15 Maart 2014

Hoekom dra engele swaarde of stawwe

Engele met swaarde of stawwe
 HOEKOM DRA ENGELE SWAARDE OF STAWWE
Nogsteeds vasgenael voor die engel en soekend, alles wat ek sien wil ek inneem, my ore tel nie geluide op nie maar tog verstaan ek elke ding wat vir my verduidelik word. My vel tel sensitiwiteit op en kan gevoelens bepaal, my mond praat baie alhoewel ons nie dieselfde taal praat nie maar tog verstaan ek hulle.  As ek so kyk na die engele met swaarde sien ek ander met stawwe, elkeen se staf verskil, is dit soos hul persoonlike smaak verskil of is dit afhangende van die taak wat hulle moet verrig, wonder ek? Party stawwe is uitgekerf, ander is eenvoudig soos wat jy sal kry in die ou sprokies veewagter verhale. 

Ek raak bewus van Jesus wat hier langs my staan, Hy sien die vrae wat ek het en antwoord my deur die Heilige Gees wat my gedagtes terugvoer na die keer toe my bewaarengel sy staf ontvang het.  Jesus het die staf aan my oorhandig en Hy het dit terug geneem en dit vir die engel gegee waarvan hy toe die houer geword het daarvan. Van die dag wat hy hierdie staf in ontvangs geneem het, het ek hom nog nooit weer daarsonder gesien nie. Dit is soos ‘n tipe van driemanskap tussen ons - God, die engel en ek. Die swaarde is vir beskerming en die staf wonder ek, wat is die rede vir dit? “Ps 23:4” antwoord Jesus. Aag natuurlik, Dawid maak dit duidelik, U stok en U staf vertroos my. Of soos die nuwe vertaling dit gee, beskerm en ondersteun my. 

Die vraag wat ek aan God stel is hoe gebruik ‘n engel ‘n staf of swaard tot hul voordeel, is hul nie sterk genoeg om sonder hierdie toebehore klaar te kom nie?
  •  Num 22:31 Die Here het Bileam se oë oopgemaak en hy het die Engel van die Here in die pad sien staan met ‘n ontblote swaard in die hand. Toe buig Bileam voor die Engel.
  • Gen 3:24  Die Here God het die mens uitgedryf, en om die toegang tot die boom van die lewe te bewaak, het Hy oos van die tuin van Eden gerubs gesit, en ook ‘n vlammende swaard wat heen en weer beweeg.
Hier is dit eintlik vir ons duidelik dat engele swaarde gebruik het lank voordat die mens nog daaraan gedink het om oorlog te maak, swaarde was al deel van hulle toe die mens nog net 'n gedagte by God was. 
  • 1 Kron 21:16 Toe Dawid opkyk, sien hy die Engel van die Here tussen die hemel en die aarde staan. Die Engel het ’n swaard in sy hand gehad en hy het dit oor Jerusalem gehou. Dawid en die leiers van Israel het rouklere aangehad en hulle het laag gebuig met hulle gesigte teen die grond.

Engele is deur God gemaak om te beskerm en te verdedig aan die een kant en aan die ander kant vir bemoediging en ondersteuning. So die met swaarde is God se “soldate” en die met stawwe is God se “ondersteuners”.  God het vir my ‘n fraksie meer laat sien oor hoekom hulle swaarde nodig het in die stuk wat bespreek word onder: Veg engele en Tweede openbaring oor Magte engele.

1 opmerking:

  1. Ek is baie dankbaar vir die stukkie van die Engele met die swaarde en stawwe. Enige insig in die Geestesryk is altyd welkom en verfrissend. Dankie Salomi.

    AntwoordVee uit