10 Mei 2017

God se engele is oppad


Jesus vat my die donker nag in tot op 'n plek waar ons op pik swart teëls loop, my wit linne skoene voel die gladheid van die teëls soos ons vorentoe in 'n redelike pas aanstap. Ek hou Sy hand vas en kyk af en toe op en sien dat dit stelselmatig lig word om ons. Al kom die dagbreuk skerp deur bly ons op hierdie swart vloer loop.

Die pas neem nie af as ons later oorgaan op 'n wit teëlvloer nie, so vêr as wat my oë kan sien word ons omring deur hierdie pragtige wit marmer teëls.  Ek kyk om en sien hoe die swart gedeelte agter ons in die horison verdwyn.  Ons stap, tree vir tree sonder dat ons enigsins na mekaar kyk of 'n woord tussen ons spreek.

Ek gaan staan stil as daar uit die niet uit 'n roesbruin gevlekte marmervloer voor ons lê, maar Jesus loop aan, Hy trek my hand en die grootheid van die oppervlakte laat my so klein soos 'n mier in 'n oerwoud voel.  Ons stap tot iewers in die middel van hierdie gedeelte, of dis altans hoe dit vir my voel. Ek draai om, na alle kante strek hierdie roesbruin en my oë kan nie die einde bepaal nie.

Vir lank staan ons stil, net daar in die middel van hierdie vreemde kleur.  My gedagtes sukkel om te fokus, ek moet hard konsentreer om saam Jesus te wag vir die volgende beeld om af te speel. Dan, op die horison verskyn wesens, dis lewe, beweging, iets wat my onmiddellik angstig maak en in 'n breukdeel van 'n sekonde staan hierdie menigte skare engele reg voor ons.  Ek probeer kyk maar kan nie sien nie, dis weer een van daai oomblikke waar ek nie toegelaat word om hulle in die oë te mag kyk nie. Iets verberg die grootste gedeelte van my sig. Ek sien die ry wat hier voor ons staan, omtrent 5 meter van ons af net die gedeeltes van hul knieë ondertoe en so ook vir Jesus net van Sy heup ondertoe, maak nie saak hoe hard ek probeer kyk nie, dis nie vir my beskore om meer te sien nie.

Maar hoe ook al sy, Jesus vat my en lei my langs die legion engele af, ons stap so al langs die voorry tot waar ek vermoed omtrent die middelste gedeelte van die menigte is.  Jesus spreek hulle toe, ek hoor niks, ek sien niks, dis asof die klank in 'n fliek afgesit word met hierdie beperkte beeld wat ek sien.  Ek word bewus van eers een engel en toe nog een wat reg voor Jesus kom staan, met hul wit kleed wat saggies beweeg soos hulle voor Hom, miskien luister of miskien opdragte aanvaar.  En dan soos blits is alles weer oop, met geen engel in sig nie.

As ons die pad terug stap soos wat ons gekom het vra ek of Jesus dalk vir my 'n aanduiding kan gee van wat alles beteken.  Hy druk 'n papier rol in my hand wat ek in 2009 opgestel het oor visioene wat ek toe ontvang het.  Hy se: " Hierdie profesieë gaan nou heeltemal in vervulling kom."

06 April 2009
‘n Vreesaanjaende ervaring wag op ons, maar vir gelowiges is daar niks om oor te vrees nie. Na die paasfees sal ‘n man wat in die tronk was tot staatspresident verkies word, hy sal ‘n man wees wat arm groot geword het. God sal aan hom rykdom, eer en besittings toelaat, maar hy sal dit nie vir lank geniet nie. God weet alles wat ons doen. God ken sy reputasie en dat hy homself verryk. Hy sien dat alles vir hom as ‘n beloning moet dien omdat hy glo, sy inspanning en opofferings verdien dit. Maar wees ook gewaarsku God gaan van ons stutte en steunpilare verwyder - dit is ons brood en water. God gaan die vrouens in leier posisies vernederings op die hals bring as gevolg van hulle hoogmoedigheid, hulle gaan ‘n skande wees. Droogte sal die hele land teister geen reën sal val nie, die grond sal niks oplewer nie, boere sal moedeloos word en kop onderstebo rondloop. Kos gaan min word - wees tevrede met dit wat vir jou voorgesit word om te eet. Verdrukking – mense se klagtes sal teen dowe ore vas slaan. Godvresende mense moet luister na hierdie waarskuwings en BAIE MENSE SAL gelowig word as gevolg van hierdie beproewings. Leiers sal in die tronk opgesluit word en hulle sal hulle straf uitdien vir dit waaraan hulle skuldig bevind word.
MAAR GOD SAL ONS GENADIG WEES – HY STUUR SY ENGELE na hierdie volk wat van Hom afvallig geword het sodat ons weer kan terugkeer na Hom toe. Ons land sal weer groot en sterk word. Almal oor die wêreld sal notisie van ons neem, ons sal weer goeie geestelike vrugte dra en ons land sal ook weer goeie oeste oplewer.

15 September 2009
Die wat nie goeie vrugte gaan dra nie gaan hel toe gaan. Die wat daarop uit is om kwaad te doen, julle wat rebellie tussen mense veroorsaak, julle sal nie oor die hoof gesien word nie. Laat die Here jou herder wees sodat jy niks in die lewe kort kom nie. God maak dit baie duidelik jou boom sal afgekap word, jou blare sal afgestroop word en jou vrugte sal weggegooi word as jy jou vrug dra vir Satan. Die Allerheiligste SAL ENGELE STUUR stuur om sy kinders te beskerm. Terwyl God se boodskappers sy Boodskap verkondig, slaap die ongelowiges lekker en bly hulle voorspoedig in hulle paleise maar eintlik moet julle huil want die dag van afrekening is naby, die wat God se voorskrifte nie nakom nie julle sal die gevolge dra van julle sonde. Ellende wag vir die wat hulle huise met onreg bou, wat die reg minag, wat mense sonder betaling laat werk. God maak sy wil aan mense bekend, Hy maak sy plan aan volke bekend. Daar is baie dinge wat vir julle verbode is. God sal sy mense stuur en sekere persone uitsonder om Sy boodskap bekend te maak.

16 November 2009
Ek wil hê die mens moet My kan dien so lank as die son en maan skyn, sê God. ’n Vrolike mens is soos goeie medisyne maar ‘n neerslagtige mens tap jou kragte. Ryk mense slaap onrustig want hulle stres hulle dood. Hoekom al hierdie rykdom najaag? Slaap eerder rustiger soos ‘n gewone werker. Hoekom sien julle net die slegte in ander mense raak, begin eerder om die slegte dinge in jouself te soek. Moenie God beproef nie, Hy weet wat Hy doen. Die hele land SAL DEUR GOD SE ENGELE beskerm word, maar hulle bring ook pes en dood mee. Staan eerder op en volg Jesus! God gaan niemand verskoon of spaar nie as ons die keuse maak om God te verlaat is Hy in staat om ons almal uit te roei, om ons te verpletter, selfs vaders en kinders sal teen mekaar te staan kom. Baie sal tot bekering kom en Hy verjeug Hom oor hulle en die van julle wat genesing nodig het, God sal julle gesond maak, hou moed.

18 Januarie 2010
Daarom sê ek met God se gesag. Moenie langer soos nie-Christene lewe nie. Wat hulle uitdink, is niksseggend. Wy julleself aan die Here toe. God sal dat geregtigheid seëvier oor die bloed wat vergiet is van die kinders wat aan Hom toegewyd was, die bloed wat vergiet is van hulle wat getuies van Jesus was. Die duiwel sal die aftog blaas. EN ENGELE SAL ONS KOM VERSORG. Elkeen wat gewillig is om te luister, moet hoor wat die Gees aan hulle sê. Elkeen wat aanhou oorwin, sal God laat eet van die boom van die lewe wat in die paradys van God staan. Sê vir God: “Hoe ontsagwekkend Sy werke is! Sy vyande kruip voor Sy grote mag. Die Here, God die Allerhoogste, Skepper van hemel en aarde. U wat red met U sterke hand, toon U wonderlike trou aan hulle wat beskerming soek van vyande. Wee julle wat vir ‘n stuk hout sê: “Word wakker! Kom red ons!” Kan julle by ‘n lewelose klip iets leer? Kan ‘n stom klip sê wat om te doen? Al is dit oorgetrek met goud en silwer is dit heeltemal sonder lewe. Raak eerder ‘n dissipel vir Jesus.

  • Die nag stap op 'n swart vloer - Ons is tans in hierdie vreesaanjaende donker tyd.

  • Die dagbreuk op die swart vloer - Ons gaan verligting ervaar maar nogsteeds swaar trek, ons gaan die verligting van God voel, alhoewel onheil nogsteeds met ons gaan wees.

  • Die wit vloer - Ons gaan deurbraak kry, wit verteenwoordig nuwe begin, helderheid, skoonheid, waarheid, onskuld.  Heiligheid - 'n nuwe volk wat ontwaak het. Wit staan vir lig, lewe en skeppingskrag. 

  • Die roesbruin (koper) vloer - Tyd vir afrekening, die kleur Koper verteenwoordig geestelik ook versoening en herstel. Die roes, bruin, koper kan gesien word as die kleur van die Aarde, die engele staan met hul voete op hierdie kleur, die plek waar hulle voete raak. Na nog 'n ruk van swaarkry en hopeloosheid het die tyd van afrekening gekom, herstel en versoening kom. God stuur Sy engele.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking