21 Maart 2014

Veg (Magte) Engele, oorlog in die Geesteswêreld


Veg of Magte engele
Die vierde engel van die groep ontmoet ons en ons stap na die plek waar die massa engele vergader het. Jesus wys my om na die horison te kyk.  Ek sien vier engele op perde nader gery kom: wit, swart, bruin en grys perde.  Hierdie is die eerste groep engele wat ek sien wat nie in wit geklee is nie.  Hulle is geklee in ‘n koningsblou kleed met kort moue, bruin leer stewels, bruin leer armbeskermers en helmets op soos die wat jy gekry het in die ou Romeinse tydperk maar nie heeltemal dieselfde nie, die beeld rondom hulle gesigte was vaag.  Borsharnasse, ‘n skild en ‘n swaard. Hierdie engele het nie vlerke nie.  Een engel kom na my toe gery en wys dat ek moet opklim.  Die engel steur hom nie aan my menslike vrese of wonder praatjies nie en die volgende oomblik is ek saam met hom op ‘n gallop terug vanwaar hulle gekom het.  Hierdie perde is baie groter as die wat ons op Aarde het.  Ons is op ‘n stewige gallop deur groen gras na ‘n dam in die verte tot op ‘n bult waar my bewaarengel en die vierde engel vir ons wag.  Die ruiters ry afwaarts na die dam toe en verdwyn in die suide.  Dan roep Jesus my nader om by Hom te kom staan.  As ek weer opkyk sien ek hoe hierdie vier ruiters met volle vaart terug gery kom verby ons in ‘n noordelike rigting.  Ek sien hoe hulle aansluit by ander engelruiters wat ook soos hulle geklee is en ‘n pad vir hulle oopmaak sodat hulle kan deurry tot voor.  Ek staar met afwagting na die toneel voor my, die engele is besig om in ‘n lang verdedigingslyn hulleself gereed te kry, instinktief weet ek dat hier ‘n aanval op hulle gedoen gaan word.

En dan sien ek ook waarvoor hulle gereed maak, in die verte op die noordelike horison kom ‘n angswekkende skaduwee aangesluip, dis demone, ook op perde.  Almal in swart geklee met kappies oor hul koppe getrek en met oë wat bloedrooi gloei.  As die demone hulle fakkels aansteek ry die leier van die engele vorentoe en ontmoet die leier van die demone.  As hulle klaar gepraat het draai elkeen om en ry terug na hulle groepe toe.  Die engel gesels met een van die vier wat my hierheen gebring het, wat op sy beurt na ons toe aangery kom.  Hy doen verslag aan die engel wat by ons staan, waarop hy hulle beveel wat om te doen. Kry so die gevoel dat hierdie al amper roetine by hulle is, hulle ken al, al die taktiek van die demone, weet presies wat die demone se volgende skuif gaan wees, is net elke keer verdediging wat hulle toepas op onsuksesvolle aanvalle.  As ek met my menslike verstand na die prentjie voor my kyk wonder ek hoe hierdie engele die aanval sal kan afweer, hulle is ‘n handjie van so vyftig teen ‘n menigte van ± tweehonderd demone.  Die demone kom met gevaarlike wapens wat groot skade kan aanrig.  Maar dan dink ek by myself, hierdie engele sowel as die demone is onsterflik, wat sal die rede wees dat daar nog aanvalle op die Hemel geloods word? Ek verstaan nou hoekom daar engele is wat met swaarde rondebeweeg en wat op strategiese plekke en op die grense van die Hemel geplaas word. 
Die engele val glad nie aan nie, hulle verdedig net hul grens en grondgebied.  En dan kom die demone aan, die engele beweeg vorentoe en as hulle ontmoet breek ‘n hewige geveg uit.  Elke engel staan sy man, die vuur waarmee die demone aanval is hulle kragbron maar die engele trek nie terug nie.  Die hoofaanvoerder van die engele word van sy perd afgestamp met ‘n vuurfakkel maar soos hy grond toe gaan kry hy ‘n houvas op die demoon en met sy sterk hande slinger hy hom van sy perd af, hy pen hom teen die grond vas en kry die oorhand maar onder die gestoei kry die demoon homself losgewikkel en vat die hasepad.  Elke engel veg omtrent teen drie na vier demone.  Die engelmag is te sterk en die demone besef dat hulle aan die verloor is en besluit om terug te val.  As alles oor is stap die leier van die engele terug na sy perd toe, wat ‘n hele ent verder staan, ek kan sien dat sy liggaam gebrand is. Ek wonder by myself of hulle enige pyn kan voel soos wat ons dit voel? Jesus antwoord my gedagtes met: “Moenie bekommerd wees nie, hulle ervaar geen pyn of lyding nie”.

Ek kyk Jesus aan met ‘n diep frons op my gesig, ek het soveel vrae, daar is soveel wat ek nie verstaan nie. My eerste vraag aan Hom kom asof Hy dit verwag het.
Ek verstaan nie hoekom die demone eers probeer om die Hemel aan te val nie, hulle is dan vir soveel eeue al uitgeskop maar nogsteeds probeer hulle terugkom, hoekom?
Jesus antwoord: “Die dag toe die demone uitgewerp is uit die hemel het hulle meer as net die hemel prysgegee.  Goddelike wysheid, kennis en insig ontbreek nou by hulle.  Die wysheid wat hulle nou weergee is beperk tot wêreldse wysheid van hoogmoed en edelheid en dit sal nooit by hulle insink dat hulle ‘n verlore stryd voer nie. Haat en wraak het die plek kom inneem van Goddelike wysheid.  Hulle is soos donkies wat gelei word, vir hulle gaan dit net oor mag, gesag en hulleself.   Die Hemel is ‘n plek waar hulle in vrede en gemak geleef het. Dis ‘n plek van skoonheid, prag, lieflike glans en glorie.  Daar waar hulle nou is, die hel en Aarde, is nie waar hulle wil wees nie, dis nie wat hulle soek nie.  Hulle wil met alle geweld terug hê wat hulle verloor het en hulle sal nooit ophou om te probeer nie. Tot met die oordeelsdag sal hulle aanhou om te probeer om God se Koningheerskappy oor te vat, nie net op Aarde nie maar ook hier in die Hemel”.  

Die oorwinning is nog nie volkome oor die demone behaal nie, Christus het die bose oorwin maar ons is nog nie heeltemal verlos van hulle nie. Hulle is nog nie finaal vernietig nie, tot daardie laaste oomblik sal hulle nooit bres gee nie.  Hulle doelwit is nog steeds om die outoriteit en posisie van God oor te neem omdat hulle aanbid wil word, Satan wil op die troon van God sit, dis hoekom hy in die eerste plek teen God in opstand gekom het en hy en sy travante sal tot op die einde toe veg om beheer hieroor te kry.

1 opmerking:

  1. Whao, baie baie baie dankie, dit help my altyd so ontsettend baie. Net vanoggend het ek weer gewonder wat presies is dit wat hierdie agressiewe haatdraende mense presies wil he, want al wat hulle doen is vernietig en vermoor. Ek weet ons word gehaat hier op aarde en dit is eintlik vir my 'n voorreg om so gehaat te word, want dan weet ons, ons doen beslis iets reg. As hulle lief was vir ons het ons groot rede tot kommer gehad, want dan het dit beteken ons is vir hulle geen bedreiging nie. Dis nie altyd maklik nie, maar nou het ek weer krag om aan te gaan.

    AntwoordVee uit