25 Maart 2014

Dis hoe engele werk

Hier volg ‘n simboliese voorstelling wat God vir my kom gee het sodat ek die werking van engele beter kan verstaan. 
Die vrou engel wys weer dat ek moet kyk in die rigting wat sy wys. 
Troon engele: Wolke trek weg en drie engele staan voor ons met vlerke, hulle kleed is wit met ‘n donker gordel vasgetrek.  Hulle hare is donker en agtertoe “gekam” al drie van hulle lyk identies.  Hierdie engele se oë gloei bloedrooi soos die een wat by die troon gestaan het, dis Troon engele.  Jesus stap na hulle en groet elkeen met die hand, sy liefde vir hulle is baie groot, ek kan dit sien deur die manier wat Hy met hulle gesels.  En hulle het op hulle beurt die grootste respek en bewondering vir Hom.  Elke engel hou ‘n ronde swart bal vas omtrent die grootte van ‘n “templin bowling” bal, dit lyk of die balle van ‘n tipe gesteente gemaak is. 
As die wolke voor ons wegskuif loop ons saam in ‘n oostelike rigting in.

Heerskappy engele: ‘n Heerskappy engel wag vir ons.  Hy is geklee soos die vorige een, kan nie sê of dit dieselfde een is nie maar ek sien nou defnitief ‘n kroon op sy kop. Jesus loop hom tegemoet en hulle staan eers ‘n rukkie en gesels voordat Jesus na die drie Troon engele wys wat by my staan.  Die engel kom na ons toe aangestap en gaan staan voor die eerste Troon engel wat op sy beurt die swart bal aan die Heerskappy engel oorhandig, as die Heerskappy engel dit oorvat verander die bal in sy hand na ‘n ligte geel/goue blink helder lig, ‘n bal wat terselfde tyd sonstralend is, lyk soos ‘n tipe van ‘n albaster, hy loop met die bal en verdwyn agter ‘n mistige wolk.  As hy terugkom luister hy wat die tweede Troon engel te sê het, vat die bal en doen dieselfde oor en so ook by die derde Troon engel.  Die Troon engele groet en stap in die rigting vanwaar ons gekom het. 
Ek word nou geblinddoek en my mantel se kappie word oor my kop getrek.  Al wat ek kan sien is dat ek agter die Heerskappy engel loop en dat Jesus links van hom loop. Ons loop so vir ‘n hele ent waar ek net my voete op ‘n marmervloer kan sien wat met mistigheid bedek word. As ons tot stilstand kom los Jesus my alleen en so wag ek vir ‘n hele rukkie voordat ek een van die kindergrootte engele by my bene sien, hy loer, loer so onder deur na my gesig. Ek voel dat hy my hand vat en my lei, die blinddoek is so dat ek kan sien ons stap verby drie pilare. As die blinddoek afgehaal word hou die klein engel nogsteeds my hand vas en skat ek die pilare omtrent so 1meter hoog, met die drie kristal balle op.  Nuwe engele het nou by ons aangesluit en die Heerskappy engel gaan voor hulle staan, dan begin hulle sing, weereens kan ek nie hoor wat gesing word nie maar my vel voel die lieflike klanke aan wat uit hul monde kom, my maag kry vlinders en rustigheid spoel oor my.  Ek hou hulle dop en wens so uit my diepste wese dat ek kon saam sing, ek beleef elke hoë noot wat gesing word met hoendervleis maar tog kan ek nie dit hoor nie. God kom bederf my om hierdie saam met Jesus mee te kan maak, ‘n spesiale oomblik wat ons kan deel tot ere van Hom.  Jesus geniet hierdie sang uit Sy binneste, Hy gooi Sy hande omhoog en sing met tye saam.  Een van die engele sing alleen maar die passie waaarmee hy dit doen laat rillings oor my spoel ek beleef dat uitsonderlike hoë note geraak word en dat die Heilige Gees ook sterk teenwoordig is. Ek besef nou dat engele ook met talente geskape is en as hulle klaar gesing het stap hulle in ‘n rustige, ontspanne luim weg.

Owerheid engele: Elke aand word ek terug gebring na hierdie plek langs die pilare, my gedagtes hardloop rond, is asof ek nie kan fokus nie. Probleme, emosionele wroegings, alledaagse bekommernisse en vrese bly net my gedagtes vul. Moedeloos kom ek elke keer terug na die werklikheid en is teleurgesteld omdat dit vir my voel ek het nie volle kontak behou in die Gees nie, my gedagtes het net elke keer in sirkels rond gehardloop. Ten einde laaste begin dit tot my deurskemer dat dit juis God se doel is met hierdie openbaring om my te laat verstaan hoe Hy Sy engele gebruik om ons te help in alles, van die hoog geplaastes tot die gewone engele. 
Jesus stap vorentoe en oorhandig een van die balle op die pilare aan die Heilige Gees, nog een aan my bewaarengel en die laaste een neem Hy in Sy hande.  Elke keer wanneer Hy die bal oorhandig staan Hy eers en gesels vir lang rukke met hulle.  ‘n Heerskappy engel stap voor ons uit as ons loop na die plek waar die massa engele vergader het. As ons daar aankom vat Jesus die bal uit die Heilige Gees se hande uit en maak dit een met die bal in Sy hand.  Hy doen ook dieselfde met my engel se bal sodat Hy met een groot bal in Sy hande staan en oorhandig die enorme groot bal aan die Heerskappy engel waar hy intussen sy staan gemaak het voor ‘n groepie engele wat bygekom het, Owerhede engele. Die groot bal word opgebreek in sy hande en elke Owerheid engel kry ‘n deel daarvan, in hulle hande staan hulle elkeen nou met ‘n klein balletjie so groot soos ‘n krieket bal, nogsteeds helder geel, goue kleurige kristal/albaster balle. 
En dan staan ek in my kamer met Jesus en die Owerheid engele om my bed, nege van hulle. Jesus vra: “Skryf neer dit wat jou op hierdie oomblik wroeg, dit wat jou gedagtes so besig hou”.  Soos wat ek elke probleem op papier neerpen so verander ‘n bal in ‘n engel se hand in ‘n ander kleur.  Nege probleme vir nege engele met nege kleure, ek’s verstom. 
Ek sit so met die probleme in my hand en vra vir Jesus: “Maar U moet die probleme oplos, ek kan nie verstaan hoe engele hierdie probleme namens U gaan kan hanteer nie? Nog nooit het ek gedink dat hulle die wesens is wat dit hanteer nie, was nog altyd onder die indruk dat hulle net daar is vir beskerming”.  Jesus kniel voor my en antwoord: “Jy bring jou probleme na My toe, jy kom vra My om jou te help, dis My werk om die engele opdragte te gee, Ek sal sorg dat hulle weet die hoe, wat, waar en wanneer”.
Ek is so onmenslik lief vir hierdie Man voor my, Hy verstaan my so goed en Hy openbaar alles op ‘n vlak wat my brein kan inneem en kan verstaan.  Op so unieke simboliese wyse kom verduidelikheid Hy aan my hoe die engele werk.

Krag engele: Dan is ons terug by die denkbeeldige lyn en een van die kosmiese krag engele kom uit die miswolke gestap.  Jesus is vir ‘n oomblik net so groot soos die engel maar as hy sy hand na ons toe uithou om op te klim is Jesus weer mensgrootte.  Hy vat ons tot by die Jesus beeld in Rio de Jenero en laat ons op een van die beeld se uitgestrekte arms sit.  Dis ‘n besige straat wat ek onder ons sien maar ‘n pragtige plek, mense is gelukkig, gesellig en vrolik, terwyl ek nog die vroeë nag lewe bewonder vat die engel ons en stap met ons oor die stad na die see toe waar hy ons neersit op rotse.  Die engel sit hier langs ons op die berg met sy voete op die strand, hy buk vorentoe en roer die water van die see, geweldige golwe ontstaan en ek vrees dat as hierdie golwe die land moet bereik kan dit groot skade aanrig, maar hy keer met sy ander hand dat die golwe nie land toe moet gaan nie en breek dan weer die golwe dat dit kalm en rustig word.  Hy staan op en stap ver weg van ons af tot op die horison, as hy so staan besef ek dat hy vir iets wag.  En dan sien ek dit, instinktief het hy dit voel kom, die nabyheid van die bose.  In die Suide kom donderweer aan en net so groot demoon soos die engel kom daaruit gestap, hy steek ook ‘n fakkel aan en kom asof sy missie is om die engel en ons te vernietig.  Die engel het nou ‘n swaard in sy hand en hy beskerm nie net homself nie maar ook vir Jesus.  Die geveg duur nie lank nie, die engel kry vinnig die oorhand en slaan die vuurfakkel uit die demoon se hand uit, as die demoon ontwapen is slaan hy dadelik op vlug. Alles het so vinnig gebeur maar hierdeur kon ek ‘n idee kry van watse uitmuntende vegengele hierdie engele is, alleen is hulle nie net oor die natuur en kosmos aangestel nie maar ook vir verdediging.  Hy staan weer hier voor ons en vat ons terug hemel toe waar hy ons neersit by die denkbeeldige lyn.
Ek, Jesus, die Heilige Gees, my bewaarengel en die groot engel staan in ‘n lyn langs mekaar op die plek waar die pilare vroeër was en die Owerhede engele kom in gestap met die gekleurde balle in elkeen se hand. Maar nou het elkeen ook ‘n staf in hulle hande en is nogsteeds in wit geklee met ‘n donker gordel om die middel.  Jesus vat elkeen se bal uit hul hand en plaas dit in die groot engel se hand. As hy dit doen besef ek dat hierdie groot engel ‘n Krag engel is omdat hy die volgende lyn in die hirargiese orde vul.
Ons almal volg hierdie engel met die balle nogsteeds in sy hand tot ons weer in die tuin kom, saam bring Jesus my terug na my kamer toe.  Jesus vra dat ek die lys van probleme met ons Vader moet bespreek, God sal die engel taak om die probleme op te los, hy is by magte om dit te doen in opdrag van God. Die geheim is jy moet net vra, as jy nie vra nie kry jy nie, en tree die engele nie op.  Hulle staan en wag om ons tot diens te wees die oomblik wanneer jy vir God vra.

OPSOMMING:

•    Jy kom praat met God oor jou probleme, die Troonengele is in die onmiddellike teenwoordigheid van God. Elke probleem wat jy het word aan hulle opgedra, hulle is God se steunpilare.
•    Hulle gee die probleme oor en sien toe dat alles vlot verloop en oorhandig en deel take uit aan die Heerskappy engele wat opdragte tot die fynste detail uitvoer.
•    En op hulle beurt Owerhede engele taak om ons by te staan, wat elke probleem identifiseer en daarvolgens handel.
•    En as hulle hierdie oorhandig aan die Krag engele kan ek verstaan hoekom hierdie engele gesien word as die werkesels van die Hemel, hulle is uitstekende vegters, bewaar en beskerm die kosmos, nie net is hulle aangestel om oor die natuur te waak en te beheer nie maar ook is hulle daar om ons te beskerm en te dien.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking