25 Julie 2018

Hoe gee mens liefde as jy nie liefde ontvang nie


Hoe betoon mens liefde aan mense wat jou nie lief het nie, jy is nie eers lus om ‘n glimlag in hul rigting te wys nie wat nog te sê jou arms om hulle te slaan en hulle welkom te heet in jou midde, dit is mense wat na aan jou is, jou familie, jou vriende, kollegas waarmee jy elke dag omgaan. 
En wat van al die negatiewe invoer van koerantberigte, facebook boodskappe en whatsapp’s wat ‘n mens se lyn van liefde/haat fyn laat sny,’n toets wat mens maklik kan laat swaai na liefdeloosheid.  Inteendeel, dit is lekker om deel te word van die bekgevegte waar politiek, ras of geslag geopper word en jy jou siening kan deel en taal kan gebruik wat jou ma se ore kan laat tuit. Hierdie nuwe sosiale netwerke of platvorms waar mens hard probeer om positief te wees of sedelike waardes toe te pas, is reeds die plekke wat 'n mens se geduld toets tot die uiterste toe.  Dit is hier waar die samelewing rondhang en dinge soos aborsie, naaktheid in openbaar of vrylike gebruik van dwelms goed praat, probeer dit teëstaan en jy kry doodse stilte van die Christene en ‘n hewige storm van liberale en vrydenkers.  Dink die vinnigste waar liefde vergeet is as jy gekonfronteer word met  liberale ideologieë, ‘n monster wat in ‘n mens wakker gemaak word, jy wil opstaan en uitskree teen ‘n samelewing wat sedelikheid en konserwatiwiteit sien as middel-eeus en dom.  Jy kan maklik ingetrek word in ‘n wêreld waar jy deel wil word waar oproer, geweld, plunder en doodmaak die norm van die dag geword het want dit voel vir jou of dit al manier is hoe ‘n mens se stem gehoor kan word, soos die Engelsman sou sê: “If you can’t beat them join them”.

‘n Ander voorbeeld:  Vat enige profiel van ‘n reeksmoordenaar, verkragter of ‘n rower en bekyk hulle kinderdae.  Geweldadige mense wat genot put om ander seer te maak, hulle het nooit self liefde geken nie, kom uit gebroke huwelike en liefdelose kinderdae, ‘n broeiplek om ‘n krimineel groot te maak en natuurlik, Satan se kos.  Gaan tik op die internet enige ter dood veroordeelde se naam in en kyk wat is die geskiedenis van hierdie mense.  Die deursnee inligting is liefdeloosheid, verwerping, mishandeling, gebroke huwelik van ouers en seksuele misdrywe teen hierdie mense as kind.  Aileen Wuornos, Donald Henry Gaskins, Tsutomu Miyazaki, Ted Bundy, Luis Garavito reeksmoordenaars wat die wêreld geskok het met hul geweldadige dade en liefdelose optredes, maar elkeen van hulle het grootgeword in omstandighede wat enige kind in ‘n monster kan laat verander.
Hoe gee jy liefde na mense as jy elke dag begroet word met haat en bitterheid, val jy ook in dieselfde groef en baklei terug met snedige aanmerkings en haatlike vloekwoorde of betoon jy liefde. Wat het van geduld, blydskap, vrede, goedheid, sagmoedigheid en selfbeheersing geword? 

Die antwoord is eenvoudig, jy kies die goeie of jy kies die slegte. Jou keuses bepaal jou lewe, jy kies om kwaad te word, of jy kies om weg te stap, kies jy Jesus of kies jy Satan. Kies jy om uit te draai in die krimineel wat omstandighede jou in kan laat verander of kies jy liefde.
Wat sê die Bybel hoe moet ons optree as jy nie liefde ervaar nie”

In ‘n land: Daar is ‘n volk wat ‘n ander een onderdruk en haat, wreedheid, vrees, verwoesting en vernietiging is al taal wat hulle geken het, God het geen plek in hierdie mense se lewe gehad nie.  In diè verhaal wat in die Bybel vertel word was dit die Assiriërs en mens sou gedink het dat Koning Hiskia wou opgetrek en oorlog sou wou gemaak het maar hy hanteer dit op ‘n manier wat mens net in verwondering  laat, 2 Kon 19:

Hiskia het gekies om die vrees na God toe te neem en God het die Assiriërs in een nag uitgewis. M.a.w laat die keuse aan God oor om die haat en boosheid van mense te stop, laat die mense ‘n land se probleme voor die voete van God kom plaas sodat God die finale beslissing kan maak.  As jy haat met haat begroet sal die siklus nooit gestop word nie.  Alhoewel God die skepper van liefde is, is Hy die een wat die besluit maak om haat te stop.   Die Assiriërs was ‘n wrede nasie wat geen genade betoon het teen die wat hulle verower het nie, God gaan op ‘n stadium ingryp teen wreedheid, moord en onreg teen die mensdom, sodat mense in liefde en vrede kan voortleef.

Die vraag hoekom ‘n God van liefde besluit om ‘n einde te maak aan ‘n nasie wat dit hul missie gemaak het om ander te moor, verkrag, onderdruk en te verniel is die antwoord maklik.  As jy teen liefde, vrede, goedheid en God staan, staan jy vir Satan en God sal die oordeel fel.

In ‘n huwelik: Hoe moet ‘n mens optree as jy nie liefde ontvang in ‘n huwelik nie. Wanneer God ‘n huweliksprobleem benader doen Hy dit uit ‘n oogpunt om die probleem op te los en nie hoe om die huwelik te ontbind nie. Op die einde as jy nie liefde ontvang van jou maat nie getuig God in die Bybel dat Hy aan die kant van die regverdige is en Hy hoor die gebed en klagtes van die klaer.  Gehoorsaamheid aan God bring altyd vreugde op die einde.

             1 Kor 7:5 Seks is belangrik

1 Pet 3:7 Eer en respek sodat julle gebede verhoor kan word (Huwelike is geestelike oorlog sones) Baklei vir jou huwelik, nie teen mekaar nie.

Efe 5: 25-28 Hier gee God duidelike riglyne hoe om die huweliksprobleme met liefde op te los.

Teen vreemdelinge:  Dit is daardie mense waarteen jy skouer skuur in die gange, die wat jy raaklees op Facebook, die een agter die kasregister of toonbank en die wat jou petrol ingooi en asblikke leegmaak, jou buurman en jou naaste.

Mat 22: 37-40 As Jesus getoets word met die vraag wat is die belangrikste gebod is Sy antwoord eenvoudig…… die een van LIEFDE. Wees lief vir God, wees lief vir jouself en wees lief vir jou naaste.  As jy liefde uitdra na almal om jou kom jy al die gebooie na, dan sal jy nie egbreuk pleeg nie, jy sal nie lieg nie, jy sal nie moor of steel nie want jou hart is gevul met liefde.
Dit is soms vir ons moeilik om God se liefde te verstaan omdat ons dit moeilik in mekaar kan raaksien en as ons God se liefde ervaar, kan ons dit gee.  As ons God se liefde aanvaar is die uitdeel daarvan spontaan.  In ‘n gebroke wêreld waar dit vir ons voel of alles vervloek is, bring dit vir ons ‘n gees van ongelukkigheid en soek ons vreugde en geluk in wêreldse dinge, ons soek bevrediging by mense en tas rond in ons eie gedagtes van depressie. 

As jy verwerp voel, soek vrede in God soos wat Koning Dawid gedoen het in Ps 27:10 Al sou jou ouers jou verlaat, God sal jou onder Sy vlerk neem.  

As jou lewe sonder liefde is en jy wil nie liefde gee omdat jy voel ander verdien dit nie onthou die volgende woorde: GOD IS LIEFDE….. 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking