05 Junie 2014

As die doodsgevoel dreig

As jy in vrees leef
Jesus het my gisteraand na ‘n plek toe gevat wat vir my baie vreemd was, alles was swart en in donkerte gehul. Ek weet nie of ek in die lug hang, of ek in die hel is of waar ek my bevind het nie. Toe Hy weggestap het en in die donkerte verdwyn het was ek te bang om enige iets te doen.  Ek het op ‘n stadium net afgesak en my knieë vasgedruk teen my lyf.  Ek wou  nie loop nie, wou nie soek nie ek het net die hele tyd gewonder wanneer kom Jesus my haal.  Ek het myself in die vreemde bevind, onsekerheid en vrees het aan my geklou. Dan uiteindelik sien ek vir Jesus ‘n end van my af staan maar nogsteeds te bang om te beweeg het ek net na Hom gestaar.  Dan skyn ‘n lig na my toe uit en ek kon die vloer sien waarop ek staan, die ligstraal wat ‘n streep op die vloer skyn het my onmiddellik in Jesus se rigting laat loop.

As ek by Hom kom vra ek Hom hoekom Hy my hierdeur laat gaan het. Dan wys Hy my die plek waar ek gestaan het en reg agter my kom ‘n figuur te voorskyn, angswekkend en boos, dis die figuur wat die vrees in my veroorsaak het, dis die doodsengel en dan vir ‘n breekdeel van ‘n sekonde sien ek ook God se engele wat regs en links van my gestaan het, wat my die hele tyd beskerm het. 

Wat God vir my hierdeur simbolies wil kom uitbeeld;-  Is dat dit maak nie saak in watter benoude situasies jy jouself bevind of met watter bang gevoelens jy leef nie. Hierdie gaan oor daardie vrees wat mens fisies bevind, dit is nie benoudheid of vrees oor keuses of toekomsverwagtinge nie, hierdie is daardie vrees wat jy beleef wanneer jy alleen in 'n straat of donker gang afstap, is daai vrees wat jou keel laat toetrek as jy voel iewers staan 'n bose gees of Satan se Aardskinders sit agter 'n bos en wag om jou kop inmekaar te slaan. Dit is daardie vrees van ek kan nie, ek wil nie want die bose laat mens nie die teenwoordigheid van God beleef nie, Satan neem jou lewe, plesier en genot weg deur vrees vir mense en demone te koester.
As jy jou lewe vir God gegee het, sal Sy engele altyd daar wees om jou te beskerm.  Maar God laat soms toe dat ons vreesbevange word, maar so word ons karakter gebou, om ons sterk te maak of om ons geloof en liefde te toets.  Die dood sal altyd dreig en gevaar en vrees kan ons kele toe trek, veral vandag in Suid-Afrika met die vrees waarin ons moet leef maar God se teenwoordigheid sal altyd by ons wees, in oomblikke van benoudheid of gevaar is dan wanneer Jesus sal verskyn en ‘n lig op jou lewe kom plaas wat jou die pad na die Heilige sal wys en vir jou verlossing sal bring. Omdat jy in Hom glo en jou hand in syne is. Jy het niks te vrees nie.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking