20 Januarie 2015

Christene gaan nie met oordeelsdag deur God veroordeel word nie



Daar is soveel dinge wat ons nog nie verstaan nie en wat ons met die hulp van die Heilige Gees insig oor moet kry. Ek skud my kop as ek die woorde van die Leraar hoor: “Christene sal nie deur God veroordeel word met oordeelsdag nie.”

Vir dae steek hierdie woorde in my vas en alles in my rebelleer teen hierdie siening. Vraag na vraag, vra ek vir God hoe is dit moontlik dat ons Christene nie geoordeel gaan word nie. Ek verstaan dit glad nie, dit maak vir my nie sin nie, dit is vir my een van die onregverdigste uitsprake wat alles hier binne my van hoek tot kant laat omgooi.  

Ek soek antwoorde by God want hoe is dit moontlik dat mense weg sal kom met die pyn wat hulle aan ander veroorsaak. Ek soek antwoorde by mense, verduidelik vir my wat word bedoel in Romeine 8:1 Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie… Mense antwoorde my met die beste waarmee hulle kan verduidelik, maar dit bring vir my geen stilte nie, dis nie wat ek wil hoor nie, elke keer gaan ek terug na die Here toe en herinner Hom aan die mense wat my te nagekom het, hulle kan mos nie wegkom daarmee nie. Dis asof Christene die Cart Blanche ontvang om te mag doen wat hul wil en daar wag op hul geen straf nie, geen veroordeling, in die hiernamaals nie.  

Is dit nie reeds wat ons geleer word van kleinsaf dat: Wanneer iemand jou te na kom, dan draai jy om en stap weg en laat die oordeel aan God oor nie, en dis nou asof hierdie oordeel geen waarde meer het nie.  Die moordenaar en verkragter wat soveel pyn en lyding veroosaak het sal eendag wanneer Hy voor God staan op die skouer geklop word want hy het iewers van die bose daad tot sy dood Jesus ondek en bekeer tot die ware evangelie. En hy staan skotvry voor God, geen veroodeling, geen straf meer nie.
Oor en oor prewel ek dit vir God, dit maak vir my nie sin, Vader help my om hierdie te verstaan want ek soek vergelding vir die mense wat pyn bring. 

God neem my na ‘n erediens by ‘n kerk wat ek baie lanklaas besoek het.  En waaroor gaan die Leraar praat: GENADE. God het genade kom beskryf deur ‘n verhaal te vertel, Luk 15:11-32

…Pa ek soek my erfgeld, ek is nie gelukkig nie, ek wil loop ek haat my lewe, ek haat julle ek wil wegkom van alles en almal af, julle walg my.
….Seun dink mooi wat jy vra, waar gaan jy oor kan begin.
…Maak nie saak nie solank ek hier kan wegkom sal my lewe gelukkig wees.
…Die erfgeld is soos ‘n doodsvonnis wat geteken word, my kind, as jy dit vat dan beteken dit die einde van die goeie dinge wat ons ook beleef het. Jy sien dit as die einde, dat dit verby is want jy kies om ons te verruil vir die wêreld. 

Die erfgeld het tydelike vrede gebring, dit het ‘n losbandige lewe van genot en plesier gebring, dit het valse vriende en vekwisting gebring en nou leef ek hier in die varkhok, hier waar ek die ellende van armoede en walglike stank moet beleef. Miskien, dalk net miskien, kan ek terug gaan na my pa toe, miskien sal hy my vergewe.  Nee, ek is mal om so te dink, ek het gekies om hom te los en weg te gaan, hy sal my nooit terugvat nie. Die pyn en ellende wat ek op myself gebring het is ondraaglik. Ek gaan die moed bymekaar skraap en my pa in die oë kyk.

Vir ‘n ruk staan ek net en kyk na die bekende hier voor my, as ek die hek agter my toemaak sien ek my pa op die stoep regop kom en as hy aangehardloop kom met sy mank been begin die trane oor my wange loop, my pa is bly om my te sien. Ek is jammer pa, is al wat ek kan uiter.  My pa lag en gooi sy arms om my terwyl hy my trane afvee, vandag my seun, vandag gaan ons nie huil nie ons gaan feesvier, My liefde vir jou is te groot om te huil, my vreugde is te veel, ons gaan juig, ons gaan ‘n vet skaapbraai hou en almal laat weet jy’s weer terug. Skoonklere en ‘n blink ring vir jou vinger want dit is wat jy verdien. Ek is jammer pa, probeer ek nogsteeds om my skuldgevoelens te laat hoor.  Ek weet jy is jammer my kind, dis hoekom jy hier is. En dis al wat tel. Jy het tot jou sinne gekom My genade is vir jou genoeg.


Die ander broer, die een wat altyd getrou was en lojaal geleef het voel ongelukkig, dit voel of geregtigheid nie geskied het nie, dis so onregverdig dat die een wat soveel pyn en seer veroorsaak het, ‘n fees ontvang, geklee word in wit met ‘n ring aan sy vinger en dit net omdat hy terug gekeer het na ons midde toe ten spyte van sy losbandige en verkwiste lewe. Ten spyte van sy walglike dade wat hy aan ander gedoen het, my pa gaan hoor wat ek gehoor het wat hy alles gedoen het, dit sal hom laat van plan verander en hom wegjaag na waar hy hoort


  • Dis hier waar ek staan in die plek van die tweede broer, ek soek vergelding en sien nie raak die seëninge wat ek ontvang van my Vader by wie ek elke dag is nie. Ek staar my blind teen sonde van ander maar vergeet van die vrede, liefde, voorspoed en ongekende guns van Vader wat ek elke dag ontvang omdat ek getrou hier by Hom is. Ek ontvang alles dit wat my Pa het, dit wat syne is, is myne ook.  Terwyl ander die pad van die wêreld stap geniet ek die teenwoordigheid en vriendskap van my Pa en dit is wat Hy vir almal wil gee ongeag hoe groot die sonde is. En daarom moet ons nie hierdie genade vir onself hou nie maar dit uitdeel sodat almal deel kan hê daaraan. 

  
Jesus het nie verniet aan die kruis kom sterf nie, Hy het vir ons genade gebring, vir my, vir jou en ook vir die een wat ‘n moordenaar, verkragter en rower is. En daarom sal nie een van ons wat ons verbind aan Jesus Christus veroordeel word nie maar gaan ons die genade ontvang wat Hy beloof het aan die kruis.

Ek is dankbaar dat ‘n Leraar vir my die onverstaanbare dinge kon uitspel sodat ek ook die genade van ons God kan verstaan. (Wil graag erkenning gee vir Dss Johan Smith en Stephan Joubert van Moreleta Gemeente)

3 opmerkings:

  1. Hi Salomi. Doen jouself 'n guns en besoek CIM. Hulle hou Dinsdag aande on 19:00 'n diens in die Basilah Restaurant by die Moreletta gemeente.

    Groete

    AntwoordVee uit
  2. Hi Salomi, dit is wonderlik. Terwyl ek gelees het, dink ek ja dit is soos mens voel, jou hele wese wil uitroep om vergelding. Dit is waar vergifnis te pas kom. Wanneer ons die onse Vader gebed bid, bid ons "vergewe ons ons skulde NET SOOS ons ook ons skuldenaars vergewe", dus wanneer ons nie ons skuldenaars vergewe vir wat hulle aan ons gedoen het nie, kan die Vader ons ook nie vergewe vir wat ons aan Hom of ander gedoen het nie. Dit is hoekom vergifnis so belangrik is. Wonderlike boodskap.

    AntwoordVee uit
  3. Al wat ek kan sê is WOW. Jy sal nie glo hoeveel hierdie vir my gisteroggend beteken het nie. Dit het so saam met my stiltetyd boodskap geval. En dit het my oë groot oopgemaak. En weet jy, ek het so gedink daaraan en besef dis so so waar!!! Ons sal nog eendag daaroor gesels. Dit wat in my kop gemaal het is te veel om te tik. Ek wil vir jou sê baie dankie vir die!!! Liefde

    AntwoordVee uit