23 Maart 2014

Tweede openbaring oor vroulike Engele

Vroulike engele
Die laaste engel van die groep wat agter die denkbeeldige lyn gestaan het stap Jesus tegemoet.  As Hy my aan die engel bekendstel is ek verbaas hoe baie die engel na ‘n vrou lyk.  Ek kan my oë nie van haar afhou nie want ek het nog altyd geglo dat daar net manlike engele is.  Een ding tel ek dadelik op en dit is dat sy nie borste soos ons vrouens hier op Aarde het nie.  Haar kleed loop geplooi oor haar bors, haar hare is dik en los gevleg na agter toe tot laag in haar nek.  As sy omdraai wag nog ‘n verrassing op my, sy nooi my om oor die denkbeeldige lyn te loop. Ek laat nie op my wag nie en trap vinnig oor die lyn en plaas my hand in hare. Hierdie deel was vir so lank vir my verbode en nou staan ek saam met ‘n vroulike engel agter die lyn.  Met soveel opgewondenheid wat in my borrel loop ons die paadjie op.  Wolke omhul my sig dat ek net die dele kan sien waarop ons loop.  Die lig wat om ons vou is skitterblink lyk soos sagte blink stofdeeltjies, is nie stof nie, dis reinheid, skoonheid en helderheid wat weerspieël word.  Ek kyk weer na haar ek moet seker maak of ek reg sien, sy is beslis ‘n vrou prewel ek vir myself.  Sy het ook nie vlerke maar ek glo dat daar van hulle is wat vlerke sal hê.  Dan sien ek dat hier ‘n paar van die kindergrootte engele voor ons inloop.  Die paadjie waarin ons loop laat my dink aan die beskrywing wat mense gee as hulle ‘n doodse ervaring het, die lig in die tonnel ervaring.  Dis asof ek van een dimensie van die Hemel na ‘n ander een beweeg.  Dan sluit Jesus by ons aan, my liefling Jesus dis darem die wonderlikste gevoel denkbaar om Hom te sien, Sy teenwoordigheid bring innerlike vrede, die oomblik as Hy Homself openbaar helder my lewe op, maak nie saak in wie anders se teenwoordigheid ek is nie. Hy bly my Koning, my Prins, my God, my liefde.


In hierdie spesiale oomblik word ek omring deur ‘n God wat my met geweldige liefde behandel, ek word omring deur ‘n wese wat ek nooit gedink het bestaan nie en ek staan in ‘n deel van die Hemel wat ek angstig op wag om te ondek, ek voel soos ‘n ondekkingsreisiger in ‘n nuwe Geestesdimensie.
 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking