06 Maart 2014

Is mense oor engele aangestel

Het mense mag oor engele?
Hulle voer die Here se opdragte uit en gehoorsaam Sy bevele, nie die van mense nie. Dwarsdeur die Bybel word vertel van ʼn skare engele wat deur die Here gestuur word om Sy opdragte uit te voer dus staan hulle onder Sy bevel. (Matteus 26:53). Selfs Jesus het op aarde as ʼn mens nie opdragte aan die engele gegee nie, maar kan sy Vader vra om hulle te stuur. Jesus het die pad vir ons oopgemaak om met vrymoedigheid na God te gaan met ons versoeke. God weet wat die beste vir ons is. Jesus sê: ‘Dit verseker Ek julle: Wat julle die Vader ook al in my Naam sal bid, sal Hy vir julle gee' (Johannes 16:23).

Mense getuig dat ons bo hierdie wesens aangestel is omdat ons lees in 1 Kor 6:3 dat ons oor hulle sal oordeel. Jesus het die mag oor alle wesens en volgens 2 Tim 2:12 sal die gelowiges saam met Hom regeer. Christus het as die Kaptein gely vir ons redding en is verhef tot die hoogste Troon in die Heelal en as ons op dieselfde manier vir Hom ly sal ons ook saam met Hom heers. In Heb 2:5-9 lees ons dat dit nie aan engele is dat Hy die toekomstige wêreld, waarvan ons praat, onderwerp het nie.  Inteendeel, iemand het êrens getuig en gesê: Wat is ‘n mens dat U aan hom dink, ‘n mensekind dat U na hom omsien? U het hom ‘n kort tydjie minder as die engele gemaak; U het hom met heerlikheid en eer gekroon. U het alles aan hom onderwerp.” Ons lewe as mense op aarde is baie korter as die lewensduur van engele sin. So moenie jou tyd op aarde verwyl met onbenullighede nie. Engele hou dus vandag wag oor ons, hulle is dienende geeste totdat ons die Koningkryk beërwe. Heb 1:14


Wanneer jy direk begin kommunikeer met engele begin jy op gevaarlike terrein beweeg.  Daar’s talle mense vandag en in die geskiedenis wat afgode van engele begin maak het en wat aandring dat jy jou bewaarengel moet vra vir hulp.  Volgens hulle is al wat jy hoef te doen, is om net te vra. Jy moet jou engel uitnooi om saam met jou te werk jy moet hom welkom laat voel by jou, ens, ens. Tog weet ons dat wanneer enigiets die plek van God begin inneem dimoniese gevolge kan hê, groot waarskuwingsligte moet flikker as jy ‘n wese om jou, begin vra vir leiding en hulp i.p.v. God. Moenie dat hulle intree tussen jou en jou geliefde Jesus nie.

Is dit dan voorbarig van ons om vir God te vra om Sy engele te stuur om ons te beskerm? Wie van ons het nog nooit gebid en gevra vir engelbeskerming nie? Mag ons ook vir die Vader vra om vir ons ‘n legion engele te stuur? As ek vir God vra om Sy engele te stuur vir beskerming sê ek Hom nie, ek vra Hom, ek stel geen eise nie en vra ook nie met verwagtinge dat Hy moet gehoorsaam nie. Die rede hoekom ek hierdie versoek aan Hom rig is omdat ek weet tot wat Sy engele instaat is deur Hom en dat Hy dit alleenlik sal toestaan omdat Hy ‘n genadige God is. As jy my vra of ons God mag vra vir engelbeskerming is die antwoord verseker Ja! Solank jy dit deur Hom doen.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking