20 Maart 2014

Tweede openbaring oor Kinder engele

Kindergrootte Engele
As ek nog so in verwondering staan vou die engel met vlerke my en Jesus daarin toe, hy staan voor ons en sy vlerke omhul ons totaal en al. Ek het geen uitsig nie behalwe die bors van die engel waarteen ek gedruk word.  Dan tree hy weg en sprei sy vlerk uit sodat my beeld nogsteeds versper is maar al wat ek nou kan sien is dat daar ‘n doenigheid agter sy rug aan die gang is.  Ek’s nuuskierig en probeer die vlerk van die engel wegdruk en in ‘n speelse manier gryp hy my en ons verloor vir ‘n oomblik onsself in ‘n prettige gestoeiery, hy begin my kielie en stoei dat ek my uit my skoene wil giggel.  Oegh nee, kannie meer nie, probeer so tussen die gestoei om die engel ook hier en daar by te kom maar heelaas hy’s glad nie kielierig nie.  As ons opkom het hy my kop in ‘n armklem beet en borsel hy my hare met sy vuis.  Dan word ek bewus van Jesus wat glimlaggend ons dophou: “As julle klaar is kan ons aangaan” sê Hy.  Ek druk my hare reg, trek my mantel reguit en gaan staan langs Jesus. Nou is my aandag gefokus op dit wat God vir my wil kom wys. 
Agter die engel staan so ± twintig kindergrootte engele.   As ek afsak kom een nader en Jesus laat toe dat een by Hom ook kom staan, die ander staan nader.  Almal het krullerige hare, almal is manlik, almal is in wit geklee en almal het een paar vlerke.  Hulle is soos kinders maar tog ook volwasse. 

Ek vra vir Jesus wat doen hierdie engele?  Een steek sy arms na my toe uit, ek tel hom op en ons drie kom dan te staan in ‘n kinderkamer.  Die engel klim op die kind se bed, trek die kombers op en vertroos die kindjie wat hartseer is.  Dan is ons op ‘n plek waar ‘n piekie voor ons met sy rug na ons toe op ‘n stoel sit.  Die engel loop na hom toe waar hy besig is om uit die Bybel te lees en sit sy arm om die piekie se skouers om hom te bemoedig.  Dan is ons in ‘n bos, ‘n vrou loop rond maar sy is baie naïef en kinderlik, sy leef in ‘n wêreld van kinderlike eenvoud, haar verstand is nie volwasse nie.  Hierdie engele is daar vir sulke mense, kinders, klein mensies en mense wat vir ewig in hulle kindwees vasgevang is. Maar tog bederf God ons ander ook om hierdie engele te kan sien of om so bevoorreg te kan wees om deur hulle beskerm te word.  Daar het al so baie getuienisse opgekom van gelowiges wat hierdie kindergrootte engele al beleef het. Was vir my voorwaar ‘n belewenis en ‘n voorreg dat God hulle aan my openbaar het.

1 opmerking:

  1. Lees ook hierdie verhaal http://jackieosinski.wordpress.com/2012/02/22/little-angels-for-a-little-girl/#comment-1671

    AntwoordVee uit