Ons staan op
swart blink gladde teëls, die omgewing is swart en donker,
alhoewel ek alles om my kan sien. Ons begin
stap, al hoe vinniger totdat ons hardloop.
Jesus hardloop onder my uit, voluit, vir ‘n lang ruk. Hy sit alles in wat Hy het en as Hy stadiger
begin hardloop en tot ruste kom dan eers haal ek Hom in. Hy’s moeg en blaas en hyg na Sy asem, Hy
staan met Sy arms in Sy heupe en haal diep asem totdat Hy weer kalm is.
As Hy weer
rustig asem haal tree ons op grys teëls, die omgewing is alles grys. Dis
asof dit kubikels is waarin ons tree.
Ons begin vinnig stap op hierdie blink gladde teëls Hy loop later so
vinnig dat Hy weer onder my uitloop vir ‘n hele lang ruk. As ons stadiger begin loop en tot stilstand kom
is Jesus weer uitasem uit. Hy staan stil
en haal eers diep asem tot Sy asemhaling weer kalm is.
Dan tree ons
oor op spierwit marmer teëls, alles om ons is wit, skoon en
helder. Ons stap rustig maar tog ook met
‘n redelike pas oor die wit gedeelte maar ons is nie moeg by die eindpunt nie
en wanneer ons by hierdie punt kom lê ‘n laaste deel voor ons.
Ook ‘n wit
oppervlakte maar hier is die lug heel anders, dis baie skoon dis asof die
atmosfeer skitterblink soos klein silwer stofdeeltjies wat in die lug
hang. As ons intree in hierdie gedeelte
voel ek onmiddellik die teenwoordigheid van die Heilige Gees. Ons stap rustig ‘n ent hierop en dan sak
Jesus af op Sy knieë.
Ek volg Hom en trek outomaties my rooi mantel se kappie oor my kop. Ek sien Jesus se voete soos Hy langs my
gehurk sit. Ek hou Hom aan Sy enkel vas
maar Hy staan op die oomblik toe ‘n helder geel lig alles om ons verlig. Ek raak nogsteeds aan Jesus maar nou met my
hand wat Sy kleed vasklou. Ek weet dat
Vader Sy verskyning gemaak het en dat Jesus met Hom kommunikeer.
As die lig
uitdoof druk Jesus Sy hand onder my kappie in en laat my opstaan, ons draai
terug en die 4 dele waardeur ons gekom het lê voor ons uitgestrek, Jesus staan nou
met ‘n wit boek in Sy hande wat Hy vir my oorhandig. As ek die eerste blad open sien ek weer die
prentjie voor my waar ons deur die swart gedeelte beweeg maar hierdie keer is
dit ‘n foto in die boek en nie ‘n beeld wat afspeel nie. Die uitleg van die visioen word in die boek
vir my uiteengesit.
Uitlegging:
Swart: Swart verteenwoordig simbolies dit wat sleg, onwaar, onheilig en onbetroubaar is. ‘n Simbool van sonde en boosheid. Jesus is die enigste een wat jou vanuit die donkerte na lig kan lei omdat Hy die waarheid is. Goed en sleg kan in donkerte dieselfde lyk, donkerte (sonde) word verdryf deur lig. Maar die mens wat in hierdie duisternis beweeg is God haastig om julle hier uit te kry, die tyd is min, Jesus loop nie hierdeur nie maar Hy hardloop in volspoed om deur die donker na lig te kom.
Die mens
leef vandag net vir hulself, glad nie meer skaam om openlik te sondig nie, hulle
hardloop in hierdie donker “rat race” en weet nie hoe om die lig te sien
nie. Ons moet gou maak die tyd is min om
ongereddes na die lig te neem, ons moet mense aanspreek op hul sonde, ons moet
die verkeerde uitwys, ons moet die evangelie verkondig en die saad saai. En in die proses moet ons selfstandig optree
wanneer mense ons te na kom, hou aan om goed te doen moenie dat slegte mense
jou dwing om vergelding toe te pas wanneer hulle jou te na kom nie.
Die wat die
tekens van die tye ken weet dat die einde naby is, maak gou, moenie jou vriend
of geliefde agterlos nie, bid… bid… bid vir hulle, praat… praat… praat met
hulle want God hardloop in volspoed na die volgende amper laaste fase.
Kan nie
genoeg klem lê oor hoe haastig God is nie!! God roep mense op tot bekering
voor die laaste oordeel, Satan weet dat sy tyd min is en palm soveel bose mense
in as moontlik, die swart dui aan op ‘n moeilike bose tyd, inval van die bose
magte wat martel en doodmaak – dis verwoestend (‘n tyd waarin ons nou is). God
roep mense ernstig aan om tot bekering te kom voor die laaste oordeel.
Grys: Daar is hoop vir God se kinders, ons is reeds deur Hom gemerk omdat ons aan Hom behoort, geestelik is ons onder Sy beskerming – ons eindbestemming is reeds gewaarborg.
Hou jou
spoed moenie afskaal nie, moenie moed verloor nie, volhard tot die einde dis
nie meer ver nie, as ons die grys area gaan betree gaan ons rustiger raak,
dinge gaan vir ons meer aanvaarbaar wees, makliker en rustiger.
God weet dat
die einde naby is as Hy die grysarea betree weet Hy dat die wat gemerk moes
geword het reeds gemerk is, daar is nou nie meer omdraai kans nie, dis nou net
vinnig stap na die einde toe.
Hou jou
spoed en volhard – maar daar is nog tyd om jou geliefdes en ongelowiges te
probeer oortuig, moenie ophou bid en praat met hulle nie.
Wit: Die adder geslag word aangespreek, dis die einde en die oordeel sal volbring word. Die hel is al wat wag vir die slange, geen omkeer meer nie, die gelowiges is gemerk en ons wag vir die dag om aan te breek. Dis klaar dis verby.
God gaan die
antichris kom vernietig en die ware gelowiges wat God se ware kerk nog
verteenwoordig sal in hierdie tyd deurbrake soos min maak. Daar sal geweldig baie mense net voor die
einde deur die ware kerk tot bekering gebring word. Valse profete sal geen impak hê op die ware gelowiges nie. Baie sal rein, skoon en goed word
en verstandige leiers sal die evangelie verstaan.
Die hele wêreld is bly oor die kerk wat tot niet gaan maar God sal net
voor die einde (tydens hierdie wit era) weer Sy kerk kom lewendig maak. Ons sal
rustig wees omdat God ‘n muur om ons gebou het en ons geestelik beskerm. Die
valse en onopregte Christene is reeds uitgesluit maar die kerk van God sal net
voor die koms van Jesus weer opstaan en sal vir die laaste keer mense tot
bekering bring en God verheerlik.
Skitterblink: Ons is in die Hemel, ons word verenig met ons God. Jesus het ons kom haal en saam kan ons in die teenwoordigheid van ons Vader as gelowiges ons God eer, loof en prys. Die einde het aangebreek, dit is volbring …. Alles was die moeite werd, niks meer gespot, gehaat en verwerping omdat ons glo in Jesus nie.
Dis nou net
‘n ewigheid in ‘n skitterblink nuwe Jerusalem, saam geliefdes, engele en ons
geliefde Jesus Christus.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking