19 Februarie 2014

Serafs - Vuur wat brand


As ons die Bybel bestudeer kan ons aflei dat daar net 4 Serafs is (Open 4:6) en hulle hoofdoel is om God se troon te beskerm, om Hom te aanbid en te heilig. Hulle kan ook rond vlieg en sing. Ons lees net in twee Bybelboeke oor hulle, Jesaja en Openbaring. Dis hulle wat die aanbidding in die hemel lei.
a). In die Boek van Jesaja
Uit Jes 6:2-3 en 7 kan vier dinge geleer word aangaande die Serafs.
  •  Hulle is rondom die troon van God en loof Hom voortdurend tot mekaar.
  • Hulle word herken deur die feit dat hulle ses vlerke het. Hierdie eienskap onderskei hulle van die Gerubs. Elke paar vlerke het ʼn ander funksie, om hulle voete en gesigte mee te bedek wat 'n kenmerk van nederigheid is en die derde paar om mee te vlieg.
  •  ʼn Seraf reinig die sonde van Jesaja. Hulle het ʼn bediening as reiniging van God se diensknegte gehad sodat mense rein voor God kon staan. Jesaja se sonde is wegggeneem sodat hy in God se diens gebruik kan word. Jes 6:6-7. (Hier kan ons sien dat God Serafs gebruik het om mense se sondes te reinig maar vandag is hierdie diens deur Christus vervang, omdat Hy nou die reinigingswerk doen).
b). In die Boek van Openbaring
Open 4:6-11. Hier kan sewe dinge geleer word.
  • Hulle is rondom die troon van God. En rondom die Seun van God.
  • Hulle word hier ook simbolies vol oë van voor en agter voorgestel, wat beteken dat hulle kan sien ver buite die menslike dimensie om sodoende God se voorsienigheid te kan uitvoer.
  •  Hulle het ses vlerke.(Afleiding dat hier van Serafs gepraat word)
  •  Hulle word elkeen afsonderlik met die gesig van die leeu, mens, bees en arend voorgestel: die vier evangelies – Matteus stel Jesus voor as die Leeu van Juda, - Markus stel Jesus voor as die een wat dien of die bees, - Lukas stel Jesus voor as die mens, Johannes stel die Goddelikheid van Jesus voor deur die Arend. Maar dit kan ook gesien word as:
    - 'n Mens (wat die simbool gee van verstandigheid, m.a.w. hulle het ook 'n siel).
    - 'n Leeu (wat krag simboliseer)
    - 'n Bees (wat gewilligheid simboliseer, m.a.w hulle is so diensbaar soos 'n os)
    - 'n Arend (wat snelheid simboliseer)
    - Met baie oë (wat skerpsinnigheid en voorsienigheid simboliseer).
  •  Hulle word uitgebeeld met oë al rondom en van binne (voorheen net genoem van oë van voor en agter).
  •  Hulle loof God aanhoudend.
  •  Wanneer hulle sê: “Heilig, heilig, heilig”, volg al die ander inwoners van die hemel om God te aanbid en is dit ʼn teken vir die 24 ouderlinge om die Een wat op die troon sit te aanbid. In hierdie konteks is die Een wat op die troon sit, God die Vader.
Open 5,6,7 - Die Serafs sal die Lam dien wanneer die Lam eendag die boekrol met die sewe seëls neem. Met die breek van die seëls begin die groot verdrukking. ʼn Seraf sal ʼn spesifieke seël van oordeel aankondig, (wit, rooi, swart, grys perde). Van die sewe Seël Oordele kondig die vier Serafs die eerste vier oordele aan en hulle sal God prys vir die wat gered word gedurende die groot verdrukking. Serafs gaan gebruik word vir baie van die oordele van die groot verdrukking. God gaan hulle gebruik om Sy toorn op die aarde uit te stort. Open 14,15,19 sal die Serafs die gesang van die duisende aanskou in die Messiaanse Koninkryk en ʼn Seraf sal die sewe skaal oordele aan die sewe engele gee wat by verre die ergste oordele van die hele verdrukking is. Dit is ook hulle wat tot in ewigheid die aanbidding van God lei.

2 opmerkings:

  1. Net nog 'n interessant feit hieroor, as ons lees dat Satan en sy gevalle engele uitgeskop is kan ons aflei dat daar van elke orde 'n groep geval het behalwe van die Serafs. Omdat daar net 4 Serafs is en ons kan sien uit Openbaring dat hierdie 4 nogsteeds teen die eindtyd met God sal wees.

    AntwoordVee uit
  2. Kan ook gesien word wanneer ons aanbid en daar is net 3persone besig met lofprysing dat klink dit of daar ñ hele hemelse koor met ons is en diens vol vol.

    AntwoordVee uit