23 Augustus 2017

DRUK GOD SE HAND SWAARDER OP DIE BOEREVOLK



                               WIE WAS DIE MENSE WAT GOD NA AFRIKA TOE GESTUUR HET

Franse: Om en by 200 Franse Hugenote kom na Suid-Afrika van die 400 000 Protestante wat wou wegkom van Rooms Katolieke vervolging in 1688 en so het ‘n “Gideonsbende” aan die Suidpunt van Afrika hul ontstaan begin.  Baie van die protestante het na Holland, Brittanje en Amerika gevlug, net vir interessantheid kan ons sien dat die vrou van Jan van Riebeeck, Maria de la Queillerie se oupa Chretien uit Frankryk ook ‘n vlugteling was.  Via Holland het baie van hierdie vlugtelinge vrypas gekry om na Suid-Afrika te kom of laat mens eerder sê dit was ‘n geleentheid vir die Hollanders om van die vlugtelinge ontslae te raak.  Die onderdrukking en vervolging het al vir meer as ‘n eeu aangehou as mens besef dat Bartholomeüsnag op 24 Augustus 1572 plaasgeving het.

Baie van die Hugenote sterf oppad hierheen omdat hulle kosrantsoene swak en min was en mens sou graag wou gehad het dat hul aankoms hier vir ‘n plek van hoop en vreugde sou verseker maar as mens lees wat die teendeel was is dit hartseer om te sien dat hulle verstrooi is tussen ander volke met net die nodige materiaal om ‘n tydelike woonplek te bou.  Maar tog word beweer dat dit die room van Frankryk was wat hierheen gekom het, welgestelde boere wat gevlug het omdat hulle hul God openlik wou dien.  Hierdie wynboere het nie tou opgegooi nie, hulle het volhard en van die meeste boerderye ‘n groot sukses gemaak.

Duitsers: Ek dink nie mens kan die Duitse geloofsreis beskryf sonder om Martin Luther te noem nie, ‘n Duitser wat opgestaan het teen die magtige Rooms Katolieke oorheersing en vervolging van Protestante.  In 1555 is die Vrede van Augsburg geteken wat die Duitsers in gebiede opgedeel het met sentraal en Noord-Oostelike dele meestal Protestant en met Wes en Suidelike dele Katoliek, as mens stambome navolg kan mens sien dat die meeste Duitsers vanuit hierdie gebiede na Suid-Afrika gekom het. Vir dekades word protestante behandel asof hulle die uitvaagsels van die samelewing is en baie Duitsers vlug via Holland hierheen om nuut iewers oor te kan begin.  Dit was ook die Duitsers wat die meeste predikante gebring het en wat hul weg oopgesien het om aan te sluit by die Vereenigde Oost-Indische Compagnie om as soldate hierheen te kom . Daar word ook genoem dat in die 1700’s daar meer Duitsers aan die Kaap was as wat daar Hollanders was.

Hollanders: 'n Nederlandse ekspedisie van 90 Calvinistiese setlaars, onder leiding van Jan van Riebeeck en die Politieke Raad, stig die eerste permanente nedersetting naby die Kaap de Goede Hoop in 1652 en so is die geskiedenis van hierdie groep mense aan niemand onbekend nie.

Die geskiedenis wys ons dat die Duitsers en Franse almal via Holland vlugtelinge was wat vir hul geloof hierheen gekom het en saam met 'n groep gelowige Hollanders het God ‘n volk begin op die punt van donker Afrika om deur hul geloof, lig te bring en die evangelie te kom versprei met die eerste Gereformeerde Kerk gebou alreeds in 1665.

Was dit blote toeval dat hierdie groepe mense almal Protestante en Calvinistiese setlaars was?

Mens kan duidelik sien dat God ‘n groter plan ingedagte gehad het!


                                                                 DIE TWEEDE GROEP PIONIERS

Maar nou is die vraag, het hierdie nuwe volk die doel van God kom uitleef?

Vir 130 jaar lyk dit of alles goed loop tot en met die uitbreek van die 100 jarige Grensoorloë in totaal 9 van hulle, vanaf 1779-1879 tussen Grensboere, Xhosas en die KhoiKhoi.  Xhosas wat boere en dorpe aangeval het, vee steel, verwoesting saai en boere uitmoor, ‘n verhaal wat hom oor die komende honderde jare oor en oor afspeel. En deurlopend deur hierdie 100 jaar woed die een droogte op die ander een.  Jy sit met ‘n oormag ongeskoolde mense wat een doel het en dit is om te veg vir grond en vee, en aan die ander kant sit jy met ‘n groep wat gekom het om vryheid van geloof te kry, die evangelie te versprei en ook om onafhanklik ‘n bestaan te kan maak. 

En so bring dit ons uit tot by die Groot trek. Die Engelse wat beheer oor die Kaapkolonie gekry het, het geen verbetering vir die boere gebring nie, hulle toestande het eerder verswak omdat die Engelse geen begrip vir die grensboere se probleme gehad het nie wat die pioniers genoop het om te soek na land wat ver buite bereik van die regering sou wees en waar hulle op hul eie hulself kon beheer.  En hierdie trek begin in 1835, 183 jaar nadat hulle hier geland het los hulle alles agter, hul huise, plase ens en trek hulle net met die nodige noordwaarts na baie jare van oorloë teen ‘n oormag wat ‘n volk uitgemergel en voos gelaat het en wat gesit het met ‘n regering wat min simpatie getoon het. 

Lyk die prentjie nie baie soos die een wat hom vandag afspeel nie? Die Geskiedenis word herhaal met ‘n bitter stryd teen ‘n magdom van wreedheid teen ‘n groep wat selfbeskikking en onafhanklikheid soek en so verrys die Voortrekkers wat hierdie keer nie vlug vir hul geloof nie maar vir onafhanklikhid en wat uiteindelik die ontstaan van Oranje-Vrystaat en Transvaal gebring het en weet julle wat, so vêr soos wat hierdie mense trek bou hulle kerke en versprei hulle die evangelie.

Nie eers die Anglo-boereoorloë kon hierdie volk met ‘n missie stuit nie ‘n nuwe stryd tussen die Boere en Britte.  Die Britse volk wat wil onderdruk en vat wat hul nie toekom nie, 35 000 boere staan weer teen ‘n oormag van 450 000, ‘n oormag wat alles verwoes soos hulle ingekom het waar kinders en vrouens in konsentrasiekampe onder haglike omstandighede probeer oorleef het.  Die boere se ongelyke stryd was swaar en hul kon nie voortgaan om teen hierdie oordonnerende mag te staan nie en uiteindelik in 1902 word die vredesooreenkoms geteken wat later gevolg het op ‘n nuwe Unie van Suid-Afrika in 1910, en nogsteeds het die volk nie gaan lê nie, ons het opgestaan en ‘n nasie geword waarvan die wêreld notisie kon neem.

Nog ‘n Grensoorlog of Bosoorlog soos dit ook bekend gestaan het, het ons volk se Geskiedenis vir altyd kom verander vanaf 1966-1989 het ons te staan gekom teen kommunistiese magte SWAPO, FAPLA  en Kuba, met selfs Sjina wat ‘n aandeel gehad het, wat ons beveg het in die destydse Suidwes-Afrika, Russies geïnspireerde magte wat ons met die wapen kon uithou totdat die Berlynse muur tot ‘n val gekom het in 1989, die muur se val wat die begin van die einde van Kommunisme beteken het. Maar terselfde tyd baklei ons binnensland teen die kommunistiese ANC, PAC en SAKP wat ook deur Rusland en Sjina bewapen en opgelei word, ‘n groot politieke stryd is veroorsaak, ‘n stryd wat vir dekades aangehou het met geweld, moord en terreur, alles ten doel om die Boere Afrikaners te vernietig en ‘n einde te maak aan wit oorheersing. ‘n Stryd wat weereens nie volgehou kon word teen die massa nie en waar ons weereens die leisels moes neerlê.

En hier sit ons vandag 20 jaar later en die smeltkroes waarin die volk gedompel is, het vir ons te groot geword om te dra, die volk wat veronderstel is om die evangelie te versprei, kerke op te rig en die Woord van Blydskap na ander volke uit te dra. 

·         Het ons, ons missie verloor?

·         Het ons die aanvanklike doel hoekom God ons hierheen gebring het versuim?

·         Het ons God in die proses verloën en afvallig geword?

Of

·         Ons het nie gaan lê nie en te midde van die stryd nogsteeds God ons aanvoerder gemaak.

·         Ons het uitgegaan en vissers van mense gemaak.

·         Ons het as ‘n volk afvallig geword maar ons het terug gedraai en ons weet dat God ons nie verlaat het nie.

God het hierdie volk wat Hy aan die Suidpunt van Afrika byeengebring het nog nooit verwerp nie, deur elke krisis wat ons getrap en gebloei het, het ons anderkant uitgekom, miskien nie heel nie, miskien stukkend en verniel maar ons het dit gemaak.  Ons het elke keer met God aan ons sy opgestaan en weer begin, ons het ons doel wat God vir ons gehad het elke keer kom voltooi. Die wiel draai elke keer weer en so sal God weer sorg dat ons dit wat Hy beplan het kan uitvoer in ‘n samelewing van vrede, in ‘n tyd van vreugde en in gunstige omstandighede. God sal weer vernuwing bring,  Hy sal weer herstel bring, Hy sal weer vir ons kom wys dat die stryd wat ons voer tot die einde toe nie verniet is nie, Hy sal altyd daar wees om ons heel te maak, die stof af te skud, die bloed en trane af te vee en ons tot ere te herstel.

Ons sal weer ‘n volk word waarvan die wêreld notisie sal neem, nie ten gunste van ander volke nie maar ten gunste van die doel wat God vir ons in gedagte het. En so sal ons volk se stryd aanhou tot Jesus ons kom haal, dis bestem, ons sal platgeslaan word en ons sal opstaan, ons sal verneder word maar sal weer opgehef word, ons sal vernietiging in die gesig staar maar ons sal weer nuut gemaak word…. Want Satan sidder om te sien wat ons vermag, hy sal aanhou om hierdie volk wat God opgerig het te kom vernietig, maar hierdie volk het nog elke keer opgestaan en ons sal weer opstaan want solank ons God by ons het, solank sal ons ‘n magdom skare kan stormloop.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking