Wat is die realiteit van ons lewensdrome, waaroor gaan dit vir jou
en waaroor gaan dit vir God? Tien jaar wag ek nou dat my lewensdroom vervul
moet word. Het ek in hierdie 10 jaar moedeloos geword, verseker, het ek gevoel
ek gaan moed op gee, beslis en het ek hartseer voor God geword, ja, want dit
het met tye al gevoel God het van my droom vergeet.
Kom ek vertel jou wat my lewensdroom is en waar die saadjie
geplant is om dit my droom te maak: Met ‘n familielid wat verloof geraak het in
2007 en gesukkel het om ‘n geskikte venue vir hul troue te kry, is dit net daar
wat ek ‘n gedagte gekry het, wat ek nou weet deur die Heilige Gees geïnspireer
was, om aan die bestuur te staan van my eie plek. ‘n Plek waar ek my
kreatiwiteit kan uitleef en uiting kan gee aan my talente. Ek kan julle nie
beskryf hoeveel dagdromery hierin al gegaan het nie, hoeveel idees op papier
neergelê is, en hoeveel tydskrifte en boeke al deurgeblaai is om my gedagtes
vorm te gee nie. Ek het met tye my dogter ook so opgewonde gehad dat sy soms
spontaan begin bid het dat hierdie droom van haar ma tog asseblief net gou moet
gebeur, want sy kon ook nie meer wag nie. Ek het al selfs my man na plekke toe
gesleep om te gaan kyk hoe “ons” hierdie droom kan laat werk. Ek improviseer
alles in my gedagtes, kry kwotasie van wat dit my sal kos om byvoorbeeld ‘n
tent te gebruik as ‘n onthaalplek. Die een na die ander kwotasies word
uitgewerk, nagte sit ek tot laat en skrabbel idees en beraam planne om
goedkoper opsies vir dit wat ek in gedagte het te kry, ek ry rond, maak my ma
saam met my opgewonde en saam kry ons pryse van breekgoed, meubels en alles
waaraan ek kan dink wat ek sal nodig hê om van my venue ‘n juweelplek te maak.
Die eindtotale is skokkend, ek lê elke dag die syfers voor God
neer en kyk Hom baie bekommerd aan want ek weet nie hoe Hy hierdie ding gaan
laat werk nie. Ek doen herbeplannings, sny luukshede uit,beplan weer, sny nog
luukshede uit en kom met nog syfers na God toe. Ek glo God het my net rustig
sit en dophou elke dag met al die vrae wat deur hierdie menslike brein van my
gegaan het, dit was vir my op daardie stadium net te groot om te kan dink dat
God ons drome ongeag hoe groot dit is, sal laat waar word, selfs ‘n venue, net
omdat Hy weet dit is wat my hartsbegeerte is.
My droom het geweldig groot geword in my gedagte wêreld. Ek het
groot en toe groter en toe enorm groot idees opgetower, met briljante,
flambojante, en imposante planne wat heeltemal bo my vuurmaak plek was maar ek
het gedink God sal voorsien, dit maak nie saak hoe onbereikbaar my droom is
nie.
Maar heelaas God het my eers op Sy sagte jintelman manier, van die
negende wolkie kom afblaas. Hy voorsien nie op die skaal wat ek hoop nie, maar
met die mate wat Hy weet ek kan hanteer. Sy antwoord een aand was: “Begin klein
en kry eers die basiese beginsels onder die knië dan vat ons dit van daaraf
verder.” Ek het na die hemel gesit en kyk asof ek dalk, miskien net verkeerd
gehoor het, maar nee, dit was regtig die antwoord:“Begin klein”
“Hoe klein Here?” vra ek Hom. “Baie klein, Salomi.” Dit het my ‘n
paar oomblikke geneem om tot sinne te kom en te besef dat ek my droom moet
begin met dit wat Hy tot my beskikking sal stel, my enorme groot planne gaan
stelselmatig moet kom en nie soos wat ek graag gehoop het in my skoot val nie.
Hierdie was die begin van my wedloop na oorwinning, nie net
oorwinning van my
menslike droom nie maar ook na geestelike groei en wysheid, met
God as my afrigter, Hy het my kom inspan om die wenstreep oor te steek met die
hulp van Sy Goddelike
hand, oneindige liefde, hope geduld en Vaderlike teregwysing en om
die prys te behaal met die toerusting waarmee Hy my kom seën het.
Jy kort wysheid het Hy gesê op 17 Januarie 2008
Spreuke 2:1-5. My seun, neem aan wat ek jou sê, maak
wat ek jou voorskryf jou
eie, hou jou ore oop vir die wysheid, span jou in om
te verstaan. Roep insig by, vra na gesonde begrip. Soek dit soos jy silwer sou
soek, spoor dit op soos ‘n verborgeskat. Dan sal jy weet hoe om die Here te dien,
sal jy ontdek wat dit is om God te ken.
Inderdaad kan mens niks aanpak sonder Goddelike wysheid nie en het
ek hier besef dat my verhouding met Hom baie belangriker is as enige beplanning
of aardse lugkastele. Moenie dinge beplan met jou eie wysheid nie, maar laat
God jou leermeester wees tot die suksesvolle uitvoering van jou drome. God het
my beplanning kom onderbreek met iets bo-menslik en geestelik soveel groter as
wat ek ooit verwag het. God het my eers vir ‘n baie lang tyd op ‘n Geestelike
groeipad geplaas want vir Hom is die verhouding tussen Hom en my meer belangrik
as enige iets anders.
Maar tog, hoekom raak dit vir ons soms so moeilik om te
wag dat ons drome moet realiseer. Dis maklik vir mense wat nie hul lewensdrome
met God uitleef, om te sê, doen dit net, vat die bul by die horings en loop die
pad, as jy dit maak dan maak jy dit en as jy faal dan is dit ook maar so, jy
sal wel weer opstaan. Maar vir ons wat
ons drome in God se hande kom sit, moet geduldig wag want Hy is die beplanner
van jou pad. Hy stuur mense met boodskappe na jou toe om vir jou te sê moenie
haastig wees nie, hy gee vir jou versies iewers om te lees wat so duidelik
uitspel dat jy moet wag, daar is geen twyfel daaraan dat God met jou
kommunikeer oor hierdie dinge nie, telkemale sal Hy jou laat weet wees net
geduldig, jou droom sal realiseer, jy sal bo uitkom, hou net moed……. Maar dis
vir ons moeilik as dit lank vat, as maande en jare verby gaan en nog niks
gebeur nie, of jy kom op ‘n punt waar jy dink hier is die deurbraak nou,
uiteindelik het dit waarvoor ek gewag het aangebreek, net om weer sugtend te
besef dit was toe nooit gewees nie.
Vir dae is ek alweer moedeloos verby, is asof hierdie goed ophoop na ‘n punt toe en dan word mens sommer net moedeloos omdat dinge nie aan die gebeur kom nie, ek vra God toe weer vanoggend: “Hoekom moet ek so lank wag?” en Sy antwoord gee Hy uit Jeremia 42. Die stuk handel oor die paar Judeërs wat oorgebly het na ‘n ontvoering, die leiers kom en vra vir Jeremia wat moet hulle doen, moet hulle bly of moet hulle vlug Egipte toe. Dis baie duidelik dat hierdie leiers reeds besluit het om te vlug maar hulle soek eintlik net God se seën en goedkeuring op hulle besluit en as hulle nie die antwoord kry wat hulle verwag het nie, het hulle natuurlik gesê Jeremia lieg en dat hy opgesteek is om hierdie dinge te sê. Nou wonder mens wat het hierdie deel op my van toepassing? Dis hier waar mens kom dat jy dieselfde vraag vra as wat die leiers gevra het: “Waarheen nou, moet ek vasbyt of moet ek rigting verander” God kom antwoord met: “As jy vasbyt sal Ek jou bou soos wat Ek belowe het en Ek sal jou vestig dat jy die sukses kan wees wat Ek in gedagte vir jou het, moenie bang wees nie want Ek is by jou. Maar as jy jou droom opgee en al die jare se bevestigings van My in die wind gooi of jou rug draai om die goeie wat jy weet Ek vir jou beplan dan gaan jou pad vorentoe swaar en ellendig wees.” Maar tog sal mense antwoord, aag asseblief dis net ‘n lewensdroom of jy dit najaag of nie, wat maak dit saak. Maar vir God maak dit saak want Hy is ‘n God wat ons lewe mening wil gee, want Hy beplan die goeie vir jou, vir Hom gaan dit nie om van jou ‘n Sol Kerzner of ‘n Donald Trump te maak nie, Hy wil jou optel en van jou maak wat… JY… sien as ‘n sukses, al is dit iets klein, Hy wil jou ophef en van… JOU… ‘n trots maak, al is dit net dat jy op jouself trots kan wees, …..WANT HY GLO IN JOU!
Dis hier waar Satan kom as dinge nie tot verwagting kom nie en mens met depressie wil vernietig, dis dan wanneer Satan jou laat voel dat God nie omgee oor jou drome en toekomsverwagtinge nie, gaan jy luister en stil wees en wag dat God se plan vir jou omsluit met vertroue en geloof of gaan jy jou eie kop volg omdat jy glo God gaan nogsteeds jou besluite seën en goedkeur. Die keuse is joune.
Nogsteeds wag ek in stilte want hou God nie maar die beste vir laaste
nie.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking