22 Mei 2014

Geniet jou werk, geniet jou lewe

Geniet jou werk, ongeag wat God vir jou gegee het om te doen
Is dit nie ‘n worsteling van elke mens nie? Jou lewe is lank en hard, soos die van ‘n huurling.  Jy wens die dag wil klaarkry, soos ‘n slaaf wat wag om betaal te word Job 7:1-2
Mense kla te maklik oor hul omstandighede en sien nie dit waarin God vir hulle voorsien raak nie.

Jesus vat my na ‘n pragtige hoë gebou iewers in die buiteland, dit lyk vir my soos ‘n gebou in Dubai.  Ons is binne in die gebou omtrent so op die 20ste verdieping en kyk af na die grondvloer.  Alles is skoon, blink en duursaam, plante is hier en daar sigbaar teen die binnekante van die onderste vlakke en die mooiste gesig van hier bo is die waterpoele met visse en spuitfonteine, alles is indrukwekkend mooi.  Agter ons is ‘n kantoor met glas- houtdeure ons stap daardeur in ‘n besonderse kantoor, geld is defnitief nie 'n tekort hier nie.  Ons stap ‘n wit gang af tot ons by nog ‘n kantoor instap, agter die lessenaar sit ‘n man baie hard aan die werk, hy antwoord sy selfoon werk op die rekenaar, die landlyn lui, hy krap deur papiere maar wat my opval is die naamplaatjie voor sy lessenaar, ‘n boerenaam Johan Engelbrecht. Terwyl hy nog op sy selfoon is gryp hy sy baadjie en hardloop uit by ‘n hyser in.  Nou staan ons op die grondvloer ek moet met moeite my mond toehou as ek so na al die prag en skoonheid van die gebou kyk.  Dieselfde man kom uitgeloop by die hyser en klim buite in ‘n plat duur luukse swart motor in.
Dan is ons op ‘n Vrystaatplaas.  ‘n Boer werk op ‘n landery tussen groente terwyl sy vrou en kinders rustig besig is elkeen met sy eie ding.  Die boer werk ook baie hard onder die warm son maar hy is rustiger en sy lewe is nie so gejaag nie. Hy geniet alles wat hy doen, geniet sy werk, geniet sy gesin, geniet die natuur en bo alles geniet hy sy lewe.

Uitleg: Doen alles met plesier en vrede, dit maak nie saak wat jou werk of omstandighede is nie, God wil hê dat jy alles moet geniet wat jy doen of jy nou werk tussen luukshede en rykdom en of jy werk tussen aardse natuurskoon en varslug, die lewe behoort aan jou, gratis en verniet. Jy moet dit wat God vir jou hand gee om te doen met vreugde doen, jy moet dit doen omdat jy dit vir Hom doen. Hou op kla en sien die vreugde, die glimlagte en die plesier van die lewe en mense raak.  Sit die betekenis terug in die woorde... geniet jou dag!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking