13 Augustus 2014

Is jou lewensdroom God se plan



Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here, voorspoed en nie teenspoed nie. Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting. Jer 29:11

Moet dat niks en niemand in jou pad staan om jou drome uit te leef nie en streef
na die Amerikaanse droom: vryheid, onafhanklikheid en najaag van plesier.
Moenie toelaat dat enigiets buite jou bereik bly nie en in die proses moet na niemand of niks luister nie solank jy kry wat jy wil hê, solank jy gelukkig is. “When you connect to the silence within you, that is when you can make sense of the disturbance going on around you.”  Stephen Richards.

Hoe het die mens gekom dat hy hierdie “New Age” siening wil nastreef? ‘n Droom najaag wat geen eer aan God gee nie, alles gaan net om jouself en wat jy kan bereik. Ek dink nie mens hoef baie ver te soek na die antwoord nie, as jy so om jou kyk en sien hoe maklik Piet en Jan Alleman sukses kan inpalm in alles wat hulle aanpak of baie maklik weer die mas kan opkom wanneer hul “empire” tot ‘n val gekom het, sonder dat hulle God raadpleeg, aanbid  of eer, dan is die antwoord: “Ek kan, Ons kan, maak nie saak hoe nie” maar vir Christene is die antwoord: “God kan, tesame kan ons, solank ek in Sy wil beweeg”.

Maar wat Piet en Jan nie besef nie, is dat ek en jy wat die pad met God stap geestelik groei om ons droom deur God moontlik te kan maak, sonder stres, sonder finansiële laste sonder om enigiets op te offer behalwe ons tyd. Maar tog, hoor my dis nie altyd so maklik nie, want vir God gaan dit om ons geestelike groei en om ons op ‘n pad nader aan Hom te bring, alles maar alles gaan vir God oor ‘n verhouding met Hom.

As mens is dit vir ons belangrik om ons drome suksesvol te kan uitleef en as ‘n gelowige is dit ook vir ons belangrik om te weet dat God ons drome sal seën en moontlik sal maak. God het ja gesê vir jou droom, Hy het uiteindelik jou geantwoord met: “Jy mag maar”. En dan, spring mens weg met hierdie opgewondenheid dat God Sy seën gegee het maar die wag om daai droom werklikheid te maak kan verder in die toekoms lê as wat mens voor gehoop het. Al waarin ons belangstel is daardie eindresultaat, hoekom dink ons dit is maklik, hoekom dink ons omdat ons God aan ons kant het, gaan alles tjoef, tjaf gaan, hoekom kom dinge soms so sonder waarskuwing tot ‘n stilstand of verkope is nie wat dit moet wees nie, of selfs skokkende ontnugterings wat mens op die einde laat wil opgee ….. want God het ander planne.

Ek was gebore om Jesus lief te hê, my hele lewe nog was ek absoluut verknog aan my Hemelse Vader maar nooit in my wildse drome het ek gedink dat elke liewe berg wat voor my gaan opduik, of verwagtinge wat nie realiseer nie vir Hom gaan om ‘n reis na geestelike volwassenheid. Alles maar alles wat jy in God se hand toevertrou werk op die einde ten goede uit. God kom verenig jou wêreldse droom, met Sy Hemelse plan. As jy dit waarvan jy droom nie ‘n werklikheid saam met God maak in jou lewe nie mis jy uit op die vereniging met God en ‘n tyd om saam met Hom die onbekende te ontdek. Ek dink God se droom vir almal van ons is, dat ons moet word soos Moses, hy wat God se stem so leer ken het dat hy dadelik kon optree omdat hy geweet het wat die waarheid van môre vir hom inhou, sonder vrees, sonder twyfel en sonder terugkyk en natuurlik moet ons streef om soos Jesus te word, doelgerig, passievol en vol Goddelike inspirasie.

Die goeie nuus is, God is ‘n God wat lewensdrome ‘n werklikheid wil kom maak, Hy wil hê dat ons hoop vir die toekoms moet hê. As dinge nie volgens plan verloop nie moenie moed verloor nie, moenie vreesbevange word nie, raak net rustig voor God en LUISTER na wat Hy vir jou beplan, ek het al ervaar in my besigheid dat as God my gebring het by ‘n stopstraat ek reeds dan harder met God gesels om te hoor wat Hy wil hê. Mens het in sulke tye baie vrae aan Hom: “Wat doen ek verkeerd?, het ek gesondig dat U dalk U hand terug getrek het?” en natuurlik gryp Satan hierdie situasies aan om jou lewe ‘n knou te kom gee. Maar God bring jou op ‘n kruispad in hierdie moeilile tye, waar jy moet kies, gaan ek opgee, gaan ek alles los en maar net weer terug gaan om huisvrou en ma te wees of miskien weer ‘n werkie iewers te kry waat ek weer vir ‘n baas moet werk. Of gaan ek luister en wag wat God van my verlang.
En hoe wonderlik is die vreugde as jy uitvind waaroor die stilte gegaan het, vir my was dit nodig want God wou my in ‘n ander rigting begin stuur. As dit nie vir hierdie stilte was nie, het ek gestagneer in dit wat ek elke dag doen, ek sou nooit my eindresultaat kon bereik as ek net aangaan op die huidige trant nie. God wil hê dat ek moet uitbrei, groter gaan, my gebied vergroot, sal 'n mens tot hierdie besef gekom het as jy oorval was met besigheid, sou jy dit kon raai as jy elke dag net voortgaan met dieselfde dinge wat jou gister en die dag voor dit mee besig gehou nie, miskien, maar in my geval het God hierdie stilte gebring om my te druk om my droom groter te maak.

Moet nooit bang wees as jy jou lewensdroom in God se hande gee nie, want as Hy jou vennoot is, het jy niks om te vrees nie, Hy doen alles met ‘n beter plan vir jou in gedagte en Hy sal sorg dat jy sal besef waaroor die stopstrate en groeipyne gaan om bo uit te kan kom.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking