Wat is verkeerde veroordeling?
1. DISKRIMINASIE
Jakobus 2: 1-4 My liewe broers en susters, hoe kan julle beweer julle glo in ons Here Jesus Christus aan wie die heerlikheid behoort, terwyl julle sommer so op die uiterlike af tussen mense diskrimineer? Gestel daar kom iemand in julle samekoms in met duur juwele en baie mooi klere aan, en daar kom terselfdertyd ook iemand in wat brandarm is en verslete klere aanhet. As julle dan ‘n ophef maak van die persoon met die deftige klere, en julle sê vir hom:”U moet asseblief hier gemaklik kom sit,” maar vir die arm man sê julle: “Jy kan maar daar anderkant gaan sit,” of: “Kom sit hier op die vloer,” sal julle nie toegee dat julle diskrimineer en mense op grond van verkeerde oorwegings beoordeel nie?
Spreuke 24: 23 Die woorde hieronder kom ook van wyse mense. Moenie mense oordeel volgens hulle voorkoms nie.
Hoe skuldig is ons nie hieraan nie, jy kyk na iemand se kleredrag of hoe ‘n persoon homself uitbeeld en jy besluit dat die persoon nie in dieselfde klas as jy is nie. Jy hang ‘n etiket om iemand se nek, jy kyk mense uit en as hulle nie aan jou kriteria voldoen met byvoorbeeld: Taal, velkleur, geloof, seksuele oortuigings of status nie, dan sluit jy hulle uit as gevolg hiervan en maak jy jou dus gruwelik skuldig aan veroordeling. Ons veroordeel mense na hulle voorkoms en hulle optredes wat ons bind aan ‘n sekere groep maar God veroordeel mense na wat in hulle hart omgaan. …… Moet niemand slegsê of uitsluit oor hulle voorkoms of voorkeure nie.
2. AFBREKENDE KRITIEK
Matteus 7:1-4 “Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie, met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word. Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? ”.
David Kinnaman skryf in sy boek, unChristian: wat dit beteken om veroordelend te wees:
“To be judgmental is to point out something that is wrong in someone else’s life, making the person feel put down, excluded, and marginalized. Some part of their potential to be Christ followers is snuffed out. Being judgmental is fueled by self-righteousness, the misguided inner motivation to make our own life look better by comparing it to the lives of others.”
Kinnaman verduidelik hoe ons gesindheid, baie meer tel as ons woorde:
“Hate the sin, but love the sinner’? It is not a direct quote from the Bible, but it reflects the ideal most Christ followers embrace. They would like to extend grace and love toward others (the sinner), while firmly rejecting those attitudes and behaviors that contradict God’s standards (the sin). The problem is outsiders don’t think we are honest with ourselves. If our primary fixation is on the sin, it is virtually impossible to demonstrate love to an individual. Think of it: many outsiders, the broken people who need Jesus most, picture Christians as haters.”
Wanneer ons as Christene sê dat dit belangrik is om ander mense lief te hê sonder om hulle te (ver)oordeel, dan is die vraag nie regtig of ons die splinter in iemand anders se oog mag uithaal nie. Die belangrike vraag is of ander ons genoeg vertrou (omdat hulle regtig voel dat ons hulle aanvaar ten spyte van hulle sonde) om ons toe te laat om hulle te help om die splinter uit te haal. Ons as Christene se gesindheid teenoor mense met splinters in hul oë, is soms presies dit wat balke in ons eie is. Mense sien dit raak en beleef ons veroordeling as skynheilig en arrogant. Ons moet daarom nie verbaas wees as mense vyandig (lees: self-beskermend) is as ons al te gretig blyk te wees om ongenooid in sensitiewe oë te krap nie.
“Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig; en julle moet weet hoe julle elkeen behoort te antwoord.”
Ons moet iemand oor middelmatige sake, kritiseer nie. Romeine 14 en I Korinthiërs 8 leer ons dit. So, byvoorbeeld, as iemand net groente eet, of dalk verskil met jou oor die Sabbatdag of Sondag kwessie, is dit nie per sê sondig nie en moet ons hom nie daarvoor oordeel of verag nie, want " . . . die koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees" (Rom. 14:17).
Ons moet nie hiperkrities oordeel nie. Sommige mense hou daarvan om te oordeel, te kritiseer en mense af te kraak. Hulle soek gedurig na ‘n fout, wat hulle dan sonder meer buite alle verhouding vergroot. Hulle is bly as hulle iets kry om te kritiseer, ondersoek jou eie lewe in plaas van om ander te oordeel. Is dit vir jou maklik om ‘n ander se foute onder ‘n vergrootglas te plaas terwyl jy jou eie ignoreer? Oordeel jouself altyd eerste en vergewe jou naaste en help hom in liefde reg.
3. VERBALE UITBARSTING
Judas: 9 Selfs Migael, die aartsengel, het dit nie eersgedoen nie. Toe hy met die duiwel in ‘n ernstige woordestryd oor Moses se liggaam gewikkel was, het hy dit nie gewaag om ‘n beledigende oordeel teen hom in te bring nie, maar hy het vir hom gesê: “Die Here sal met jou afreken.”
Selfbeheersing.......Daar sal altyd mense wees wat teen alles staan waarvoor jy is, jy sal die rebelle kry of wat God se gesag ondermyn of selfs enige gesag wat oor hul aangestel is. Sommige mense soek geen reëls, regulasies of wette oor hulle nie, hulle verag hul ouers, die Bybel, God, polisie ens. (Maar daar is ‘n verskil om dit wat verkeerd is uit te wys – dis nie verkeerde oordeel nie). Hierdie mense kan jy glad nie mee redeneer nie, hulle redenasie vermoë is skokkend met verdraaide opvattings, hierdie situasie kan lei tot erge verbale uitbarstings wat veroordelende gevolge kan hê. Die beste is om, om te draai en vir die persoon op 'n manier te laat weet dat God met hom sal afreken en sal oordeel.
1 Korintiërs 4:5 Moet niemand voor die tyd oordeel nie, voordat die Here kom nie, wat die verborge dinge van die duisternis in die lig sal bring en die bedoelinge van die harte openbaar sal maak; en dan sal elkeen lof van God ontvang".
Hierdie is bedoel om ons tot ware vrees van die Almagtige God en tot vrees vir bose oordele aan te spoor. Hulle wat sondig (verkeerd) oordeel sal nie deur mense geoordeel word nie, maar deur God. Deur God sal hulle streng geoordeel word, aan die oordeel wat hulle aan ander toegemeet het. As jy dink dat jou sondige oordeel regverdig was, sal jy in eie munt terugbetaal word!
4. UIT HOOGMOED
Lukas 18: 11-12 O God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie—rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week, ek gee tiendes van alles wat ek verkry.
Ons moet nie uit eie geregtigheid oordeel nie. Dit is die sonde van die Fariseër in die Here se gelykenis: Wanneer ons ander afkraak, is dit dikwels om onsself goed te laat lyk en goed te laat voel, want wanneer ons na die sonde van ander vingerwys, is dit moeilik om aan ons eie ongeregtigheid te dink. Dit word ‘n plaasvervanger vir ons sondebelydenis en die ervaring van vergiffenis deur die die kruis en Gees van Christus. "Ek moet verligting van die my sondeskuld kry, maar ek gaan my nie voor God verootmoedig nie. In plaas daarvan sal ek vertel hoe sleg ander is, dan sal ek nie so skuldig voel nie".
Ons moet nie oordeel asof ons die finale regters is nie. God alleen is die hoogste Regter en Hy oordeel volgens sy Woord (Joh. 12:48). Ons oordeel is voorlopig. Daarom moet ons nie dink of praat asof ons oordeel die hoogste en finaal is nie.
Ons moet nie die bedoelings van ons broeders hard, blindweg of onverhoord oordeel, of elke woord of optrede skeef aankyk nie. Ons moet nie teenoor ons mede gelowiges hiperkrities wees, sodat byna alles wat hulle doen met agterdog en argwaan bejeën word uit hoogte, eiegeregtigheid oordeel om onsself te laat goed voel of goed lyk nie. Hoekom altyd verskil of stry oor nietige standpunte. Laat ons eerder, as mense wat deur Christus verlos en "wedergebore" is "mekaar vurig liefhê uit ‘n rein hart" (I Pet. 1: 22-23).
5. HAAT
Jakobus 5:5-6 Hier op aarde het julle luuks en in weelde geleef, en na hartelus elke behoefte bevredig. Julle harte is mooi vet gemaak, net reg vir die slagdag. Julle het goeie mense veroordeel en vermoor, en hulle kon hulle nie teen julle verdedig nie.
Ons moet nie oordeel sonder dat ons die feite wat in ‘n saak relevant is, ken nie. As dit werklik by jou berus om ‘n saak te bereg, moet jy beide kante in die geskil aanhoor. Sonder om beide kante te hoor is jy nie in staat om te oordeel nie. Een kant sal nie noodwendig reg wees omdat hy of sy voorop is om die saak te stel nie. "Iemand wat in 'n regsaak eerste praat, is altyd onskuldig, maar dan kom iemand ander en ondervra hom" (Spr. 18:17). Hierdie laat my so dink aan die saak van Oscar Pistorius, hierdie jong man is so wreed veroordeel en verdoem tot die hel alvorens albei kante deeglik ondersoek en aangehoor is, waar is die wet van liefde wat mense moet openbaar.
Jy haat mense so dat jy verblind word deur negatiewe veroordeling, jy sien hulle dood eerder as om met hul saam te leef, jy sien hulle in die hel eerder as om saam met hulle die ewigheid in te gaan. Veroordeel die daad en nie die persoon nie, né. Daar is "n spreekwoord "Dis nie wat jy doen nie maar hoe jy dit doen wat die sukses daarvan bepaal" As jy deur die Gees gelei word sal jou benadering opbouend, sagmoedig en liefdevol wees. Die vlees is dit wat jou dring om neerhalend, haatlik en onbedagsaam te oordeel.
Wat is goeie oordeel?
Spreuke 31:9 Maak jou mond oop, oordeel regverdig, en verskaf reg aan die ellendige en die behoeftige.
Daar is baie ander situasies wat (behoorlike) oordeel verg. In I Korinthiërs 6:2-3 staan daar dat gelowiges in die laaste dag die goddelose en die engele sal oordeel. Op grond hiervan se Paulus dat die heiliges in die kerk nou reeds regverdig moet oordeel (1, 4-5).
Regters, ouers, kerkrade, gemeentes is geroepe om in burgerlike sake te oordeel. Was die gedrag van die skuldige sonde (gemeet aan die beginsels van die Woord van God)? Wat is die mees gepaste liefdevolle tug in dié geval? Vermaning? Of regverdig dit fisiese tugtiging?
Elke gelowige word beveel, soos in I Korinthiërs 11:28, om homself of haarself in die lig van die Skrif te oordeel: "Maar die mens moet homself beproef . . ." Dit is veral ons roeping wanneer ons voorberei vir die Nagmaal van die Here, soos blyk uit die konteks van I Korinthiërs 11. In werklikheid word die kind van God deur sy hemelse Vader beveel om in verskeie hoedanighede en maniere te oordeel.
Die Christen oordeel vanuit sy posisie of amp in die lewe (bv. ouer, regter of ouderling), met behoorlike inagneming van die feite (aan beide kante), met genade (inagnemend versagtende omstandighede), in liefde (vir die Drie-enige God en sy waarheid, en vir sy naaste), in ootmoed (as ‘n dienskneg en nie as ‘n heer nie) en ooreenkomstig die beginsels van die Skrif.
Vanselfsprekend word sondige oordeel in alle sfere verbied: familie, gesin, werksplek, skool, buurt, ens., maar in Matthéüs 7 word dit in besonder met betrekking tot die mede heiliges in die kerk verbied. Húlle moet ons in besonder liefhê (I Kor. 13:4-7) en oor hulle allermins veroordelend wees (Matt. 7:1-5).
Goeie oordeel beteken egter beslis ook dat ons sal weet wat God se standaarde is vir Geesvervulde lewens. Dit is baie belangrik, want die wêreld bied aan ons opsies vir maniere van dink en van doen en van meedoen, wat God se morele standaarde en doel vir ons lewens beslis teenstaan en ondermyn. Ons het daarom beslis ‘n verantwoordelikheid om ingelig te wees oor wat in die wêreld rondom ons gebeur, en oordeel aan die dag te lê vir watter effek bepaalde idees en gedrag in ons lewens kan hê. Die implikasie hiervan is dat sommige vorme van gedrag en idees eenvoudig vermy behoort te word (en ja, mekaar daarteen te waarsku), terwyl ander duidelik en aktief teëgespreek behoort te word ter wille van die beskerming van weerlose mense en die langtermyn gevolge daarvan (sien ook Efesiërs 5:10-12).
Maar hier is die belangrike punt wat nie misgekyk mag word nie: Ons moet oordeelkundig en wys wees in hoe ons bepaalde optredes en denke in hierdie wêreld evalueer en daarop reageer, maar veroordeling en ‘n liefdelose gesindheid teenoor die mense in hierdie wêreld, is nooit deel van ons roeping as Christene nie. Ons moet ook daarteen waak om nie vas te haak by als wat sleg en verkeerd is in die wêreld of toelaat dat ons ingetrek word by allerlei smeerveldtogte of samesweringsteorieë wat geen werklike doel dien nie. Ons verantwoordelikheid as Christene is veel eerder om ‘n positiewe en konstruktiewe bydrae te maak tot die kultuur en samelewing waarvan ons deel is.
Hoe om goeie oordeel toe te pas:
• Ons kan leer om beter na ander te luister om hulle te verstaan en minder te praat.
• Ons moet mense nie etiketteer (label) nie.
• Ons moenie altyd so slim probeer klink en voorgee dat ons al die antwoorde het nie, moenie altyd ander mense se sienswyse afskiet of kritiseer nie.
• Ons moet leer om onsself in ander se skoene te plaas. Ons moet probeer verstaan hoekom ander doen wat hulle.
Dis slegs wanneer ons dit doen, dat ons geleentheid het om dalk mense se harte te leer ken. Dan sal ons agterkom hoe baie mense meedoënloos gery word deur skuldgevoelens wat sonde noodwendig in enige mens se lewe meebring en kan ons simpatie hê omdat ons dit self al ervaar het. Veroordeling bereik niks, om goeie oordeel (wysheid en onderskeiding) aan die dag lê, in ons verhoudings met mense bring sukses mee.
Jakobus 2: 12-13 Sorg dus dat jou woorde en dade wys dat jy iemand is wat weet dat jy beoordeel gaan word deur die wet wat vrymaak, die wet van liefde. Jy sal verseker geen deernis kry as jy nie deernis betoon nie. God se deernis vir jou is egter sterker as sy oordeel.
Bronne
Ds. Angus Stewart - http://www.cprf.co.uk/languages/afrikaans_judgenot1.html#.VAS-KKMqcus
Udo - http://www.antwoord.org.za/2013/04/gaga-oordeel-of-veroordeling/
dit laat my dink aan 'n gedig wat ek van VAder ontvang het:
AntwoordVee uit27-01-2014 om 08:02
15. 'n Bedevaardslied [**Psalms 133]
U rus
is soos 'n fluweel sagte kus
wat my omarm
wat my verwarm
wat my sorge opsy stoot
en my denke vry maak van nood
U rus
dit vertroetel my aangesig
dit versag my binnekring
wat my weer op my voete bring
dit streel oor my wese heen
'n sagte aanraking sonder ween
U rus
laat alle sorge blus
dit lei my na koele waters
na groene rustige asters
en gee my ontsaglike troos
al voel ek my so erg broos
U rus
is vir my 'n kragtige lus
om my gebroke toestand heen
dit stuit my totaal in murg en been
en laat 'n vernuwe stroom gaan
in my siel, gees en liggaam
ek dank U vir U aandag in hierdie moment van beskeidenheid
ek dank U vir U genesing in hierdie moment van formaliteit
dat U aan my nietige wese liefde skenk
al raak ek soms die pad duister en krenk
maar U is steeds aanwesig en nooit ver vandaan
en sien altyd my stryd, my geveg en my gedaante
naak, sonder skroom, sonder bedekking of traan
U sien my vir wat ek is, maar veral Uself, in my gestalte
Sjoe ,dit is sooooo mooi ,ek sal baie graag wil weet wie hierdie gedig geskryf het . Dit getuig van 'n diep ervaring met God . Liefde .
Vee uit