22 Maart 2014

Tweede aanval op Engele

Tweede openbaring oor aanval op engele
Ek sit saam met Jesus by die waterfontein en wag, ek weet nooit wat op ons wag of wat die volgende openbaring gaan wees nie, stap vir stap, aand na aand bring God openbarings wat soos ‘n legkaart inmekaar inpas.  En dan staan die engel hier voor ons, ek sien net sy wit kleed wat met ‘n goue gordel vasgetrek is, hierdie een se gesig, van sy skouers boontoe is verbloem, wonder partymaal hoekom daar sommige engele se gesigte nie vir my sigbaar is nie.  Hy stap met ons na die plek by die dam, op dieselfde plek waar die geveg teen demone plaasgevind het.  Hierdie moet ‘n grensdeel van die Hemel wees, dink ek. (Onthou dat Satan en sy demone uitgeskop is, so hulle probeer nogsteeds tot einde van dae om God te onttroon en om terug te kom die Hemel in).  Die engel en Jesus stap alleen vorentoe sodat hulle ‘n beter uitsig oor die gebied kan kry, die engel lig sy vlerke dat ek nie sy kop of gesig van agter af kan sien nie.  Dan roep Jesus my nader en vir ‘n baie lang ruk staar ons net oor die vlaktes en wag. Jesus begin stap na die dam toe met my en my bewaarengel kort op Sy hakke.  Die ander engel het agter gebly en kyk ons agterna.  As ons by die dam verby loop voel ek sommer lus om net in te duik en te swem, die water is helder skoon, elke klippie kan op die bodem gesien word dit lyk soos skitterblink swembadwater met die mooiste visse wat rondswem.  As ek opkyk om te sien waarheen ons stap sien ek ‘n engel op ‘n perd vir ons wag.  Jesus stap alleen hom tegemoet, as Jesus by hom aansluit klim hy van sy perd af en buig eerbiedig voor Hom neer.  Hulle staan vir ‘n lang ruk en gesels voordat ons begin terugstap na die eerste engel toe. Lank staan ons net en wag en kyk oor die vlaktes.  Dan kom die ruiter engel weer aangery maar hierdie keer volg ‘n skare engele hom, ek skat hulle omtrent so tweehonderd, almal op perde.  Hulle maak hulle staan voor die dam en kyk na ‘n noordelike rigting.  Die hoofengel tree uit die groep uit gevolg deur nog drie ander engele, wat ek vermoed elkeen oorhoofs oor vyftig engele is.  Dan sien ek weer die swart massa demone uit die noorde nader kom maar hierdie keer is hulle duisende, maklik tweeduisend van hulle. As hulle tot stilstand gekom het tree daar omtrent so twaalf na sestien leierdemone na vore. 

Die hoofengel klim van sy perd af, klap sy perd op die boud dat hy weg gallop en die ander engele volg sy voorbeeld. So staan hulle, elkeen met ‘n swaard in die hand en wag vir die demone om aan te val. Krag engele sak een, een agter die Magte engele neer, ses van hulle.  Ek wag angstig vir die aanval om te begin maar is skrikkerig want ek sien dat Satan en van sy travante intussen by die demone aangesluit het, ver Noord-wes staan hulle op ‘n koppie, Satan is nou ook so groot soos een van die Krag engel, hy troon bo die ander uit en ‘n trotsheid omhul sy wese, elkeen van hierdie demone staan met uitdagende houdings, geen vrees of twyfel nie.  Dan storm die demone op perde, ek druk my gesig teen Jesus se skouer, ek voel vreesbevange is bang om te sien wat hier gaan afspeel maar weet ook instinktief dat ek moet kyk anders sal ek nooit weet wat God vir my hierdeur wil kom wys nie. As ek my kop optel trek ek myself net stywer teen Jesus en weet hier is ek veilig en weereens breek ‘n harde geveg uit tussen die twee groepe.  Die engele gebruik elmboë, knieë en self vuiste om die oorhand oor die demone te kry. Sommige demone sping van hul perde af terwyl ander hul perde gebruik om ‘n beter aanslag op die engele te kan kry.  Vreesloos baklei elke engel teen ‘n magdom van demone. Hierdie keer laat die Heilige Gees my die betekenis sien van die swaarde in die engele se hande. Hulle steek glad nie die demone raak nie, dis asof hulle die swaarde gebruik as ‘n kragbron en nie as ‘n aanvalswapen nie.  As die engel die swaard voor sy liggaam inbring en die demoon daarmee afweer is dit soos krag van die engel wat een word met die swaard.  Die twee is onafskeidbaar van mekaar, dis soos ‘n verlengingsbron van krag wat aan die engele gegee is. En dieselfde gebeur met die vuurfakkels waarmee die demone baklei, dis hulle bron van krag, hulle krag is een met die vuur, dis vuur teen staal.

Satan staan nader en die Krag engele gaan maak hul staan aan die voorkant van die geveg, met ander woorde hulle staan tussen die geveg en Satan. Satan loop op en af en skree soos ‘n brullende leeu maar hy kom glad nie nader nie, hy weet dat hy nie teen hierdie engele sy staan sal kan maak nie en dit maak hom woedend.  Die demone is besig om terug te val en hardloop verby die Krag engele se bene asof hulle nie eens bestaan nie, hulle kan hierdie groot engele niks aandoen nie, soos klein miere teen ‘n boom vertoon die demone teenoor hierdie magtige wesens. Selfs die demone se perde volg hulle terug vanwaar hulle gekom het.
God het hierdeur vir my kom wys dat hierdie gevegte wat uitbreek tussen hulle nie gaan oor om mekaar te vernietig nie maar dit gaan uitsluitlik vir die demone om krag en mag te wys.  Soos vroeër genoem sal hulle altyd probeer om terug te eis wat hulle eens gehad het.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking