13 Maart 2014

Ek ontmoet vir Migael

Migael, Jesus se regterhand
EK ONTMOET VIR MIGAEL
Ons staan weer tussen die die engele. Jesus laat my toe om op Sy voet te klim sodat ons vinniger beweeg deur die engele tot omtrent in die middel. Ek gaan staan eenkant en sien dat al die engele se oë op Jesus gevestig is.  Langs Hom staan ‘n engel met vlerke. Die oomblik toe ek die engel sien voel ek die respek aan wat hy afdwing, is asof dit vanself kom, sy hele wese dwing gesag af. Grootheid, eerbied en waardigheid straal uit hom uit, ‘n krag wat onbeskryflik sterk is. As jy na hom kyk besef jy onmiddellik dat jy te doen het met ‘n waardige Goddelike wese.  Hy begin te praat in ‘n taal wat ek nie verstaan nie maar elke engel staan vasgenael na hom en luister. Dis verseker Jesus se regterhand hierdie dink ek by myself.  Doodste stilte heers, nie ‘n geluid kom van enige engel af nie.  Ek buk oor en fluister in my beskermsengel se oor: “Daardie engel beweeg darem sy vlerke baie”. My bewaarengel kyk vinnig in my rigting en sit sy vinger op sy mond om vir my te wys dat ek nie moet praat nie. As ek in die oë van die hoofengel kyk val my glimlag soos die spoed van lig van my mond af.  Hy kyk na my asof hy met een beweging die lug uit my longe vir ewig sal kan wegvee. My bene raak letterlik lam, ewe skielik is die snaaks nou verby. Ek beleef ‘n Daniël oomblik en dit voel of ek van vrees net wil neerval. Ek besef dat geen wese op Aarde met hierdie engel swaarde wil kruis nie, niemand sal ooit aan sy verkeerde kant wil staan nie.

In stilte staan ek en wag dat die verrigtinge moet oorgaan en as hy klaar gepraat het skree die hele gros engele almal een woord, wat vir my klink soos “Jaom”, dit weergalm soos donderweer deur die Hemel. Drie maal herhaal hulle hierdie woord. 

Jesus praat nou met die hoofengel, ek loop na Hom toe maar versteek myself agter Sy rug, hou my maar eerder nederig. Dan trek Jesus my om, na vore, en sê: “Ek wil jou voorstel aan Migael”. Met die noem van sy naam rys my hare en besef ek met wie ek te doen gekry het, hy steek sy hand na my toe uit en groet beleefd. Sy hare vertoon kartelsag en swart tot op sy skouers, ‘n sterk kakebeen met ‘n mooi en fors geboude liggaam onder sy wit kleed.  Hy bly streng maar tog het hy ‘n vriendelikheid wat ‘n mens aangenaam vul. Wat ‘n voorreg om hom te kon ontmoet.

Agter hom staan twee engele, my selfvertroue is in alle glorie terug as ek hulle sien, Migael vlieg weg en ek staan voor die twee engele. “Vir julle ken ek, dit was julle wat jare gelede saam met Jesus in ‘n droom aan my verskyn het. Julle geaardheid is nog net soos toe, stil, eerbiedig maar tog streng. En…. julle twee lyk presies dieselfde.” Hulle antwoord nie, maar groet my met ‘n buiging in vriendelike opregtheid. Hulle praat nie, draai om en val in ‘n ry waar ander engele in ‘n blokformasie staan, ‘n hele paar honderd duisend engele sal ek skat.  Almal lyk presies dieselfde, almal met swart hare wat agter toe “gekam” is. In een stem skree hulle weer “Jaom”

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking