09 Maart 2014

Prins van Israel vs prins van Perse

Daniel 10
PRINS VAN ISRAEL VS PRINS VAN PERSE (DAN 10)
“Die engel sê vir Daniël dat hy gekom het om die antwoord op sy gebed te gee. Op die eerste dag van sy gebeds- en routyd is dit al in die hemel gehoor en het die engel al opdrag gekry om die antwoord na die aarde te bring. Maar die antwoord, die merkbare gebedsverhoring het vir 21 dae lank uitgebly. Vir drie volle weke lank is hierdie magtige engel verhinder om sy werk te doen want die “vors van die koninkryk van die Perse” het met hom geveg. Dit was dus 'n magtige bose engel uit die atmosfeer van die hel. Die geveg tussen die gees uit die hel en die boodskapper van God was so geweldig dat hulp verleen moes word deur een van die vernaamste engelvorste, Migael , sodat God se engel kon oorwin, sodat die bose gees nie die konings van Persië kon opsweep teen die Jode nie.  Eers daarna kon die engel, wat soos alle skepsele net op een plek tegelyk kan wees, verder gaan.

Die engel sê ook wat die doel van sy koms is, naamlik "om jou inligting te gee oor wat jou volk aan die einde van die dae te beurt sal val”. Die engel openbaar aan die profeet en ons dat daar voortdurende stryd in die geestewêreld is maar dat die steun aan die Godsvolk, aan die Kerk voortgesit word. Al was die stryd in die geestewêreld nog in volle swang gaan die engel vir Daniël bekendmaak wat “in die boek van die waarheid” staan. Wat ook al in die geskiedenis gebeur het, vandag gebeur en nog sal gebeur sal nooit in die minste afwyk van God se besluit nie. Daarom kan die engel die toekoms bekend maak as iets wat onwankelbaar vasstaan. Die verwerkliking van die raad van God sluit die stryd van die engele nie uit nie en ons stryd ook nie. Die engele kan alleen veg in en deur die krag van God, vir ons geld dieselfde. Dit is so deur God bepaal en beveel. Engele sal, na die openbaring aan Daniël, veg vir Israel maar nogtans sal dit 'n tyd wees wat rooi is van martelaarsbloed.

Dit laat ons vra: waarom het God nie meer engele na die slagveld in die hemelruim gestuur nie? God is tog as die Almagtige sterk genoeg om die Satan met sy magte te verslaan? Die Boek van die Waarheid waaruit die engel 'n deel aan Daniël bekendmaak, bevat die lydensweg van Israel. Ja, die voet word wel op die kop van die slang gesit, maar nie sonder die venynige slangbyt in die hakskeen nie Gen 3: 15. Die strydengele het dan ook nie die opdrag ontvang om die volkome oorwinning te behaal nie. Dit is net en alleen die reg van Hom wat Here is van mense en engele. Die twee hemelse engele se werk was "slegs" om deur hulle invloed te sorg dat die lyde nie so ondraaglik erg sou word dat Israel totaal sou ondergaan deur die sataniese invloede nie. In hierdie somber en benouende tydvak ontbreek die troos nie. Wanneer die nood op sy hoogste is sal die engelevors Migael intree. Daar is 'n besondere band tussen hom en Israel. Dit gaan hier spesifiek oor Israel se bestaan as volk van God, dus oor die voortbestaan van die Kerk. Migael word ingeskakel sodat die Kerk beskerm word, sodat die 'volheid van die tyd ' kan kom. Migael - wie is soos God - staan Teenoor die magtiges van die wêreld, teenoor die geestelike magte wat in die koninkryk van die Perse en later die Grieke die lewe beheers.  In die vraag 'wie is soos God?  lê eintlik al die hele geheim van die uitverkiesing van Israel opgesluit. Die God van Israel is die God wat teen al die gode van die wêreld en so teen al die volke wat dienaars van daardie magtelose afgode is, ingaan.

Ons moet as Nuwe Testamentiese Kerk die lyne ook uit die Daniëlboek deurtrek na die jongste dag wanneer die aartsengel met skoonklinkende basuingeklank die koms sal aankondig van Hom wat meer is as Migael en wat kom in die dae van die seun van die verderf. Die groot oorwinning word gegee aan die Seun van God, die Leeu van Juda. Eendag sal alle stryd en lyde beëindig word. Paulus sê: "God wat vrede gee, sal die Satan spoedig onder julle voete verpletter" Rom 16: 20 Hierdie God wat vrede gee se vredesryk sal ewig bly voortbestaan. 'n Rukkie nog, en kyk dan weer - die goddelose 's daar nie meer ! Sagmoediges sal alles erf en vrede sonder eind' verwerf. Ps 37: 6”

Uittreksel vanaf: http://www.enigstetroos.org/ Dr Bogaards

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking