11 Maart 2014

Engele het persoonlikheid

Engele het persoonlikheid
 ENGELE HET PERSOONLIKHEID
‘n Hele paar dae het verby gegaan voordat Jesus my weer teruggebring het na hierdie spesifiek plek.  Ons staan voor die spuitfontein en kyk oor die horison uit.  Ek sien dat daar woellinge aan die gebeur is maar kan nie eien wat presies dit is nie. Ons begin stap in daardie rigting, maar soos ons nader kom is my kappie weer oor my kop getrek, ek kan nie my kop hoog genoeg opgetel kry om te kan sien wat aan die gebeur is nie, al wat ek sien is die gras en my voete. Jesus vat my aan die skouer en draai my na Hom toe, Hy druk my teen Sy bors: “Jy moet nog nie kan sien wat hier aan die gebeur is nie”, sê Hy met ‘n glimlag.

Die volgende aand is ons op presies dieselfde plek en my hart smeek om meer te kan sien, ek word nie teleurgestel as ek weer hierdie skare engele voor ons sien nie. Ons is weer geklee in ons blou, ek met my mantel en Jesus met Sy skouerband, maar hierdie keer het Jesus ‘n kroon ook op, nie ‘n spoggerige sierlike kroon nie, is net ‘n plein, klein goue kroon. As ons so deur die engele stap wat voor ons ‘n paadjie oop maak, noem ek in ‘n ligte luim vir Hom: “Jesus, ek voel soos ‘n prinses”.  Hy laat nie op Hom wag nie en begin waai soos wat ‘n aardse koning sal maak as hy deur sy onderdane beweeg. Ek bars uit van die lag en speel saam, ewe vermakerig gooi ek my hand in die lug en gooi ‘n koningin wuif. Engele wat om ons staan is gou deel van die pret en buig en waai spelerig terug. My beskermengel gryp my mantel agter en loop bors uitgestoot met dit in die lug asof ek nou ‘n vreeslik belangrike persoon is. Soos ek giggel vir die hele petalje besef ek wat God hierdeur vir my wil kom sê.  Engele is geskape met persoonlikheid, hulle het net so goeie sin vir humor as wat ons op aarde het. Die beeld wat ons in die Bybel van hulle kry is dat hulle streng, koud en afsydig of ook vreesaanjaend kan wees maar hier het ek ‘n kant van hulle gesien waar hulle uitgebeeld word heeltemal anders as wat mens hulle sal voorstel, ‘n bewys dat hulle geskape is met ‘n wil, met emosie, met liefde, met gevoelens en beslis ook met humor. Hoe wonderlik is dit om te weet dat ons eendag in die Hiernamaals ons lewe saam met hulle gaan sluit.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking