Engele

Engele met ons
2 Kor 10: 3-6 benadruk die feit dat Christene nooit sal verstaan hoekom die dinge met ons gebeur wat gebeur, indien ons nie die geestelike oorlogvoering ernstig opneem nie. Te veel Christene lag die realiteit van die bo-natuurlike af, te veel steur hulle nie aan die bestaan van die geestelike magte van God of die bose nie. Daar’s heeltemal te min Christene wat hierdie bo-natuurlike wêreld ontgin of wat nie ingaan om dit te ontrafel nie. Daar word te veel gewaarsku om nie betrokke te word in hierdie dimensies nie en daar word te veel mense getugtig omdat hulle die waagmoed het om hulle gawe in hierdie geesteswêreld te ondersoek. Hopeloos te veel onkunde heers oor hierdie onderwerp ten koste van God se koninkryk en tot voordeel van Satan.  God wil reeds hê dat ons moet verstaan hoe hierdie wêreld werk en hoe Hy dit alles aan mekaar gesit het tot beskerming en ondersteuning van ons. Dit is een van die redes hoekom Hy aan profete, engele op sulke bisarre maniere, kom openbaar het in die Bybel.  As ‘n mens verstaan wat hierdie openbarings beteken, dan sal jy verstaan hoe dit alles werk. 

Maar hoe weet ons of al die inligting rakende engele waar en korrek is?
Die grootste faktor is die werking van die Heilige Gees deur openbarings aan kerkvaders, gerespekteerde geestelike mentors, profete en ook gewone mense, literatuur soos die Bybel, apokaliptiese en historiese boeke word alles ingespan om die bestaan van engele te bevestig en te verduidelik. Hierdie mense probeer om engele se funksies vas te pen op grond van visoene wat ontvang is of deur die influistering van die Heilige Gees. En dan is daar natuurlik duisende mense se ooreenstemmende getuienisse wat deur die eeue opgeteken is wat vir ons ‘n bewys is dat die inligting waar en juis is.  Maar daar is nog baie verskille rondom die hirargiese plasing en oor die uitbeelding van hulle take of funksies.

Al wat engele kan en moet doen is om die pad oop te hou vir die bereiking van die saligheid vir ons mense. Dus ‘n beskermingsdiens in 'n uiters vyandige omgewing. Dit is egter belangrik om bewus te wees van die geskiedenis van die engele. Hoewel God aanvanklik alle engele geskep het, het ‘n sekere gedeelte van die engele afvallig geraak. God is steeds magtig bo hulle en hulle kan slegs bestaan in soverre God vir hulle bestaansruimte toelaat. Dit kan ook vergelyk word met die geskiedenis van die mens. God is ook die skepper van alle mense. Maar as gevolg van die sonde van Adam word elke mens in sonde gebore (Ps 51:7). Sondige en on-wedergebore mense staan ook teenoor God in die sin dat hulle bestem is vir die ewige oordeel, maar dit beteken nie dat God die bose geskep het nie. Dit beteken wel dat God beide engele en mense met ‘n vrye wil geskep het. God het dus ‘n bepaalde vryheid gegee aan Sy skepping. Die Satan en sy magte staan dus inderdaad in stryd met God en Sy magte, maar God laat hulle slegs beperkte speelruimte toe. Daar sal ‘n dag kom wanneer God alle bose magte finaal gaan verslind (Op 20:9; Rom 16:20). As ons Open 7 reg verstaan kom maak God hier ‘n belofte dat Sy kinders nie die oordele van die eindtyd sal tref nie, dat engele Sy kinders sal merk en sal beskerm, as die seël van God op jou voorhoof is, hoef jy nie die basuine van oordeel te vrees nie.

Daar is nege ordes, ek het volgens Kol 1:16 en Efe 1:21 gegaan en daarvolgens gewerk. Engele word 273 keer genoem in die Bybel, in 33 van die 66 boeke. In die Ou Testament word engele 108 keer in 18 boeke genoem en in die Nuwe Testament 165 keer in 15 verskillende boeke.

Gerubs
As ‘n mens navorsing doen oor engele kom jy agter hoe daar verskil word oor die ordes en funksies van engele, so gee sommige mense die Gerubs die hoogste orde terwyl ander weer Serafs die ereplek gee. Ek het gegaan volgens Skrifte in (Ese 1:26-27, 10:1, Jes 37:16) wat sê dat Gerubs die troon van God dra en vir my plaas dit hulle eerste. Buiten dat hulle die troon dra het God hulle ook gemaak om Sy troon te beskerm en om Hom te begelei. Hulle is betrokke by God se geregtigheid, heerlikheid en mag en hulle bring ook openbarings na mense toe.  Buiten die idilliese beeld wat mense koester oor hulle, gebruik God hulle ook om stroms, wolke, weerlig, lig of vuur te veroorsaak. Ons lees in die Bybel dat Gerubs se vlerke ‘n harde geluid maak as hulle vlieg, dit is soos ‘n dreunklank van baie waters, soos die stem van God, soos die geluid van ‘n groot leërmag. Ons kan sien in die verhaal van Eden dat daar meer as een Gerub is, waar hulle gaan staan het om te keer dat die mens sal terug keer na die Paradys toe. In Ese 28:14-16 lees ons dat Satan 'n Gerub was toe hy geskape is, om die waarheid te sê hy was dié gesalfde Gerub. Net soos wat Migael 'n Aartsengel is, met mag oor al die engele, so was Satan 'n Aartsgerub, een wat aangestel was oor al die ander Gerubs. Omdat Gerubs die hoogste orde van hemelse wesens is en Satan die Aartsgerub was, het dit hom hoër as Migael geplaas.

Hoe word Gerubs aan ons uitgebeeld in die Bybel:
• Soos mense met arms en bene met brons voetsole wat soos die van ‘n kalf vertoon.
• Met 4 gesigte, die van ‘n mens, leeu, bees en arend.
- ‘n Mens (wat die simbool gee van verstandigheid, m.a.w. hulle het ook ‘n siel).
- ‘n Leeu (wat krag simboliseer)
- ‘n Bees (wat gewilligheid simboliseer, m.a.w hulle is so diensbaar soos ‘n os)
- ‘n Arend (wat snelheid simboliseer)
- Met baie oë (wat skerpsinnigheid en voorsienigheid simboliseer)

Hulle word gesien met:
- 1 gesig en 2 vlerke. (1 Kon 6:23-28)
- 2 gesigte en 2 vlerke (Ese 41:18)
- 4 gesigte en 4 vlerke: (Ese 1:6, 25-26, dieselfde wesens word ook gesien in Ese 10:1)

• Hulle is gesien as blink of skitterend soos helder lig of vuur.

• Hulle is toegerus met swaarde Gen 3:24.
Serafs
 As ons die Bybel bestudeer kan ons aflei dat daar net 4 Serafs is en hulle hoofdoel is om God se troon te beskerm, om Hom te aanbid en te heilig. Hulle kan ook rond vlieg en sing. Ons lees net in twee Bybelboeke oor hulle, Jesaja en Openbaring. Dis hulle wat die aanbidding in die hemel lei.
a).     In die Boek van Jesaja
Uit Jes 6:2-3 en 7 kan vier dinge geleer word aangaande die Serafs.
•    Hulle is rondom die troon van God en loof Hom voortdurend tot mekaar.
•    Hulle word herken deur die feit dat hulle ses vlerke het. Elke paar het ʼn ander funksie, om hulle voete en gesigte mee te bedek ‘n kenmerk van nederigheid en die derde paar om mee te vlieg. Hierdie eienskap onderskei hulle van die Gerubs.
•    ‘n Seraf reinig die sonde van Jesaja. Hulle het ʼn bediening as reiniging van God se diensknegte gehad sodat mense rein voor God kon staan. Jesaja se sonde is wegggeneem sodat hy in God se diens gebruik kon word. Jes 6:6-7. (Hier kan ons sien dat God Serafs gebruik het om mense se sondes te reinig maar vandag is hierdie diens deur Christus vervang, omdat Hy nou die reinigingswerk doen).
b).     In die Boek van Openbaring
Open 4:6-11. Hier kan sewe dinge geleer word.
•    Hulle is rondom die troon van God. En rondom die Seun van God.
•    Hulle word simbolies vol oë van voor en agter voorgestel, wat beteken dat hulle kan sien ver buite die menslike dimensie om sodoende God se voorsienigheid te kan uitvoer.
•    Hulle het ses vlerke. (Afleiding dat hier van Serafs gepraat word)
•    Hulle word elkeen afsonderlik met die gesig van die leeu, mens, bees en arend voorgestel: die vier evangelies – Matteus stel Jesus voor as die Leeu van Juda, - Markus stel Jesus voor as die een wat dien of die bees, - Lukas stel Jesus voor as die mens, Johannes stel die Goddelikheid van Jesus voor deur die Arend. Maar dit beeld ook die simbole uit wat by die Gerubs genoem is.

•    Hulle word uitgebeeld met oë al rondom en van binne (voorheen net genoem van oë van voor en agter).
•    Hulle loof God aanhoudend.
•    Wanneer hulle sê: “Heilig, heilig, heilig”, volg al die ander inwoners van die hemel om God te aanbid en is dit ʼn teken vir die 24 ouderlinge om die Een wat op die troon sit te aanbid. In hierdie konteks is die Een wat op die troon sit, God die Vader.
Open 5,6,7 - Die Serafs sal die Lam dien wanneer die Lam eendag die boekrol met die sewe seëls neem. Met die breek van die seëls begin die groot verdrukking. ʼn Seraf sal ʼn spesifieke seël van oordeel aankondig, (wit, rooi, swart, grys perde). Van die sewe Seël Oordele kondig die vier Serafs die eerste vier oordele aan en hulle sal God prys vir die wat gered word gedurende die groot verdrukking. Serafs gaan gebruik word vir baie van die oordele van die groot verdrukking. God gaan hulle gebruik om Sy toorn op die aarde uit te stort. Open 14,15,19 sal die Serafs die gesang van die duisende aanskou in die Messiaanse Koninkryk en ʼn Seraf sal die sewe skaal oordele aan die sewe engele gee wat by verre die ergste oordele van die hele verdrukking is. Dit is ook hulle wat tot in ewigheid die aanbidding van God lei.

Troon Engele (Gesien waar hulle op Trone sit)
 Die laaste orde van die eerste sfeer van engele.  Ons kry drie uitbeeldings van hulle, nl:

•    Ons lees van hierdie engele in Kol 1:16 en Efe 1:21, saam met heerskappy, owerhede, kragte en magte. Soos wat God op aarde trone vestig so het Hy hulle vir die Hemel ook geskape. Hierdie engele sit as konings op trone en beklee ‘n magsposisie. Wanneer Paulus die engele as Trone beskryf is dit duidelik dat hulle vir Christus geskape is en hulle Hom dien.  Hulle wat op hierdie trone sit, sit in die onmiddellike teenwoordigheid van God.  As ons verwys na die Trone in die hemel word hulle verhewe bo die ander omdat Trone toegang het tot die onmiddellike kennis van God. As gevolg van hul hoë posisie is hulle verantwoordelik om die boodskappe van God oor te dra na “minderwaardiger” engele onder hulle.

Troon Engele (Gesien as wiele)
 •    In Esegiël 1 word hierdie engele ook as wiele met oë voorgestel. As ons kyk na die simboliese voorstelling van die wiele is dit duidelik dat hulle verantwoordelik is vir die vlot beweging van die Hemelse wesens. Hulle word ook genoem die wiele van God se strydwa of Ophanims. Al word hulle so bisar voorgestel word hulle beskryf as die wiele wat alles in die Hemel, Kosmos en op Aarde laat beweeg, soos Esegiël opgemerk het in Ese 10: 13 “is hulle voor my ore die ratwerk genoem.”  Hulle is bedek met oë wat God se on- en voorsienigheid vir die toekoms vir ons uitbeeld.  Hulle word gekonnekteer aan Gerubs omdat die Gerubs se gees binne in hulle is, met ander woorde hulle werk soos een gees saam Ese 10:17.

Troon Engele (Gesien waar hulle God op Troon dra)
 •    In Dan 7: 9 ….trone reggesit is en ‘n Oue van dae gaan sit het; sy troon was vuurvlamme, die wiele daarvan ‘n brandende vuur. Hier word hulle beskryf as die trone wat neergesit word, hier word hulle gesien as materiële trone waarop God rus.

•    Hulle word so uitgebeeld omdat hierdie trone bo-kant die Aarde verhef word, m.a.w hulle word verhef tot die onmiddellike kennis van God, bo alles.

•    Tweedens word hulle materialisties uitgebeeld wat sterkte en stewigheid weerspieël, hulle is deur God sterk en stewig gemaak.

•    Derdens ontvang hulle God wat op hulle sit, hulle dra en begelei Hom.

•    Vierdens as gevolg van ‘n troon se vorm wat aan die een kant oop is, simboliseer dit dat hulle God ontvang in hulle midde en Hom dien.

Heerskappy Engele

Heerrskappye beklemtoon die konsep om te heers, hulle heers oor spesifieke gebiede en is aangestel om opdragte tot die fynste detail uit te voer. Waar die eerste sfeer se engele om God en Sy Troon gegaan het is hierdie engele aangestel om beheer oor die werêld en sy mense uit te oefen. Hulle deel van die hiërargie van hemelwesens is om ondergeskikte engele se pligte te reguleer, ons kan hulle amper sien as tipe “supervisers”. Daar word ook genoem in ander geskrifte dat Aardsengel Zadkiel die leier van hierdie orde is.


  • Hulle ontvang opdragte van die Trone en rapporteer ook terug aan hulle.

  • Hulle is die engele wat soos voorsitters optree oor nasies en mense. Persoonlik sien ek hulle as die heersende groep wat beheer oor die wêreld uitoefen. Hul taak is om te sorg dat God se Heerskappy op Aarde bestuur word, om te verseker dat God se Koninkryk effektief gelei word.

  • Hulle word geken aan hul leiereienskapvermoëns oor ander engele en oor genade wat hulle teenoor mense betoon. Hulle laat die mens God se genade en liefde beleef.

  • Word gekenmerk aan hul Goddelike wysheid, word ook genoem geeste van wysheid.

  • Word ook gesien met swaarde of septers.

  • Hulle beheer die boeke van Goed en Kwaad en word ook gesien as die bewaarders van die Geskiedenis. Hulle skryf alles, van elke mens op.

  • Hulle dra die gewete van die mensdom (the good, the bad and the ugly) en is ook die engele van geboorte en van sterftes. Skryf die naam van elkeen in ‘n boek op.

Owerheid Engele
Efe 3: 10 Sodat nou deur die gemeente aan die owerhede en magte in die hemele die menigvuldige wysheid van God bekend gemaak kan word.
  •  Owerhede se outoriteit is net soos op aarde, om mag en gesag uit te oefen. Hulle werk saam met Heerskappy engele en word ook gesien as veg engele maar hul hoofdoel is om toesig te hou oor die verspreiding van mag onder die mensdom, vandaar hul naam.  Hierdie engele se taak is om oor stede, groepe en agentskappe wag te hou. Hulle missie is om koninklikes, regters, presidente, politieke- en kerkleiers ensovoorts te beskerm en om insig en instink te gee dat mense met wysheid en geregtigheid sal regeer. Wanneer ons bid vir hierdie engele se bystand sal hulle toesien dat opdragte of reëls toegepas word, hulle sal deur instink mense die regte besluite laat maak. Deur hul outoriteit is hul in beheer van omstandighede en sal bonatuurlik toesien dat mense sal luister.  
  •  Hulle hoof aanvoerders is Raquel, Anael, Cerviel en Nisroc. Hulle veg onophoudelik vir die goedheid van die mensdom.  Daar word vertel dat hierdie engele “schemes”en truuks kan keer voordat dit gebeur. Hulle laat die rooi ligte flikker “gee waarskuwings” wanneer die mense oor wie hulle aangestel is nie seker voel oor besluite of wanneer iemand hulle wil indoen. 
Hulle is organiseerders van die Christelike geloof en stuur energie uit om positiewe aanslagte in God se kerk te behou. Hulle sien dat geregtigheid geskied en reguleer chaos. Hulle sal boodskappe na jou bewaarengel toe stuur as iemand jou wil te na kom.  Hulle ontsyfer versteekte agendas.  Hulle beskerm jou huis, jou familie, jou eiendom of aan enige groep wat vir God vra vir beskerming.
Krag Engele
 •    Hierdie engele is oor die kosmos aangestel, hulle beskerm die kosmos en mensdom teen bose magte. Hul hoofdoel is om die Aarde en Hemel in stand te hou en om na die skeppingswerk van God om te sien.  Hulle kan baie groot engele wees en word gesien as die “werkesels”.  Hulle beskerm God se skeppingswerk en dit is ook hulle taak om die woeste storms, wind en verwoesting wat die einde van die tyd inlei, in bedwang te hou. Krag engele assisteer ook Owerheid engele in hul taak om lande, stede, gemeenskappe ensovoorts te help.
•    In Openbaring 10 lees ons van hierdie ontsaglike groot engele:  EN ek het ’n ander sterk engel uit die hemel sien neerdaal, bekleed met ’n wolk, en ’n reënboog was oor sy hoof, en sy aangesig was soos die son, en sy voete soos pilare van vuur. In sy hand het hy ’n geopende boekie gehad, en hy het sy regtervoet op die see gesit en sy linkervoet op die land en hy het met ’n groot stem uitgeroep soos ’n leeu wat brul, en toe hy uitgeroep het, het die sewe donderslae hulle stemme laat hoor. En toe die sewe donderslae hulle stemme laat hoor het, wou ek skrywe; maar ek het ’n stem uit die hemel vir my hoor sê: Verseël wat die sewe donderslae gespreek het, en skryf dit nie op nie. Die engel wat ek op die see en op die land sien staan het, het sy hand na die hemel opgehef, en hy het gesweer by Hom wat tot in alle ewigheid lewe, wat die hemel geskape het en wat daarin is, en die aarde en wat daarin is, en die see en wat daarin is, dat daar geen tyd meer sal wees nie. Maar in die dae van die stem van die sewende engel, wanneer hy met die basuin sal blaas, dan is die verborgenheid van God volbring, soos Hy die blye tyding verkondig het aan sy diensknegte, die profete.
•    As ons lees in 1 Pet 3:22 Jesus Christus wat heengegaan het na die hemel en aan die regterhand van God is, terwyl engele en magte en kragte aan Hom onderwerp is, sien ons dat wanneer verwys word na Krag engele, wys dit daarop dat hulle nie alleen die bevoegdheid het om krag uit te oefen nie maar ook die bevoegdheid het om dit te gebruik. Hulle word stromwinde en vuurvlamme, hulle kan boodskappe dra na die mense deur wind, wolke, weerlig en kan ook aardbewings veroorsaak. Hulle beskerm en ondersteun nie net nie, maar is ook uitstekende vegters. 
Magte Engele
Leërskare of magte beklemtoon militêre organisasie. Teen bose engele werp die HERE Sy Engelemagte in die stryd. Al Sy sigbare en onsigbare, trone, heerskappye, owerhede en magte.

1 Kon 22:19 En Miga praat verder: “Hoor die word van die Here! Ek het die Here op sy troon sien sit met die hele hemelse leërmag wat weerskante van Hom staan.

Mat 26:53 Of dink jy dat Ek nie nou my Vader kan bid en Hy vir My meer as twaalf legioene van engele beskikbaar sal stel nie……. As ons vra sal God Sy Leërmag engele vir ons beskikbaar stel, na Sy wil.

Jes 13:4-5 Hoor, ‘n gedruis op die berge soos van baie mense! Hoor, ‘n rumoer van die koninkryke, van versamelde nasies! Die Here van die leërskare hou wapenskouing oor ‘n oorlogsleër. Hulle kom uit ‘n ver land, van die einde van die hemel af, die Here en die werktuie van sy grimmigheid, om die hele aarde te verwoes. 

Die vraag in Ps 68:18 is: “Is dit God se leërmag wat Sy strydwaens beman”. Die skitterende strydwaens van God was duisende, duisende der duisende, toe die Here van Sinai af die heiligdom betree het.

‘n Plek in die Bybel waar ons die grote van hierdie magte kan visualiseer is in 2 Kon 6:16 Maar hy antwoord: Vrees nie; want die wat by ons is, is meer as die wat by hulle is. Perde, strydwaens, engele almal is ingespan om Elisa te kom help.

Wat meer kan ‘n mens nog sê oor hierdie Magte, die Bybel is so duidelik daaroor. Hulle word uitgestuur ter wille van elkeen wat die saligheid sal erf. Hulle beskerm die Kerk van Jesus Christus. Hulle kan gesien word as die engele wat die grense van die Hemel beskerm, ‘n elite eenheid, die hooflyn van verdediging teen demoniese aanvalle in die Hemel en op Aarde.

Aardsengel: Migael - Leier oor alle hemelwesens


Die aartsengele kry ‘n besondere bevoorregte posisie, in die grootste gedeelte van die Hebreeuse Bybel is engele naamloos, maar in die boek Daniël word twee van die aartsengele by die naam genoem: Migael Dan 10:13; 12:1 en Gabriël Dan 8:16; 9:21. Hulle word ook in die Nuwe Testament genoem  waar God vir Gabriël na die maagd Maria stuur om vir haar te sê dat sy swanger gaan word, Luk 1:26  en in Openbaring 12:7 veg Migael en sy engele teen die draak en sy engele. Raphael word ook in die Apokriewe boeke genoem as ‘n Aardsengel.  Sekere bronne gee 7 Aardsengele aan naamlik: Gabriël, Migael, Raphael, Uriël, Raguel, Remiel en Sariel.
Ek wil graag oor 2 aardsengele uitbrei omdat hulle aan ons bekend is:
Migael : ”Wie soos God is”.  Hy is aangestel oor al die engele, dit sluit die engele van die hoogste orde ook in, As ons lees met hoeveel respek en eer daar van Migael geskryf word in die Bybel, is die vraag inteendeel wie word die hoogste aangeslaan, die Gerubs of die aardsengel Migael? Lees hierdie dan besluit jy vir jouself: Migael is die een wat Satan oorwin en uit die Hemel gewerp het.  Sy swaard word nie net gebruik teen Satan nie maar ook teen mense.  Hy word uitgebeeld soos ‘n mens en dit is hy wat die bevel gaan gee van Jesus se koms met die eindtyd. Hy word gesien as die belangrikste leier in die hemel. Hy word in Daniel 10:13 genoem een van die vernaamste vorste en in Daniel 12:1 word hy genoem die groot vors. Daar is net een groot vors en dit is hierdie Aartsengel. Groot vors en eerste prins beteken basies die selfde en is die twee Hebreeuse name wat vir Migael gebruik word. Hy is ‘n militant, 'n vegter en lojaal aan God.
As gevolg van sy posisie het hy spesifieke verantwoordelikhede:
•    Hy is in bevel van die ander engele en moet beheer uitoefen oor hulle.
•    Migael het ook die titel van hoof prins. As ‘n hoof prins is Migael verantwoordelik vir die volk van Israel en dit is waarom dit Migael was wat die liggaam van Moses beskerm het in Judas 1:9  en in Daniel 10:13-21 maak Migael seker dat Daniël die nodige openbaringe aangaande Israel se toekoms ontvang. In Daniel 12:1 sien ons dat dit Migael is wat vir Israel gaan beskerm gedurende die groot verdrukking.
•    Toekomende pligte wat aan Migael toevertrou is, is om die aankondiging van die wegraping te doen. 1 Thes 4:16
•    Open 12:9 Hy het Satan en sy demone uit die Hemel gewerp en dit is sy werk om te sien dat hulle daar uitbly.

Aardsengel Gabriel
Gabriël: “Man van God of Sterkte van God”.
Dra fyn linne klere met 'n goue gordel. Hy word simbolies uitgebeeld in 'n liggaam wat blink soos edelstene en weerligstrale, oë wat vlam, arms en voete soos koper. Maar tog ook duidelik lyk soos 'n mens. Sy stem ruis soos 'n skare mense sin en hy straal vrees met sy voorkoms uit. Deur hierdie voorstellings kan ons sien die glorieryke beeld wat God van hom skep.
Hy bring goeie en slegte boodskappe. Hy weet van elke gebed wat ons na God toe maak. En hy weet presies hoe God oor elkeen van ons voel en hy is nogsteeds besig om teen Satan en sy demone te baklei. Hy het 'n groot meester wat hom help hiermee naamlik Migael, hy is Migael se onderdaan. Hy bring visoene na mense toe, hy vertroos hulle, bring kalmte, rus, insig en sterkte. Hy bring nie net alleen visoene nie maar hy interpreteer dit ook. Hy weet wat in die toekoms gaan gebeur maar weet ook nie die einddatum nie. Gabriël se hooftaak is om ʼn boodskapper te wees wat openbarings van God vir die mens bring. In Daniel 8:15-27 maak Gabriël aan Daniël openbaar wat met Israel gaan gebeur aan die einde van die tyd as ook die tydskale in terme van die sewe, sewes of die sewentig weke van Daniël. Daarin is ook die tyd van Christus se eerste koms openbaar (Dan 9:20-27). In Luk 1:11-20 openbaar hy ook aan Sagaria die komende geboorte van Johannes die Doper en in Luk 1:26-38 openbaar hy aan Maria die komende geboorte van Jesus. Net soos Migael het Gabriël ook werk om te doen in die toekoms. In Lukas 1:19 lees ons dat Gabriël een van die engele is wat staan in die teenwoordigheid van God en in Openbaring 8:2 sien ons ook dat hy een van die sewe engele is wat staan in die teenwoordigheid van God en dit is hulle wat die trompet/basuin oordele van Openbaring 8 en 9 aankondig of uitstort op die aarde.

Die aartsengele kry 'n besondere bevoorregte posisie, in die grootste gedeelte van die Hebreeuse Bybel is engele naamloos, maar in die boek Daniël word twee van die aartsengele by die naam genoem: Migael Dan 10:13; 12:1 en Gabriël Dan 8:16; 9:21. Hulle word ook in die Nuwe Testament genoem waar God vir Gabriël na die maagd Maria stuur om vir haar te sê dat sy swanger gaan word, Luk 1:26 en in Openbaring 12:7 veg Migael en sy engele teen die draak en sy engele. Raphael word ook in die Apokriewe boeke genoem as 'n Aardsengel. Sekere bronne gee 7 Aardsengele aan naamlik: Gabriël, Migael, Raphael, Uriël, Raguel, Remiel en Sariel.  


Laaste orde van hemelwesens - Engele
In die Ou Vertaling word hulle die ‘seuns van God’ genoem en in die Nuwe Vertaling ‘hemelwesens’. Somtyds word die term engele gebruik om al die verskillende ordes van hemelse wesens te beskryf, maar hoofsaaklik is die term van toepassing op die laagste orde naamlik engele. Van aansien kom hierdie wesens, engele, voor as jong manne en hulle het nie almal vlerke soos wat hulle baie keer voorgestel word nie.

BEDIENINGE VAN ENGELE: 
1) Hemelse perde met waens bestuur: (2 Kon.2:12; 6:13-17; Sag.1:7-11; 6:1-6)
2) Bewaar poorte: (Openb.21:12)
3) Maak fisies oorlog: (Openb.12:7-9; 2 Thess.1:7-10)
4) Voer God se oordele uit: (Gen19; 2 Sam.24; 2 Kon.19:35 2 Kon.32:21)
5) Hulle dien gelowiges: (1 Kon.19:5-7; Dan.6:22; Matt.4:11)
6) Help mense: (Matt.18:10)
7) Sing loof en aanbid God: (Luk.2:13; Ps.103:20-21; 148:2; Openb.5:11)
8) Versterk die wat in verdrukking is: (Matt.4:11; Mark.22:43)
9) Bind die Satan: (Openb.20)
10) Waak oor die onderwêreld: (Openb.9:1; 20:1-3)
11) Aanskou bekerings: (Luk.15:8-10)

EIENSKAPPE VAN ENGELE:
1) Hulle is intelligent en wys: (2 Sam14:20; 19:27; Matt.24:25)
2) Hulle is nederig: (Num.22:22-35; 2 Pet.2:11)
3) Hulle is waardig: (1 Kor.11:10)
4) Hulle is heilig: (Mark.8:38)
5) Hulle word hoog geag: (Luk.9:26)
6) Hulle is onverganklik: (Luk.20:36)
7) Hulle is kragtig: (2 Thess.1:7-10; Openb.18:1)
8) Hulle is gehoorsaam: (Ps.103:20; Matt.6:10)
9) Hulle is hemelse boodskappers: (Ps.104:4)
10) Hulle is nie demone of geeste nie (Hand. 23:8-9)
11) Hulle is nie mense nie: (Hebr.2:16)
12) Hulle is beperk in kennis: (Mark.13:32)
13) Hulle het 'n vrye wil: (Jes.14:12-112
14) Hulle geestelike liggame met hande en voete, oë, stemme, monde, hare, en ander liggaamsdele en emosies (Rigters 13:6; Dan.10:5-21; Openb.8:1-9:21)
15) Hulle kan sigbaar of onsigbaar voorkom: (Num.22:35; Joh.20:12, Hebr.13:2)
16) Kan in die fisiese handel: (Gen.18:1,19:24; 22:11; 2 Sam.24; 2 Kon.19:35)
17) Kan baie vinnig beweeg: (Openb.8:13)
18) Kan tussen aarde en hemel beweeg: (Gen.28:12; Joh.1:51)
19) Kan verskillende tale praat: (1 Kor.13:1) 

Volk engele
 VOLK ENGELE
 God het aan elke land 'n engel gegee wat oor Sy kinders en Koningkryk moet waak. Die term hoof prins word gebruik vir engele wat mag het oor spesifieke nasies dis hierdie engele wat regeer oor ʼn nasie.

  • Dan 12:1 In daardie tyd sal Migael, die groot engel wat oor die lede van jou volk waghou, op die toneel verskyn.  Dit sal 'n swaar tyd wees, so swaar soos dit nog nooit was vandat daar nasies is nie.  In daardie tyd sal almal uit jou volk wat in die boek opgeskryf is, gered word.
  • Dan 10:20  Hy het toe vir my gesê: " Nou weet jy waarom ek na jou toe gekom het.  En nou moet ek teruggaan om teen die engel van Persië te gaan veg, en as ek met hom klaar is, sal die engel van Griekeland kom."

In die ou vertaling word daar verwys na die groot vors of sommige vertalings gebruik groot prins. Hier kan ons sien dat hierdie engele ‘n groot rol speel vir God se kinders veral in die eindtyd. As dit nie vir hulle was nie sou ons dit baie moeiliker gehad het. Maar God sal deur hulle oorwinning vir Sy kinders bring.

A)Vroue engele
BESTAAN VROUE ENGELE 
Die vraag of daar vroue engele is word nie in die Skrif vir ons uiteengesit nie en gelowiges verskil oor hierdie standpunt net soos wat hulle verskil oor die doop of wegraping, jy sal mense kry wat die volgende siening glo:
…“Nog ʼn ding omtrent engele is dat hulle nie reproduseer nie aangesien hulle almal manlik is. Daar bestaan nie so iets soos ʼn vroulike engel nie en dus kan hulle nie in die huwelik tree en vermeerder nie en hulle staaf hul siening met Markus 12:25 Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie. Want in die opstanding trou hulle nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie, maar is soos engele van God in die hemel….
Maar dis tog duidelik dat die vraag wat die Sadduseërs gevra het gehandel het oor aan wie sal ‘n vrou behoort in die opstanding as sy meer as een man gehad het. Dis tog duidelik dat hierdie vers nie gebruik kan word om te bewys dat daar nie vroue engele is nie maar alleenlik handel oor die lewe na die dood vir ons mense. Die bedoeling van Jesus met die woorde: “MAAR IS SOOS ENGELE VAN GOD” is net om te sê dat die natuurwette wat hier op Aarde geld nie in die hemel ook gaan geld nie.

Baie mense verwys ook na Job 38:7 waar na engele verwys word as “Seuns van God” duidelik net ‘n manlike aanslag.

En dan sal jy mense kry wat staan agter Sag 5: 9 Ek het opgekyk en twee vroue met vlerke wat in die wind sweef, na ons toe sien aankom.  Hulle het vlerke soos ‘n ooievaar gehad en het die mandjie opgetel en daarmee die lug in gevlieg.

B)Vroue engele verkeerd uitgebeeld
Ek weet dat engele meestal manlik gesien word maar kan getuig dat daar wel ook vroulike engele is.  Een ding wat ek duidelik moet uitlig is dat engele nie geslagtelik is nie, hulle het nie geslagsdele of borste soos die vroulike geslag op aarde het nie want hulle het geen nut daarvoor in die hemel nie. Hulle kom voor soos in foto (a), waar foto (b) hulle inteenstelling uitbeeld met borste.








Engele se kleredrag
DRA ENGELE NET WIT
In verskeie verse uit die Bybel soos in Mat 28:3. Mat 16:5, Luk 16:5, Luk 24:4, Hand 10:30 sien ons dat al die engele wat aan mense verskyn het in wit geklee was, In Openbaring lees ons dat die wat dit waardig is dra wit en dat ons gelyk aan engele gestel gaan word, en dat ons almal saam wit sal dra, Luk 20:35-36.
Wit getuig van reinheid en geregtigheid en wanneer ons in die teenwoordigheid van God staan is dit die kleur wat gedra word. Maar tog word engele ook gesien met ander kleure soos bv Op 4:4….wit klere aangehad, met goue krone op hulle koppe. Dan 10: 5…en sy heupe was omgord met goud.  Hand 10:31….. met blink klere. Open 9: 17 … hulle het vuurrooi en hemelsblou en swaelgeel borsplate aangehad.
Die internet is oorlaai met foto’s van engele wat halfnaak is of selfs in swart geklee is maar God se engele sal nooit naak of half geklee voor die aangesig van God staan nie.

Engel Beskerming
 ENGELE BESKERM NET GOD SE KINDERS
Sommige mense glo dat elke goeie mens ‘n engel het terwyl ander weer glo dat net Christene engele het. As ons Luk 15:10 lees kan ons sien dat engele verheug is wanneer ‘n persoon tot bekering kom hulle toon blydskap vir net een mens se bekering. Ons kan ook sien dat engele aan sekere mense toegeskryf word vir versorging en beskerming soos bv in 1 Kon 19:5-8 waar ‘n engel vir Elia versterk het. Hebr 1:14 "Is hulle nie almal dienende geeste wat vir diens uitgestuur word ter wille van die wat die saligheid sal beërwe nie?" Engele se hoofdoel is om te beskerm, die Bybel beloof dat die engele die sal beskerm wat Hom volg.
Maar wat van die wat nie glo nie, kan hulle op dieselfde beskerming aandring? Nee, die belofte is vir die wat Sy familie is en nie die wêreldse familie aankleef nie. Ps 34:8
Maar beteken dit dat God ongelowiges hier uitsluit? Nee, Hagar was nie deel van die familie van gelowiges nie maar ‘n Egiptiese slavin en God het in die vorm van ‘n engel aan haar verskyn. Gen 16:11 So waarom verskyn hulle dan aan ongelowiges? Dit is Sy besigheid en Sy bepalings, Hy is genadig. Sy seën reën op almal. 
Maar as ons kyk na ander gelowe wat ook onwrikbaar glo in engele se beskerming laat dit ‘n mens met die vraag: Bedien hulle werklik net God se kinders? Om hierdie te beantwoord moet mens kyk hoe ander gelowe engele sien. 
  • As die Moslems kan glo in Jinn (demone wat goed is) hoe kan hulle ‘n verskil bepaal tussen engele van God en goeie demone?
  • Boedhiste glo in Devas (engele) en om hulle in jou gedagtes te laat kom moet jy deur ‘n ritueel gaan genoem Sila wat ‘n bewuswording totstand bring wat tot jou innerself gekonnekteer is. Alles gaan oor jouself en geen eer word aan God gebring nie.
  • Hindoes glo ook in Devas (engele) maar dat hulle mense in hul vorige lewe was, hul glo dat mense     reïnkarneer in engele. Volgens hierdie geloof moet elke mens so leef volgens die “Bhavagad Gita” om hierdie wesens te kan word in jou volgende lewe.
Ek glo in wat Dawid vir ons leer, hulle hou wag oor die wat Hom dien maar ook dat Hy nie Sy genade aan ander uitsluit nie. Engele sal aan ongelowiges ook verskyn om hulle tot inkeer te bring maar engelbeskerming ontvang ‘n mens as jy die Drie Enige God aangeneem het.
 WAAR IS ENGELE IN ONS NOOD?
Seker die bekendste Psalm is waar God die belofte aan Sy kinders maak: Ps 91: 11-12 Want Hy sal sy engel beveel om jou op al jou weë te beskerm.  Hulle sal jou op die hande dra dat jy jou voet nie sal stamp nie. En dan is dit Jesus wat aan die woord is in Mat 18:10 “Maak seker dat julle nie op een van hierdie kleinstes neersien asof hulle onbelangrik is nie.  Besef julle dat die engele in die hemel wat oor hulle waak, elke oomblik in die teenwoordigheid van My hemelse Vader verkeer?”
Nou vra ‘n hartseer ouer die vraag aan God: “Hoekom het U dan nie U engele opdrag gegee om my kind te beskerm nie”. Waar was U engele toe my ouers vermoor is of toe ek verkrag is?
Soos die engelse dit uitdruk: Why do bad things happen to good people?
In hierdie wêreld van gevaar en hartseer moet elkeen van ons siekte, ongelukke of beproewings hanteer. God laat toe dat mense soms die moeilike of pynlike dinge in die lewe moet deurmaak.  Ons sien soos genoem in Ps 91 dat engele wag op God se bevel om mense te beskerm.  Vir my gaan dit nie oor die beskerming van engele of nie, dit gaan oor wat God se toelaatbare wil is, as God wil hê dat, kom ons sê vir argumentsonthalwe, ons in ‘n ongeluk sou kom, kan Sy engele teenwoordig wees maar mag hulle niks doen om die ongeluk te verhoed nie, want hulle weet dat God ‘n groter plan het met die gebeure. Wat sou gebeur het as al Jesus se dissipels lekker geleef het en elkeen afgetree het met ‘n huisie by die see, sou hulle dieselfde impak gehad het met wat die evangelie vir ons moes uitdra? Nee, dit sou nie, maar met elkeen van hulle wat wreed gesterf het, het hulle tot die einde toe bewys dit maak nie saak wat die lewe na hulle kant toe gooi nie, hulle sal God nooit verlaat nie, hulle sal eerder sterf vir Hom op hierdie maniere en Hom verheerlik want hulle het die waarheid geken en was bereid om daarvoor te sterf, met God se engele aan hulle sy.
Van die begin van die mensdom is daar oorlog, moord, verkragting, roof ens, dit sal nooit ophou nie, inteendeel dit gaan vir ons net moeiliker word en dit sal net uit die genade van God ons ontwyk of verlig word.  Die vraag wat jy moet vra is nie hoe ek sterf nie, die vraag moet wees waar gaan ek heen as ek sterf? Ongeag van enige slegte ding wat met ons gebeur God beloof Sy liefde, bystand en krag aan ons.
Lees hoofstuk 12 hier onder, waar Gabriël aan Daniël verskyn het, dit sal meer insig bring rondom hierdie vraag.  Daar het ook talle dinge in jou lewe gebeur wat jy nie eens bewus is hoe engele jou beskerm het nie, eendag sal jy verbaas staan as hierdie dinge aan jou ontbloot gaan word.

  • Geestelike beskerming: Engele werk konstant agter die skerms om ons teen die bose te beskerming.  Hulle kom te staan teen donker magte en sal tot die voleinding van die wêreld oorlog maak teen hulle, nie net om hulle uit die hemel te hou nie maar om hulle bose planne te stuit wat hulle tot uitvoering in ons lewens wil bring. Om hierdie te vermag werk hulle onder magtige engele se instruksies. In Eks 23:20 kan ons sien hoe hierdie bewaarengele werk.

  • Fisiese beskerming: Omdat hulle ons male sonder tel fisies beskerm van gevaar sodat ons God se doel in ons lewens kan bereik. In Dan 6 het ‘n engel die bek van leeus gesluit en so ook in Hand 12 is Paulus uit die tronk bevry.

  • Spesiale beskerming aan kinders:  Kinders weet nie hoe om hulleself te beskerm nie so natuurlik het hulle meer beskerming nodig.  Mat 18:10 gee vir ons hierdie berusting.

Getuienisse waar engele mense bygestaan het:



Het mense mag oor engele?
KAN ONS ENGELE OPDRAG GEE EN HET DIE MENS MAG OOR HULLE
Hulle voer die Here se opdragte uit en gehoorsaam Sy bevele, nie die van mense nie. Dwarsdeur die Bybel word vertel van ʼn skare engele wat deur die Here gestuur word om Sy opdragte uit te voer dus staan hulle onder Sy bevel. (Matteus 26:53). Selfs Jesus het op aarde as ʼn mens nie opdragte aan die engele gegee nie, maar kan sy Vader vra om hulle te stuur. Jesus het die pad vir ons oopgemaak om met vrymoedigheid na God te gaan met ons versoeke. God weet wat die beste vir ons is. Jesus sê: ‘Dit verseker Ek julle: Wat julle die Vader ook al in my Naam sal bid, sal Hy vir julle gee' (Johannes 16:23).

Mense getuig dat ons bo hierdie wesens aangestel is omdat ons lees in 1 Kor 6:3 dat ons oor hulle sal oordeel. Jesus het die mag oor alle wesens en volgens 2 Tim 2:12 sal die gelowiges saam met Hom regeer. Christus het as die Kaptein gely vir ons redding en is verhef tot die hoogste Troon in die Heelal en as ons op dieselfde manier vir Hom ly sal ons ook saam met Hom heers. In Heb 2:5-9 lees ons dat dit nie aan engele is dat Hy die toekomstige wêreld, waarvan ons praat, onderwerp het nie.  Inteendeel, iemand het êrens getuig en gesê: Wat is ‘n mens dat U aan hom dink, ‘n mensekind dat U na hom omsien? U het hom ‘n kort tydjie minder as die engele gemaak; U het hom met heerlikheid en eer gekroon. U het alles aan hom onderwerp.” Ons lewe as mense op aarde is baie korter as die lewensduur van engele sin. So moenie jou tyd op aarde verwyl met onbenullighede nie. Engele hou dus vandag wag oor ons, hulle is dienende geeste totdat ons die Koningkryk beërwe. Heb 1:14

Wanneer jy direk begin kommunikeer met engele begin jy op gevaarlike terrein beweeg.  Daar’s talle mense vandag en in die geskiedenis wat afgode van engele begin maak het en wat aandring dat jy jou bewaarengel moet vra vir hulp.  Volgens hulle is al wat jy hoef te doen, is om net te vra. Jy moet jou engel uitnooi om saam met jou te werk jy moet hom welkom laat voel by jou, ens, ens. Tog weet ons dat wanneer enigiets die plek van God begin inneem dimoniese gevolge kan hê, groot waarskuwingsligte moet flikker as jy ‘n wese om jou, begin vra vir leiding en hulp i.p.v. God. Moenie dat hulle intree tussen jou en jou geliefde Jesus nie.

Is dit dan voorbarig van ons om vir God te vra om Sy engele te stuur om ons te beskerm? Wie van ons het nog nooit gebid en gevra vir engelbeskerming nie? Mag ons ook vir die Vader vra om vir ons ‘n legion engele te stuur? As ek vir God vra om Sy engele te stuur vir beskerming sê ek Hom nie, ek vra Hom, ek stel geen eise nie en vra ook nie met verwagtinge dat Hy moet gehoorsaam nie. Die rede hoekom ek hierdie versoek aan Hom rig is omdat ek weet tot wat Sy engele instaat is deur Hom en dat Hy dit alleenlik sal toestaan omdat Hy ‘n genadige God is. As jy my vra of ons God mag vra vir engelbeskerming is die antwoord verseker Ja! Solank jy dit deur Hom doen.

Engele geskape
WANNEER IS ENGELE GESKAPE
Job 38:1-4 antwoord hierdie vir ons: “wie is dit wat My wysheid bevraagteken met woorde van onkunde? Staal jouself! Ek sal die vrae stel, en dan antwoord jy My.  Waar was jy toe Ek die fondasie van die aarde gelê het? Sê My as jy so baie weet! Wie het die aarde opgemeet? Jy weet tog seker!  En wie het die maatband oor die aarde gespan?  Waarop rus die fondasie van die aarde? En wie het sy hoeksteen gelê?  Toe het al die môresterre saamgesing en die hemelse wesens het van vreugde gejuig.

Kind engele
BESTAAN KINDER GROOTTE ENGELE
Een van die dinge wat ons geleer word in die kerk is juis dat engele nie klein babatjies is nie, daar word baie klem gelê op die grootsheid en magtigheid van engele en om hierdie rede kan daar nie na engele verwys word as klein baba figuurtjies nie.
Sommige mense glo dat die “gier” om engele uit te beeld in hierdie vorm begin het in die Renaissance tydperk en dit is hulle wat vandag Gerubs genoem word. 
Maar my vraag is:  Hoekom is daar dan getuienisse van gelowiges wat engele sien as klein mensies met vlerke. As God engele kan maak wat kilometers hoog staan hoekom kan Hy nie ook engele maak wat so groot is soos kinders nie? 

Ek het wel op ‘n webwerf afgekom wat hierdie engele ’n naam gee, “Virtues” Ek haal aan: “At times, Virtues may appear as young, winged children” http://www.angel-ology.com/The_Virtues_Choir.html

"The ministering angels I have seen look just like human beings, as I said before. The worships angels look like a broad variety of people, men, women, boys and girls, even some that look like small children. http://www.angelsonassignment.org/sequel/more_angels.html

Die openbaring wat God vir my gebring het rondom hierdie engele is dat hulle omtrent die grootte is van ±4 jarige kinders met donker krul koppe. Wanneer engele kaal uitgebeeld word of as babas moet dit bevraagteken word, sien die openbaring wat ek ontvang het oor hierdie engele onder Openbarings oor Engele.

Daniel 10
 PRINS VAN ISRAEL VS PRINS VAN PERSE
 “Die engel sê vir Daniël dat hy gekom het om die antwoord op sy gebed te gee. Op die eerste dag van sy gebeds- en routyd is dit al in die hemel gehoor en het die engel al opdrag gekry om die antwoord na die aarde te bring. Maar die antwoord, die merkbare gebedsverhoring het vir 21 dae lank uitgebly. Vir drie volle weke lank is hierdie magtige engel verhinder om sy werk te doen want die “vors van die koninkryk van die Perse” het met hom geveg. Dit was dus 'n magtige bose engel uit die atmosfeer van die hel. Die geveg tussen die gees uit die hel en die boodskapper van God was so geweldig dat hulp verleen moes word deur een van die vernaamste engelvorste, Migael , sodat God se engel kon oorwin, sodat die bose gees nie die konings van Persië kon opsweep teen die Jode nie.  Eers daarna kon die engel, wat soos alle skepsele net op een plek tegelyk kan wees, verder gaan. Die engel sê ook wat die doel van sy koms is, naamlik "om jou inligting te gee oor wat jou volk aan die einde van die dae te beurt sal val”. Die engel openbaar aan die profeet en ons dat daar voortdurende stryd in die geestewêreld is maar dat die steun aan die Godsvolk, aan die Kerk voortgesit word. Al was die stryd in die geestewêreld nog in volle swang gaan die engel vir Daniël bekendmaak wat “in die boek van die waarheid” staan. Wat ook al in die geskiedenis gebeur het, vandag gebeur en nog sal gebeur sal nooit in die minste afwyk van God se besluit nie. Daarom kan die engel die toekoms bekend maak as iets wat onwankelbaar vasstaan. Die verwerkliking van die raad van God sluit die stryd van die engele nie uit nie en ons stryd ook nie. Die engele kan alleen veg in en deur die krag van God, vir ons geld dieselfde. Dit is so deur God bepaal en beveel. Engele sal, na die openbaring aan Daniël, veg vir Israel maar nogtans sal dit 'n tyd wees wat rooi is van martelaarsbloed. Dit laat ons vra: waarom het God nie meer engele na die slagveld in die hemelruim gestuur nie? God is tog as die Almagtige sterk genoeg om die Satan met sy magte te verslaan? Die Boek van die Waarheid waaruit die engel 'n deel aan Daniël bekendmaak, bevat die lydensweg van Israel. Ja, die voet word wel op die kop van die slang gesit, maar nie sonder die venynige slangbyt in die hakskeen nie Gen 3: 15. Die strydengele het dan ook nie die opdrag ontvang om die volkome oorwinning te behaal nie. Dit is net en alleen die reg van Hom wat Here is van mense en engele. Die twee hemelse engele se werk was "slegs" om deur hulle invloed te sorg dat die lyde nie so ondraaglik erg sou word dat Israel totaal sou ondergaan deur die sataniese invloede nie. In hierdie somber en benouende tydvak ontbreek die troos nie. Wanneer die nood op sy hoogste is sal die engelevors Migael intree. Daar is 'n besondere band tussen hom en Israel. Dit gaan hier spesifiek oor Israel se bestaan as volk van God, dus oor die voortbestaan van die Kerk. Migael word ingeskakel sodat die Kerk beskerm word, sodat die 'volheid van die tyd ' kan kom. Migael - wie is soos God - staan Teenoor die magtiges van die wêreld, teenoor die geestelike magte wat in die koninkryk van die Perse en later die Grieke die lewe beheers.  In die vraag 'wie is soos God?  lê eintlik al die hele geheim van die uitverkiesing van Israel opgesluit. Die God van Israel is die God wat teen al die gode van die wêreld en so teen al die volke wat dienaars van daardie magtelose afgode is, ingaan. Ons moet as Nuwe Testamentiese Kerk die lyne ook uit die Daniëlboek deurtrek na die jongste dag wanneer die aartsengel met skoonklinkende basuingeklank die koms sal aankondig van Hom wat meer is as Migael en wat kom in die dae van die seun van die verderf. Die groot oorwinning word gegee aan die Seun van God, die Leeu van Juda. Eendag sal alle stryd en lyde beëindig word. Paulus sê: "God wat vrede gee, sal die Satan spoedig onder julle voete verpletter" Rom 16: 20 Hierdie God wat vrede gee se vredesryk sal ewig bly voortbestaan. 'n Rukkie nog, en kyk dan weer - die goddelose 's daar nie meer ! Sagmoediges sal alles erf en vrede sonder eind' verwerf. Ps 37: 6”

Uittreksel vanaf: http://www.enigstetroos.org/ Dr Bogaards

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking