrouens hier op Aarde het nie.  Haar kleed loop geplooi oor haar bors, haar hare is dik en los gevleg na agter toe tot laag in haar nek.  As sy omdraai wag nog ‘n verrassing op my, sy nooi my om oor die denkbeeldige lyn te loop. Ek laat nie op my wag nie en trap vinnig oor die lyn en plaas my hand in hare. Hierdie deel was vir so lank vir my verbode en nou staan ek saam met ‘n vroulike engel agter die lyn.  Met soveel opgewondenheid wat in my borrel loop ons die paadjie op.  Wolke omhul my sig dat ek net die dele kan sien waarop ons loop.  Die lig wat om ons vou is skitterblink lyk soos sagte blink stofdeeltjies, is nie stof nie, dis reinheid, skoonheid en helderheid wat weerspieël word.  Ek kyk weer na haar ek moet seker maak of ek reg sien, sy is beslis ‘n vrou prewel ek vir myself.  Sy het ook nie vlerke maar ek glo dat daar van hulle is wat vlerke sal hê.  Dan sien ek dat hier ‘n paar van die kindergrootte engele voor ons inloop.  Die paadjie waarin ons loop laat my dink aan die beskrywing wat mense gee as hulle ‘n doodse ervaring het, die lig in die tonnel ervaring.  Dis asof ek van een dimensie van die Hemel na ‘n ander een beweeg.  Dan sluit Jesus by ons aan, my liefling Jesus dis darem die wonderlikste gevoel denkbaar om Hom te sien, Sy teenwoordigheid bring innerlike vrede, die oomblik as Hy Homself openbaar helder my lewe op, maak nie saak in wie anders se teenwoordigheid ek is nie. Hy bly my Koning, my Prins, my God, my liefde.

In hierdie spesiale oomblik word ek omring deur ‘n God wat my met geweldige liefde behandel, ek word omring deur ‘n wese wat ek nooit gedink het bestaan nie en ek staan in ‘n deel van die Hemel wat ek angstig op wag om te ondek, ek voel soos ‘n ondekkingsreisiger in ‘n nuwe Geestesdimensie.

Engele hou boek van goed en kwaad
 ENGELE HOU BOEK
As ons die einde van die “tonnel” bereik wys die engel met haar linkerhand uitgestrek waarheen ek moet kyk.  Die wolke trek stadig weg en voor ons staan ‘n engel met vlerke, hy is geklee in ‘n wit kleed wat baie geplooi is.  Sy hare is dik en lank en krullerig, baie mooi.  Wil vir my voorkom of daar ‘n kroon op sy kop is en volgens die beskrywing wat ek het van hulle is dit ‘n Heerskappy engel. Hy hou ‘n dik swart boek voor sy bors vas.  Jesus loop na hom toe en saam loop hulle na ‘n podium toe.  Hy plaas die boek op die podium en Jesus wys dat ek moet nader kom.  Ek sien my naam in die boek, alles, maar soos alles wat ek al in my lewe verkeerd gedoen het, my sondes, my verkeerde besluite, elke liewe ding wat ek verkeerd gedoen het is in hierdie boek opgeteken, vandat ek ‘n kind is. 
‘n Ander Heerskappy engel kom nader gestap, hy lyk presies soos die vorige een net met die verskil dat hy ‘n wit boek in sy hande vashou.  Hy maak ook die boek op die podium oop by my naam.  Hier is alles opgeteken wat ek goed en reg gedoen het, regte keuses en al my goeie dade wat ek verrig het.

LAASTE WOORDE OOR ENGELE

God het alles gemaak vir Sy Seun Jesus

Paulus waarsku sy lesers in Kol. 2:18 teen engele-verering!...“Moenie dat iemand wat behae skep in danige nederigheid en in die aanbidding van engele en wat voorgee dat hy allerhande visioene gesien het, julle daarmee mislei nie.  So iemand verhef hom oor wat hy in eiewaan van homself dink”.

Oor die algemeen is die Westerse kerke meer wantrouig teenoor engele terwyl die Oosters-Ortodokse kerke afbeeldings meer geredelik aanvaar en die werking van engele verstaan. Dit is en bly ‘n baie moeilike taak om die Gereformeerdes en Hervormdes te oorreed van die werking van bo-natuurlike magte van God omdat die persepsie heers dat hierdie wêreld van die bose is en dat Christene nie hierby betrokke moet raak nie.  Maar as hierdie wêreld oop gaan voor God se kinders sal ons lewe soveel makliker wees as ons kan verstaan hoe God hierdie wesens gebruik om ons lewe makliker en veiliger te maak.

Wat ‘n moeilike taak vir engele om ons pad oop te hou vir die bereiking van die saligheid sodat elke mens deur die genade van God beskerm kan word sonder dat ons bewus is daarvan maar eendag wanneer ons, ons lewe gaan sluit saam met hierdie wesens sal ons na die stories kan luister hoe hulle ons beskerm het, ons sal kan verstaan hoekom die dinge gebeur het wat ons nie uitklarings voor kon gekry het op Aarde nie.  En dit net omdat God elkeen van ons liefhet, omdat dit Sy doel is om ons lewe vol plesier, liefde, geluk, voorspoed, welvaart en hoop te bring.

‘n Mens kan nie engele identifeseer aan spesifike hirargiese groepe deur hoe hulle lyk of wat hulle take is wat hulle verrig nie.  Seker groepe engele lyk dieselfde terwyl sommiges weer vlerke het, ander groot of klein is, sommiges dra wapens,stawwe of beuels terwyl ander weer net gewoon is, hierdie verskille bepaal nie defnitief hulle hirargiese orde nie, maar jy kry wel engele wat net tot ‘n sekere orde behoort.  Ons kry so vir Migael wat ‘n aardsengel is maar wat aan die hoof staan van al die engele selfs die Gerubs.  God gebruik, aardsengele, gewone engele, gerubs ensovoorts as Magte ook, alhoewel Magte engele se taak is om te verdedig en te beskerm. Die hirargie bepaal net hulle werkinge of take soos wat ons op Aarde ook val onder bepaalde hirargiese strukture m.a.w ‘n Kaptein kan dien as ‘n voorsitter, hierdie taak is nie spesifiek uitgesonder vir ‘n Generaal nie.
Ek dank my Vader dat Hy my in Sy vertroue geneem het om hierdie dokument te kon opstel en dat ek by magte is om dit met julle te kon deel.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking