12 Maart 2014

Kosmos engele

Kosmos of Krag engele
KOSMOS OF KRAG ENGELE
Ons staan nou in die woelinge wat ek vroeër van ‘n afstand gesien het.  Ek vergaap my aan die groot, kilometer lange engele, hierdie wesens is so groot dat dit vir my moeilik is om hulle hoogte te kan bepaal.  Jesus roep ‘n engel met vlerke nader, hy kom aangedraf, buig eerbiedig voor Jesus en luister na Hom, dan kom hy na my toe aangestap, sonder ‘n woord tel hy my op en groet my met die mooiste glimlag, iets wat my, my lewe lank sal bybly. Hy vlieg met my die lug in tot omtrent boomtop hoogte.  Dis hier hoog bo wat ek bewus raak van die enorme hoeveelheid engele wat hier teenwoordig is, ek snak behoorlik na my asem, nou besef ek wat word bedoel met ontelbaar. Ek vra vir die engel by my: “Is hierdie miljoene, biljoene of triljoene”. Hy wys drie vingers wat my laat aflei dat hy antwoord triljoene en almal is in wit geklee. 

So tussen deur my verbasing en bewondering raak my hand agter aan die engel se vlerk, dis presies soos voëlvlerke, sag en buigbaar. As hy my neersit stap Jesus met my na een van die groot engele toe, hulle lengtes verskil. As ek opkyk is hierdie een se gesig vir my verbloem, Jesus trap met Sy voet vyf keer langs hierdie spesifieke engel sin om vir my net ‘n idee te gee hoe groot van hulle is, en Jesus het nie klein voete nie. Maar tog is daar van hulle wat nog groter vertoon al wat ek sien, as ek na hulle kyk is hierdie groot wesens wat so hoog staan dat ek nie die einde van hulle kan bepaal nie.  Die groot engel buk af en sit gehurk om Jesus beter te bedien. Hy hou sy hand uit en ek en Jesus klim daarop.  Ons kyk oor al die massas wat voor ons staan en dan vlieg hy met ons die heelal in. Ons beweeg tussen planete en sterre. Die uitspansel lê voor ons uitgestrek, dis mooi om die kleure en vorms van hier te sien, hierdie engel se speelveld is die uitspansel.  Hy beweeg hier rond asof dit is waarvoor hy gemaak is, asof dit sy werk is om elke dag hier wag te hou, hier te werk, hier ere aan God te gee en toesig te hou oor die kosmos.  Dan bring hy ons terug tot in my huis in en dis hier waar ek besef dat hierdie engel een van die engele is wat in Openbaring 10 beskryf word.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking