10 Maart 2014

Ek beleef Vader in die Hemel

Vader, Hemelsewoonplek

EK BELEEF VADER IN DIE HEMEL
Ek bevind myself in die Hemel, met my bewaarengel aan my sy. Ons stap in ‘n tuinpaadjie af en gaan sit by ‘n marmer spuitfontein. Ek maak my oë toe en vou my hande voor my gesig in. Vir ‘n hele ruk sit ek so en laat myself toe om die dag se gebeure te sorteer. Nogsteeds kop onderste bo gaan my oë oop en ek sien Jesus se voete voor my en soos iets wat jy geen beheer oor het nie, vul Sy liefde my wese. Ek kyk op, Hy staan hier voor my in Sy wit kleed met die blou skouerband oor Sy bors. As Hy hierdie aan het weet ek iets spesiaal wag op ons. Hy steek Sy hand na my toe uit en saam stap ons die paadjie af soos wat ek en my engel ingekom het. Twee ander engele stap voor ons uit en ons volg hulle vir ‘n hele ruk langs groen tuine op dik sagte gras. Die paadjie word breër en soos ons aan stap na ‘n heuwel toe sien ek ‘n skare engele voor my, almal in wit geklee met hul rûens na ons toe. Reuse engele en klein engele, vlerkengele en vlerklose engele, almal bymekaar. Ek kan nie glo wat ek sien nie, nog nooit in my menswees het ek so baie wesens bymekaar gesien nie.
Dan het ek ewe skielik geen beheer oor my liggaam nie, ek word soos ‘n magneet getrek. Die blou mantel wat oor my skouers hang se kappie verberg baie van my sig maar ek voel dat ons tot stilstand gekom het iewers tussen die engele, al wat ek sien is my voete.  Ek sien hoe engele voor ons uittree. Ek sien Jesus se agterkant ek raak dan bewus hoe ons sweef oor die gras totdat Jesus langs my kniel, ek volg Sy voorbeeld. Ek besef dat dit waarna almal kyk nie vir my oë bedoel is nie en dat ons Vader Sy verskyning gemaak het, dat ek nie waardig is om Hom van aangesig tot aangesig te mag sien nie.  So sit ek totdat Jesus Sy hand voor my oë inskuif en as ons opstaan word ek omgedraai met my kappie nou afgehaal sodat ek weer alles kan sien. Die skares engele is besig om uitmekaar te beweeg, massas, massas, massas engele, sover as my oog kan sien is daar net engele. Wat vir my opvallend is, is dat hulle gedrag baie soos die van mense is. Hulle staan gemaklik met mekaar in groepies en gesels. Geen spesiale aandag word aan my gegee of afgestaan nie dis asof ek maar net iemand is wat vir ‘n oomblik in hul midde ingebring is. Ek is glad nie vreemd vir hulle nie maar ervaar ook dat hulle heeltemal bewus is dat ek in hulle teenwoordigheid is.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking