14 April 2015

Waarheid: God straf sonde


www.freeheartday.com
Ek stap nou al ‘n paar jaar waar God my gebruik om boodskappe oor te dra na mense maar een ding wat vir my soos ‘n paal bo water uitstaan is dat mense glad nie daarvan hou om te hoor dat hulle verkeerd doen nie, veral nie as hulle al lank Christene is of as hulle mense is wat ‘n sterk geestelike pad met God loop nie. Sodra jy vir mense sê dat hulle sondig of verkeerd optree in God se oë dan word jy “delete” of uitgekryt as iemand wat met die Bybel onder die arm loop en natuurlik dat jy hulle nie moet oordeel nie.  Vriende wat ‘n lang pad saam my geloop het, het hul rug op my gedraai omrede ek vir hulle sê dat God ‘n probleem het met hoe hulle optree of wat hulle doen.

Dis verstaanbaar dat mense God net wil sien as iemand wat bemoedig, liefhet en net die goeie oor jou wil spreek en wil bring.  Gelowiges wil ‘n God dien van goedheid en guns , hulle soek nie ‘n God wat oor hul skouer loer nie, hulle hou glad nie daarvan dat God hulle tugtig, straf of verkeerd bewys nie.
Wat my by die vraag bring: Straf God regtig vandag nog mense wat sondig? Of is dit so dat God jou net sal touwys maak om nie die verkeerde te doen nie?

As ek in ‘n motorongeluk betrokke is,  as pyn of siekte my kniehalter,  as finansies druk en daar finansieël geen vooruitgang is nie, kan hierdie dinge in lyn gebring word met my sonde?
                   Wat is sonde? Volgens Jakobus 4:17 As jy weet wat die regte ding is om te doen 
                                                              en jy doen dit nie, is dit sonde.

Dis Okey om die woord tug te gebruik maar wanneer jy sê God straf jou, skop mense vas en wil hul glad niks verder hoor wat jy te sê het nie.  Wanneer jy noem dat God Suid-Afrika straf vir ons verkeerde dade, dan soek hulle eerder na ander leraars of geestelike leiers waar hulle net kan hoor hoe goed en reg hulle is in dit wat hulle doen.

Maar lees bietjie Hebr 12 vanaf vers 5: “ My kind, moet dit nie gering ag as die Here jou tug nie en moenie mismoedig word as Hy jou teregwys nie, want die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem“ .

Hierdie profetiese woord is al geruime tyd terug deur deur God vir ons land gebring, waar Hy ons sondes uitwys:
  • Mense is hoogmoedig.
  • Hulle word verlei deur Satan.
  • Hulle pleeg skaamtelose dade.
  • Geld het hul mag geword.
  • Mense het hul geloof verloor in God.
  • Hulle draai hul rug op die ware God en begin ander gode aanhang.
  • Geweld is die antwoord op hul probleme.
  • Ons verset ons teen Hom.
  • Die gereg het in ‘n lagwekkende sirkus verander.
  • Valse leerstellings het die orde van die dag geword.
  • Ons land minag Jesus.
  • Ons is ongehoorsaam aan God.
  • Ons vertrou nie meer op Hom nie.
  • Moord het ‘n alle daagse gebeurtenis geword.
  • Mense val terug in Ou Testamentiese gebruike en verlaat Jesus se leringe.
  • Almal jaag mag na.
  • Kwaad doen word as ‘n grap gesien.
  • Ons oordeel ons medemens asof dit ons reg is.
  • Seksuele sondes het deel van ons kultuur geword.
  • Mense jaag net plesier na.
Jy kan redeneer met sommige mense tot jy blou in die gesig is, hulle sal nie glo dat hulle optrede sonde is nie. God noem ons sondes een vir een op, Hy kom waarsku ons voor die tyd om hierdie dinge te los en as die mens nie gehoor gee nie dan kom straf Hy ons met dit wat Hy hier onder noem:

  • Droogte.
  • Ons planne sal nie tot uitvoering gebring kan word nie.
  • Hongersnood.
  • Ons kinders word verstrooi oor die Aarde.
  • Ons sal verneder, bespot en vervloek word deur buite landers.
  • Vrees, selfs die dapperste mense onder ons sal met vrees gevul wees.
  • Emosionele swaarkry (Depressie, stres).
  • Oorlog.
  • Velde sal vol dorings word en lande in soutpanne verander.
  • Buitelanders sal ons land inneem.
  • Buitelanders sal ons skatte en rykdom vat.
  • Pessiektes.
  • Ons mense sal treur en huil oor hul ellendes.
  • Stortreëns en kragtige winde.
  • Rowers sal ons land vernietig.
  • Oeste lewer niks op nie, dit sal wegdroog.
  • Huise sal afgebreek en verwoes word, ons vestings sal vernietig word.
  • Sal kos moet invoer van ander lande.
  • Heidene sal ons vertrap.
  • Plante langs riviere sal opdroog.
  • Opstande wat baie skade bring.
  • Ons berge verwelk en vlaktes word soos wildernisse.
  • Landerye en plase word vernietig.
  • Harde arbeid sal te vergeefs wees.
  • Harde wrede, onsimpatieke leiers.

       “Die wat God se waarskuwings verontagsaam is soos gras wat gou sal verlep. Soos plante 
                                                                       wat vinnig sal verdroog.”

God straf nie net die ewige nie maar ook die tydelike en juis daarom straf Hy ons omdat dit vir Hom alles gaan oor die lewe hierna en Sy voorbereiding vir ons vir die ewige.

GROOT PROBLEEM ONDER ONS as sonde uitgewys word, is ons geneig om dit voor die deur van die regering van die dag of die ander mense te gooi, ons staan hoogmoedig en dink dat ons sonde min of niks is nie.

Die belangrikste is dat ek my eie lewe moet ondersoek. Dat ek die gebeure in my lewe nie maar net sal afmaak as ‘die gang van die lewe’ of as ‘bad luck’ nie. Die diepste oorsaak vir my ongelukke, siektes of die blok van finansiële deurbrake  is omdat die Here besig is in my lewe! Laat ons daarom baie bewustelik lewe en erken dat God in jou lewe regeer. En omdat Hy regeer, sal daar tye van straf wees, en daarom moet ons deur die Gees spesifieke gebeurtenisse in verband bring met spesifieke sondes. En dan behoort dit my te bring tot bely, berou en bekering voor die Here.

Maar dink ook aan wat ons lees van die nagmaalspraktyke in die gemeente van Korinthe 1 Korinthiërs 11: 27. Daarom, as iemand nie op die regte manier die brood van die Here eet of die wyn van die Here drink nie, dan is hy so skuldig soos die mense wat vir die Here doodgemaak het.
28. Elkeen moet eers vir homself ernstig vra of hy verstaan wat die nagmaal beteken en of hy reg lewe. En as hy dink dat hy dit verstaan en dat hy reg lewe, dan mag hy van die brood eet en uit die beker drink.
29. Die gemeente is die liggaam van die Here. As jy dit nie verstaan nie, dan eet en drink jy verkeerd by die nagmaal. En dan sal die Here jou straf.
30. Daarom is daar baie van julle wat swak en siek is, en daarom het baie mense ook gesterf.
31. Ons moet eers vir onsself ernstig vra of ons verstaan wat die nagmaal beteken en of ons reg lewe. As julle dit gedoen het, dan het die Here julle nie gestraf nie.
32. Maar as die Here ons straf, dan doen Hy dit soos ’n pa wat sy kinders straf. Hy wil ons nie saam met die mense van die wêreld straf nie.
– daar in Korinte het die nagmaalsviering lelik skeef geloop en die selfondersoek het agterweë gebly. En dan maak Paulus die gemeente attent op wat daar gevolglik in hulle eie midde gebeur het: “Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ‘n aantal het ontslaap” Hier kan dus wél bepaalde gemeentelike sondes aangewys word as direkte oorsaak vir siekte en dood in die gemeente. Selfs in die Nuwe Testament kan God konkrete sondes direk straf. Vir my is dit duidelik hier dat God ook groepe straf, dat die kring wyer loop as net onsself.

Salig is elkeen wat onder God se tydelike strawwe gebrei en gevorm word, wat deur sy tydelike strawwe geleentheid gegee word vir bekering en nuwe lewe. Maar wee elkeen wat blind is vir God se hand in sy lewe of wat hom nie daardeur tot geloof in Jesus Christus laat bring nie. Vir hom wag die ewige straf, waarvan niemand meer geleentheid kry om terug te keer nie.

God straf jou (jy die een wat hier lees), jou gesin, jou gemeente, jou stad en jou land oor sonde! Vandag, nou en hier en ook in die hiernamaals as jy nie tot geloof in Jesus gekom het nie.

www.7daystime.com
erkenning: http://www.vgk.org.za/vgk/node/1703

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking