17 Februarie 2014

Engele met ons

Engele met ons
2 Kor 10: 3-6 benadruk die feit dat Christene nooit sal verstaan hoekom die dinge met ons gebeur wat gebeur, indien ons nie die geestelike oorlogvoering ernstig opneem nie. Te veel Christene lag die realiteit van die bo-natuurlike af, te veel steur hulle nie aan die bestaan van die geestelike magte van God of die bose nie. Daar’s heeltemal te min Christene wat hierdie bo-natuurlike wêreld ontgin of wat nie ingaan om dit te ontrafel nie. Daar word te veel gewaarsku om nie betrokke te word in hierdie dimensies nie en daar word te veel mense getugtig omdat hulle die waagmoed het om hulle gawe in hierdie geesteswêreld te ondersoek.
Hopeloos te veel onkunde heers oor hierdie onderwerp ten koste van God se koninkryk en tot voordeel van Satan. God wil reeds hê dat ons moet verstaan hoe hierdie wêreld werk en hoe Hy dit alles aan mekaar gesit het tot beskerming en ondersteuning van ons. Dit is een van die redes hoekom Hy aan profete, engele op sulke bisarre maniere, kom openbaar het in die Bybel. As ‘n mens verstaan wat hierdie openbarings beteken, dan sal jy verstaan hoe dit alles werk. Maar hoe weet ons of al die inligting rakende engele waar en korrek is? Die grootste faktor is die werking van die Heilige Gees deur openbarings aan kerkvaders, gerespekteerde geestelike mentors, profete en ook gewone menseliteratuur soos die Bybel, apokaliptiese en historiese boeke word alles ingespan om die bestaan van engele te bevestig en te verduidelik. Hierdie mense probeer om engele se funksies vas te pen op grond van visoene wat ontvang is of deur die influistering van die Heilige Gees. En dan is daar natuurlik duisende mense se ooreenstemmende getuienisse wat deur die eeue opgeteken is wat vir ons ‘n bewys is dat die inligting waar en juis is. Maar daar is nog baie verskille rondom die hirargiese plasing en oor die uitbeelding van hulle take of funksies. Al wat engele kan en moet doen is om die pad oop te hou vir die bereiking van die saligheid vir ons mense. Dus ‘n beskermingsdiens in 'n uiters vyandige omgewing. Dit is egter belangrik om bewus te wees van die geskiedenis van die engele. Hoewel God aanvanklik alle engele geskep het, het ‘n sekere gedeelte van die engele afvallig geraak. God is steeds magtig bo hulle en hulle kan slegs bestaan in soverre God vir hulle bestaansruimte toelaat. Dit kan ook
vergelyk word met die geskiedenis van die mens. God is ook die skepper van alle mense. Maar as gevolg van die sonde van Adam word elke mens in sonde gebore (Ps 51:7). Sondige en on-wedergebore mense staan ook teenoor God in die sin dat hulle bestem is vir die ewige oordeel, maar dit beteken nie dat God die bose geskep het nie. Dit beteken wel dat God beide engele en mense met ‘n vrye wil geskep het. God het dus ‘n bepaalde vryheid gegee aan Sy skepping. Die Satan en sy magte staan dus inderdaad in stryd met God en Sy magte, maar God laat hulle slegs beperkte speelruimte toe. Daar sal ‘n dag kom wanneer God alle bose magte finaal gaan verslind (Op 20:9; Rom 16:20). As ons Open 7 reg verstaan kom maak God hier ‘n belofte dat Sy kinders nie die oordele van die eindtyd sal tref nie, dat engele Sy kinders sal merk en sal beskerm, as die seël van God op jou voorhoof is, hoef jy nie die basuine van oordeel te vrees nie. Daar is nege ordes, ek het volgens Kol 1:16 en Efe 1:21 gegaan en daarvolgens gewerk. Engele word 273 keer genoem in die Bybel, in 33 van die 66 boeke. In die Ou Testament word engele 108 keer in 18 boeke genoem en in die Nuwe Testament 165 keer in 15 verskillende boeke. Lees gerus die ander skrywes op die Blog wat handel oor engele en meer lig werp oor hul eienskappe en 'n paar interessante feite en openbarings wat mens kan verstom. 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking